Moes jy onlangs ’n langverwagte vakansie aan die Mediterreense kus of op ’n eiland kanselleer as gevolg van die wêreldwye pandemie, of droom jy maar net nog altyd van ’n witsandstrand iewers naby ’n wit en blou kalkpleisterhuisie? Moenie moed verloor nie, want jy kan steeds hier in jou eie land ’n onvergeetlike wegbreek geniet! Hier by LekkeSlaap weet ons hoe kosbaar vakansietye saam met jou geliefdes is en daarom het ons ’n lys met lieflike wegbreekplekke aan die Weskus saamgestel waar julle ook ’n eiland- of Mediterreense atmosfeer kan ervaar. 

Die pragtige Weskus is met kusdorpies vol bekoring bespikkel en van hulle spog selfs met witgekalkte huisies wat aan die Griekse eilande herinner. Die Atlantiese Oseaan mag dalk nie so warm soos die Mediterreense see wees nie, maar die helderblou water, ongerepte strande en weggesteekte baaitjies is nét so mooi hier aan ons eie kus!

Sugar Shack, Paternoster

Paternoster is een van die mooiste kusdorpies in Suid-Afrika en jy kan elke dag ’n uitsig oor die kobaltblou see by Sugar Shack geniet. Dié lieflike visserskothuis bied slaapplek aan ses gaste en as jy lief is vir kosmaak, is dit net die plek vir jou ─ die kombuis is met Le Creuset-potte en Kitchen Aid-toebehore toegerus. Daar is ook ’n kaggel langs die etenstafel, so julle kan alte lekker in die huis kuier as dit onweer buite is. Die kothuis spog ook met ’n terras met ’n see-uitsig, hangmat, ’n tafel en stoele. Dis net negentig meter vanaf die strand en naby die bekoorlike middedorp wat julle kan verken.


Sandpiper, Paternoster

As jy op soek is na ’n lekker kuierhuis teen die see, is Sandpiper nét die plek vir jou! Dié smaakvol versierde strandhuis vir agt het ’n beskutte houtdek met ingeboude braaigeriewe en ’n tafel met stoele. Jy kan ’n pragtige, ononderbroke see-uitsig van die dek af aanskou en die dae omkuier saam met jou geliefdes. Daar is ook direkte toegang tot die strand via ’n paadjie deur die plantegroei voor die huis.


Sea Castle 1, Paternoster

Sea Castle 1 is die ideale plekkie vir ’n romantiese wegbreek by die see! Dié oopplan-selfsorgwoonstel bied slaapplek aan twee gaste en het ’n braai en ’n lekker groot sondek vanwaar julle die uitsig oor die see en die talle vissershuisies kan geniet terwyl julle ’n skemerkelkie drink. Die woonstel is pragtig ingerig en spog met ’n losstaande bad waarin jy behoorlik kan ontspan. 


Na Genoeg, Paternoster

Om die beste ervaring in Paternoster te hê moet jy so naby moontlik aan die see bly en dis presies wat jy by Na Genoeg gaan kry! Dié strandhuis is teen die see in Die Kom geleë en is die ideale plek om dié dorpie behoorlik te ervaar. Die huis is geskik vir ses gaste en het alles wat jy nodig het vir ’n onvergeetlike wegbreek by die see. Jy kan ’n vars vissie oor die kole gooi en die pragtige uitsig vanaf die onderdakstoep aanskou.


Abalone Pool Villas, Paternoster

Vir ’n meer luukse kuswegbreek is Abalone Pool Villas se vyfster-eenhede dié plek vir julle! Daar is twee asemrowende villas met luukse afwerkings en moderne binnenshuise versiering ─ die vertrekke lyk omtrent soos kunswerke! ’n Butler bedien soggens ’n heerlike ontbyt en hy is op versoek beskikbaar vir ander maaltye en drankies. Die eenhede lei na ’n stoep met ’n swembad, braaigeriewe en die mooiste see-uitsig! 


Speelhuis, Langebaan

Speelhuis bied rustige verblyf in moderne oopplan-ateljees met ’n ononderbroke uitsig oor die turkoois see in Paradise Beach! Die eenhede het elkeen ’n balkon met ’n hangmat waar jy kan uitspan en braaigeriewe kan gereël word. Die eenhede lei ook na ’n afgeleë strand waar jy kan sonbaai en in die klein branders baljaar. Die omgewing is bekend vir vlieërbranderplankry, so bring gerus jou toerusting saam.


Kraalbaai Luukse Huisbote, Langebaan

As jy op soek is na ’n unieke ervaring, hoef jy nie verder as Kraalbaai Luukse Huisbote te kyk nie. Dié huisbote is in ’n strandmeer in die Weskus Nasionale Park geanker en bied jou die geleentheid om in styl op die water te bly. Daar is vier huisbote van verskillende groottes om van te kies en elke huisboot het ’n kombuis, ’n badkamer met ’n spoeltoilet, stort en wasbak, ’n sitkamer met ’n kaggel en ’n dek met sitplek. Jy het nie bootvaar-ervaring nodig om hier te kom bly nie, aangesien die huisbote permanent geanker is. 


Club Mykonos Resort Langebaan, Langebaan

Hierdie oord staan al vir jare as Suid-Afrika se Griekeland bekend en ons kan verstaan waarom! Dié kleurvolle woonstelle op die strandmeer se oewer skep ’n lieflike, Mediterreense atmosfeer en bied gerieflike verblyf vir ’n vakansie by die see! Daar is verskeie selfsorgwoonstelle om van te kies en die oord spog met geriewe soos ’n spa, ’n putt-putt-baan, tennisbaan, bootvaarte, ’n swembad en restaurante op die perseel. 


Beach House on Fairway, Langebaan

Dié selfsorg-vakansiehuis bied ’n ruim wegbreekplek aan ses gaste. Dit is gerieflik ingerig met alles wat julle nodig het vir ’n vakansie by die see, en daar is verskeie kuierareas, insluitend drie braai-areas en ’n swembad. Die huis is langs ’n gholfbaan, so bring jou stokke saam en geniet ’n rondte gholf tussen die wild wat op die baan woon. Die huis word omring deur velde vol veldblomme, so dit voel asof jy ver van die stad af is.


Bamboesbaai Beach House, Jacobsbaai

Jacobsbaai is een van die Weskus se skatte en is die tuiste van Bamboesbaai Beach House. Hierdie luukse strandhuis skuil teen die water in dié stil kusdorpie en bied slaapplek aan dertien gaste! Die ruim uitleg laat gaste toe om hul eie spasie te hê en julle kan lekker op die stoep met ’n ingeboude braai en ’n onbelemmerde see-uitsig kuier. 


Daar het jy dit nou! Jy hoef nie heeltemal van jou Mediterreense avontuur te vergeet nie ─ jy kan dit sommer hier aan die Weskus ook ervaar!

Hooffoto: Sugar Shack (LekkeSlaap)