Nicolaas Pieter Johannes van Rensburg is op die 30ste Augustus 1864 op die plaas Palmietfontein naby Potchefstroom gebore. Hierdie tipe stories word gewoonlik ʼn bietjie gekrui met versinsels oor die wyse waarop so ʼn persoon in die lewe gekom het – Genghis Kahn is blykbaar met ʼn bloedklont in die hand gebore en daar word gefluister dat al die voëltjies in Noord-Korea spontaan in Koreaans begin sing het toe Kim Jong-il sy eerste slukkie moedersmelk gevat het. Maar volgens oorlewering was daar niks wat vir Willem Jocobus Janse van Rensburg of sy vrou, Anna Catherina, gewaarsku het dat dié skrouende frommelgesiggie op hulle klapperhaarmatras bestem was om Siener van Rensburg, persoonlike raadgewer van Generaal de la Rey en President Steyn, te word nie …

Stap saam met my in die spore van hierdie mystic boer. Kyk hoe lyk die grasvelde wat hy onder die rand van sy verflenterde hoed betrag het. Kyk waar hy in ʼn tent gelê en stoei het met die koorsdrome en visioene wat uiteindelik die ore van ʼn generaal en ʼn president bereik het, en sodoende die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis verander het. Vind ʼn bietjie uit waar hy en die Leeu van die Wes-Transvaal ‘n pyp gerook het. Kom verken saam met LekkeSlaap die Noordwes se doringbome, die Vrystaat se kosmosblomme en die stories van Boere en hulle roere, en sien watter natuurtonele oor hierdie godvrugtige man se pad gekom het.

Die Siener se Eerste Treë

Toe Siener nog net as Niklaas bekend gestaan het, het hy homself vir ʼn wyle (net 20 dae, om presies te wees) in Rooipoort Plaasskool bevind. Twintig dae is bitter min, so toe Niklaas sy boeksak ophang om sy pa se beeste te begin aankeer, was hy nog ‘n volslae analfabeet.

Span jou osse uit onder ʼn skaduboom (of parkeer jou Toyota onder ʼn motorafdak)  by The River Cottage, naby Potchefstroom. Gaan wandel ʼn entjie in die weiveld in die wete dat klein Niklaas hier rondgeloop het terwyl die letters en woorde, wat sy moeder hom saans uit die Bybel probeer leer het, voor sy geestesoog swem.

Niklaas word Siener

Een dag voor die Tweede Anglo-Boereoorlog het ʼn visioen die 35-jarige Niklaas laat regop sit in sy katel. ʼn Gedaante het voor hom verskyn en vertel dat die onvermydelike oorlog teen die Engelse die volgende dag sou uitbreek. Die spraaksame gees het ook beweer dat Niklaas God se boodskapper vir die Boere sou wees. Toe die hersenskim uiteindelik begin verdamp, het sy hande so gebewe dat hy gesukkel het om sy pyp op te steek. Siener en sy broer is die volgende dag opgekommandeer om by Generaal du Toit aan te sluit vir die tweede stryd teen die Britse Kroon. Die arme man was egter nou ʼn volslae senuweelyer en sy angsaanvalle het hom so gekniehalter, dat sy bevelvoerder hom kort na sy aankoms op Kimberley terug huis toe moes stuur.

Bekyk die landskap waar alles te veel geraak het vir die jong waarsêer. LekkeSlaap het vir jou ‘n kothuis op ʼn wildplaas buite Kimberley waar die wêreld nog presies lyk soos in die Siener se dae. By Sisibala Kothuis kan jy gaan soek vir die doringboom waaraan die mystic boer sy perd vasgemaak het en rustig kyk hoe die wildsbokke wei.

Siener kry sy varkies op hok

Siener van Rensburg se broek het bly bewe – nie eers sy vrou se kruietee kon hom laat bedaar nie. Sy ma se boererate was uitgeput en Siener het toe maar opgesaal om vir ʼn tweede keer aan te sluit by sy makkers wat op daardie stadium gewikkel was in die Beleg van Kimberley. Die deursigtige gesant wat vir van Rensburg so aan die pen laat ry het, het hom natuurlik soos ʼn skaduwee gevolg. Toe Siener se alsiende oë die Boere se verkenners tussen die droë bossies buite Kimberley gewaar, het die beelde in sy gefolterde hoof hulleself op so ʼn manier gerangskik dat hy die volgende akkurate voorspelling kon maak: Die Boere sou die oorlog verloor en die aarde sou verstik in die bloed van al die gesneuwelde soldate.

Die spinnerak van senuwees waarin Siener van Rensburg verstrengel was, het uiteindelik begin skiet gee na ʼn op-die-nippertjie-visioen wat hom gewaarsku het dat die boer wat langs hom ry, gewond sou word. Hierdie visioen was só akkuraat en het só duidelik verband gehou met sy makker se onmiddellike noodlot, dat die Siener nie meer getwyfel het oor sy roeping nie. Sy angsaanvalle was iets van die verlede en sy loopbaan as reisende raadsman het afgeskop.

Die treurwilgers van Rhino Creek Estate in Roodewal was die stille aanhoorders van Siener van Rensburg en President Steyn se strategie-gesprekke. Gaan bly in  een van die luukse kamers op hierdie landgoed, neem jou flitslig saam en gaan stap een nag ʼn bietjie in die maanlig rond. Verbeel jou jy hoor die gedempte redevoering tussen die staatsman en die nederige boer êrens tussen die spookbosse en swart skelette van bloekombome teen die sterrehemel.

Siener droom van sy gesin

Net ʼn paar dae nadat Siener van Rensburg by Koos de la Rey aangesluit het, is hy beleër deur ʼn stel beelde wat ʼn uiters ontstellende boodskap gespel het – sy vrou en kinders se polse in Britse boeie! De la Rey het nie in sy pad gestaan toe hy sy perd opsaal om sy gesin te hulp te snel nie. Hy was net-net betyds en dit het gelyk of sy visioene, deur die genade van die Vader, nie sou waar word nie. Maar die mystic boer se voorspellings was ongelukkig nie heeltemal onakkuraat nie. Weens ʼn paar ruggraatlose verraaiers het die kakies die stadige wa waarin sy ouers, oudste dogter en twee jonger kinders gevlug het, voorgelê en summier na die Mafikeng-konsentrasiekamp gesleep.

Siener, sy vrou en sy ander drie kinders het ontvlug en hy het weer aangesluit by De la Rey. En nou moes die arme voorspeller probeer om te onderskei tussen al die beelde van die verskriklike hede, beelde van sy verhongerde ouers en kinders wat ly agter doringdraad, en sy toekomsvisioene. By Tapologo Lodge kan jy gaan kyk waar Siener in sy geestesoog gedwaal het op soek na sy kinders tussen al die verslete tente. Neem die R49 na Mafikeng (deesdae Mahikeng) en gaan kyk hoe lyk die wêreld waar Siener van Rensburg se familie so gely het.

Siener red Steyn se bas

In die middel van Oktober 1901 is Siener uiteindelik met die res van sy familie herenig. Sy ouers het die masels-epidemie in die Mafikeng-konsentrasiekamp oorleef, maar die Engel van die Dood het nie gehuiwer voor die tent waarin sy twee dogters gelê het nie. Sien jy hoe Siener en sy vrou staan op die verskroeide gras voor die geraamte van ‘n opstal wat ʼn jaar terug nog hulle huis was? Sien jy hoe die kleur syfer uit sy verbeelding en hoe daar vir hom geen vertroosting of voorspellings is in die oogkasse van die kopbeen wat na hom staar nie?

Toe De Wet, Hertzog en President Steyn kort voor die einde van die oorlog by Generaal de la Rey se hoofkwartiere naby Klerksdorp aankom, het die generaal met die beneukte oë onmiddelik sy raadsman ontbied om die president se geestelike lyfwag te wees. President Steyn het die Siener se stories maar altyd met ʼn knippie sout geneem. So toe die “mal monnik” van Suid-Afrika op die 23ste Oktober in ʼn beswyming sien hoe die Union Jack in Klerksdorp wapper, het Steyn net sy skouers opgehaal en seker gedink: “Ons mistikus vreet te veel veldsampioene”. De la Rey het egter ingetree en toe Koning Edward VII se ruiters die oggend van die 25ste op die horison verskyn, was die president maar te dankbaar dat hy voor die generaal se bulderende blik geswig het.

Aanwins Budget Stays het vir jou ʼn sinkdak-slaapplekkie langs die grasveld buite Klerksdorp. Bring vir jou ʼn kampstoel saam en sit vir ʼn rukkie doodstil onder een van die Bloekombome. Verbeel jou jy hoor hoe Generaal de la Rey sy pyp teen die boomstam uitklop en vir sy sagaardige raadgewer vra om die twaksak aan te gee.

Siener se kop tref die ewige kussing

Voor die  einde van 1914 sou Nicolaas Pieter Johannes “Siener” Janse van Rensburg nóg ʼn seun aan die grondlustige Engelse vlag verloor, keer dat Generaal Kemp op 31 Maart 1902 deur die Britse magte omsingel word by die Slag van Hartsrivier én aansluit by die rebelle wat aan die Duitse kant van die Eerste Wêreldoorlog wou veg. Die gesigte wat hom aangeraai het om aan te sluit by die handjie vol krygers wat opgemars het na Duits-Suidwes-Afrika, net om binne ‘n paar dae gevange geneem te word, was uit die aard van die saak ʼn bietjie verward. En hierdie laaste, onbesonne onderneming het heelwat skietgoed gegee vir die ongelowige Thomasse wat die Siener se profesieë met ironiese glimlagte aangehoor het. Na die oorlog is Siener van Rensburg en sy vrou terug na hul plaas Rietkuil toe, waar die helm waarmee hy gebore is die beelde ongestoord sy hoof bly inpomp het. Net die dood kan die helm van heldersiendheid afhaal, en toe die Siener, op die ouderdom van 61, sy swaar kop uiteindelik neerlê, is sowat 700 visioene opgeteken. Volgens die Siener se volgelinge lê die toekoms in van hierdie beelde opgesluit. Ander boere, soos Deneys Reitz van ouds, vermoed Niklaas was maar net ʼn skrander kansvatter met besondere insig in die kakies se krygskuns en te veel Bybelverse in sy kop. Hierdie tipe stories stel ʼn mens maar altyd voor die volgende keuse: gaan ek glo soos Ester of twyfel soos Thomas?

 

Van links na regs: President Steyn (boereafrikana.com), Siener van Rensburg (sienervanrensburg.wordpress.com), Generaal de la Rey (wikipedia)