Vakansie met LekkeSlaap bied jou die geleentheid om stil te word en die sonsondergang te aanskou  iets waarvoor mens nie noodwendig in die alledaagse gejaag tyd kry nie. Daar is iets ongelooflik aan ’n sonsondergang en siende dat dit net ’n paar minute duur, is dit iets wat mens vir ewig wil vasvang. Dis waarom ons dié lekke gids saamgestel het: om jou te help om ’n skouspelagtige sonsondergang suksesvol op kamera vas te vang.

Die ‘waar’ is net so belangrik soos die wanneer

Dit is belangrik om vooraf die plek te kies vanwaar jy die foto’s wil neem. ’n Plek met ’n mooi uitsig ─ langs ’n groot watermassa, die bopunt van ’n heuwel of berg, of ’n groot, oop veld ─ werk altyd goed. Probeer ook ’n plek kies waar jy die son op verskillende plekke in die lug kan vasvang. Die son verdwyn binne ’n kwessie van minute agter die horison, so daarom is dit beter om vooraf te weet presies waar jy jou foto’s wil neem.

Moenie dat die weer jou keer

Hou die weer in gedagte ─ die beste sonsondergangfoto’s word byvoorbeeld geneem as dit die dag gereën het. As daar nie wolke is nie, hoef jy nie noodwendig jou kamera byderhand te hou nie. Wolke maak pragtige, interessante patrone in die lug wat unieke karakter aan ’n andersins saai foto verleen.

Twee vir die prys van een

Moenie oorhaastig wees om jou kamera af te skakel nie ─ van die beste sonsondergangfoto’s word geneem ná die son reeds onder die horison is. Dit is die kleure van dié “tweede sonsondergang” wat jy eintlik op kamera wil vasvang! Jy kan nog tot 30 minute ná sononder fantastiese kiekies neem.

Vind ‘n fokuspunt

Dis belangrik om die derdesreël in gedagte te hou. Dié reël behels dat elemente soos die horison, son en silhoeëtte nie in die middel van die foto moet wees nie. As die sonsondergang besonders is, stel ons voor jy plaas dit in die onderste derde van die foto, maar as die lug nie kan kers vashou by die landskap nie, plaas jy die sonsondergang in die boonste derde van die foto. 

Probeer ’n interessante fokuspunt in die voorgrond van jou foto plaas ─  dit help om diepte te skep. Nog ’n idee vir unieke foto’s is om ’n voorwerp voor die son hou.

Kyk ‘n bietjie rond

Sonsondergange lyk nie net lieflik by die einder nie, maar skep ook pragtige, goue ligstrale en reënboogskakerings rondom jou. Hou dus jou omgewing dop – miskien sien jy iets selfs mooier as die sonsondergang raak! Dis ook die perfekte tyd van die dag om vleiende foto’s van geliefdes te neem.

Soek jy die perfekte plek vir jou eie sonsondergangfoto? Kliek hier om te sien watter plekke LekkeSlaap bied.

 

Hooffoto: South African Sunset deur Hello/Yebo (Flickr)