“Ek bring vir jou blomme, ek gee jou genot, ek leen jou my bicycle sonder ’n slot,” sing Koos Kombuis op sy album Elke boemelaar se droom. Dié lirieke spreek van tipiese Koos-romanse en ek het lank oor dié bekende liedjie getob. Toe tref dit my: In ’n hedendaagse Suid-Afrika is die volmaakte vorm van vertroue om vir iemand ’n fiets sonder ’n slot te leen en te vertrou dat jy die fiets gaan terugkry. In retrospek besef ek ook dat my partner-in-crime dieselfde vertroue in my moes plaas toe ek ’n valhelm in haar hand stop en vir haar ’n onbekende fiets sonder ’n slot opsaal.
Sowat 20 jaar gelede het ek my eerste rooi fiets op ons tennisbaan leer ry. Dié fiets het nie ondersteuningswieletjies gehad nie en ek moes vinnig leer ry. Die eerste probeerslag het vir 20 meter vlot verloop en toe’s ek reguit in die muur vas. Ek het begin dink die fietsry-storie is glad nie vir my beskore nie en daarom het ek vir Marelize ook baie begrip. Jare het verby gegaan en die fiets het altyd deel van my lewe gebly. Koue wintersoggende op Potchefstroom het my ywer om 08:00-klasse by te woon amper in die wiele gery, maar my fiets se bereidwilligheid om te ry het my oortuig om tóg maar te begin trap en gevolglik kon ek graadvang. Ná my universiteitsjare moes ek as jongwerkende begroot vir dinge soos petrol en het gou agtergekom dat die petrolprys enige begroting omvergooi. Dis soveel makliker om net op die fiets te spring en te trap ─ as jy fiks is. Dis ook ’n lekker uitstappie om saam met ’n geliefde aan te pak en in die proses leer jy nogal baie van jouself en jou aandadige ─ die romanse van geleende fietse, pikkewyne, biere en Jan Alleman op die pad tussen stopstrate en karre se gejaag.
’n Saterdagoggend in die normale mens se lewe beteken laatslaap, laaglê en ontspan. Dit proe soos varsgemaalde vroegoggendkoffie en eiers wat in die pan bak. Honde wat jou wakker maak om uit te gaan en vroegoggend-kommentaar, oftewel rugbyvoorspellings.
(On)gelukkig is ons soms nie die normale mense nie. Ons oggend is sonder ’n koppie koffie, spek en eiers, maar eerder met fietse waarmee ons vanaf Vishoek na Simonstad moet ry. Fietse sonder daardie gemaklike fietsrybroekies wat die nodige ondersteuning bied en my medewaaghals se heel eerste woorde bly my by: “Beteken dit dat ons self moet trap!?” Dis nie een van hierdie e-fietse nie, néé, net gewone fietse met pedale, harde sale en Koos Kombuis se lirieke wat lewe kry.
Die oggend is veel kouer as wat ek gedink het en ons eerste stop is by ’n plaaslike winkel met ’n stukkende kaartmasjien om iets warmer te kry sodat die pad vorentoe nie te onplesierig raak nie. Van daar af gaan dit voor die wind, al langs die kus, op pad na die land van pikkewyne, buitelanders en Devil’s Peak-boetiekbier.
Die tweede skof neem ons verby klein strandjies tot in Simonstad waar ou geboue en antieke winkels soos stories lyk ─ stories oor grootwordjare in die pragtige vlootdorp. Daar is honderde kameras wat vir die ou geboue flits en die restaurante by die hawe is propvol besoekers wat vis en tjips geniet. Van die hawe af beduie ’n sekuriteitsbeampte vir ons in watter rigting ons moet ry om by die pikkewyne uit te kom en ons trap tot by die alombekende Boulders Beach. Hier klim ons uiteindelik van die saal af en soos twee onfikse fietsryers stoot ons die fietse tussen die mense deur. In die oomblik tref Koos Kombuis se lirieke my vierkantig tussen die speke ─ ons bicycles het nie slotte nie! Ons stoot ons fietse deur Boulders Beach se poort en die dames by die hek is gaaf genoeg om na ons fietse te kyk terwyl ons vir ’n oomblik net weer ons voete gebruik. Ons koes deur al die toeriste om die pikkewyne van nader te bekyk ─ honderde van hulle wat voor die kameras poseer. Omdat ek gedurig lirieke aan ervarings koppel, dink ek weer aan Antibiotika van Fokofpolisiekar ─ ek het werklik soos ’n “toeris in my geboorteland” gevoel. ’n Paar foto’s later en ons is weer met die fietse terug hawe se kant toe.
Vis en tjips saam met ’n Devil’s Peak-bier klink glad nie te versmaai nie en ons moet weer eens ’n veilige plek soek om ons fietse te bêre, maar dis darem heel veilig. Harbourview Restaurant bied ’n uitsig oor die hawe en daar is ’n gedruis van mense wat by die hawe rondwandel, mense wat foto’s neem en seemeeue wat in kringe om die bote draai. ’n Vol maag is net wat ons nodig het om die pad terug Vishoek toe aan te durf en dis in hierdie stadium wat my knieë in Simonstad wou agterbly ─ ek sal dit nooit sê nie, maar ek het amper ’n taxi gebel. Ek het egter my trots in my rugsak gepak, in eerste rat weggetrek en dis in eerste rat wat ek rustig kon trap terwyl die karre op die kuspad verbysnel.
Só ’n dag kan uitputtend raak, en toe ons die laaste afdraande net voor Vishoek tref het ek met alle erns besef dat ek nié binnekort die Cape Epic gaan aandurf nie. Die roete wat ons gekies het is vir Jan Alleman sonder ’n fietsrybroek of ’n padkaart en enigeen kan saam met ’n geliefde of ’n groep, die Kaap of enige deel van ons land verken. Dis ’n poging om weer te fokus op mense en dinge om ons wat ons nie noodwendig in die verkeer se gejaag sal kan raaksien nie. Die roete is ’n arbitrêre keuse en vorm deel van ’n ervaring wat eie aan elke fietsreisiger is. Ek dink weer aan die man op sy volgelaaide fiets wat Lydenburg toe mik en waarby ek in die verlede net verby sou jaag ─ dié keer is ons daai ou onderweg na wie-weet-waar. Die hele roete is ongeveer 20 kilometer, wat glad nie vêr is nie en die duur van die reis hang af van wat jy als wil verken.
Hiér is ’n handjievol wenke vir die gemiddelde fietsryer wat naweke vir ontspanning plekke wil verken:
- Hou die weer dop ─ nat en winderige toestande is nie ideaal vir ’n daguitstappie nie.
- Maak seker julle het darem ietwat gemaklike klere ─ jeans en vellies gaan nie so goed werk nie. ’n Fietsrybroek met sponsies is beslis voordelig as jy enigsins die volgende dag wil sit.
- Pak lig ─ ’n rugsak met ’n piesang, beursie en ’n waterbottel is voldoende.
- Maak seker jou fiets het ’n slot ─ dis ongemaklik om heeltyd oor jou skouer te loer as jy eintlik die omgewing wil verken.
- Neem foto’s ─ mens vergeet dikwels om dit net te geniet. Neem elke oomblik in en lag na die tyd.
- Indien jy nie so gelukkig soos ek is om ’n fantastiese fietsgennoot te hê nie, is dit nog steeds belangrik om jou medereisiger goed te kies. Dit maak die dag en die avontuur die moeite werd.
Omdat ons bicycles se slotte vermis was, het dit ’n eindelose avontuur gebied en daar is nog ’n klomp plekke wat ons op dié manier wil verken. Ons bicycles is nog lank sonder slot “en ek moes net vir jou sê ek het jou lief soos die Kaap”.
As jy ook in die Kaap-omgewing op ’n fiets wil rondrits en Simonstad as basis wil gebruik, bespreek gerus die volgende blyplekke deur LekkeSlaap:
Hooffoto: Altus Booysen