Franschhoek is as’t ware ons eie stukkie Europa en die naweek van 16 en 17 Julie 2016 word daar ook ’n Franse fees in dié pragdorpie gevier. Danksy Franschhoek se Franse flair is dit die perfekte romantiese bestemming, maar by die 23ste Bastille-fees wat dié naweek gevier word, sal die héle gesin hul gate uit geniet. Hierdie dutjiesdorp tussen die wingerde staan al ’n hele paar jaar as Suid-Afrika se fynproewersmekka bekend en spog met van die beste sjefs en wyn in die land. LekkeSlaap wys jou wat om by dié jaar se Bastille-fees te verwag en waar om te bly as jy dié besonderse dorpie behoorlik wil verken.

Bastille-dag, die Franse se Fête Nationale op 14 Julie, is die dag waarop die Bastille-tronk gedurende die Franse Rewolusie bestorm is. Dit is geen verrassing dat dié herdenkingsdag ook in Franschhoek ─ met sy kenmerkende Franse oorsprong ─ gevier word nie. Tydens die fees word die ganse dorp in rooi, wit en blou getooi en feesgangers word ook aangemoedig om Franse kleure en berets aan te trek.

Die fees se fokuspunt is die kos- en wyn-markiestent by die Hugenote Monument waar feesgangers elke jaar bekroonde wyne proe en aan top-sjefs se watertandlekker disse smul terwyl hul die musiekvertonings geniet. As jy ook op soek is na ’n fynproewerservaring, maar die middedorp dié naweek ’n bietjie te bedrywig is na jou sin, kan ons ’n High Tea en wynproesessie by Anthonij Rupert Wines net buite die dorp aanbeveel.

Nadat jy jou trommeldik aan al die fynproewerskos geëet het, kan jy na nog ’n rits items op die feesprogram uitsien. Porcupine Ridge se wynvatrol-kompetisie is altyd ’n groot trekpleister en daar is ook ’n speelpark vir die jongspan waar hulle na hartelus kan baljaar terwyl Ma en Pa aan die vallei se topwyne teug.

Die Marché de Franschhoek is ook baie gewild. Hiervoor word die stadsaal omskep in ’n Franse mark met ’n groot verskeidenheid kossoorte, produkte en huisgoed te kies en te keur!

Tog is die Bastille-fees nie net vir fynproewers nie ─ sportentoesiaste sal ook by dié naweek aanklank vind. Die jaarlikse boules, oftewel rolbalkompetisie, is die grootste van sy soort en laat dié sport sommer baie opwindend lyk! Daar is ook ’n kelner-resies, straatsokker, kunsvlieghengelkompetisie, ’n veldwedloop en ’n bergfietsresies waaraan jy deur die loop van die naweek kan deelneem.

Klink dit dan nou nie na vet pret nie? Kliek gerus hier om die feesprogram te sien en hier om jou kaartjies te koop.

Ons kan die Franschhoek Boutique Hotel vir enige besoek aan dié bekoorlike dorpie aanbeveel. Dis veral ideaal vir ’n romantiese wegbreek of vir verblyf gedurende die Bastille-fees, want dis stapafstand van alles in die dorp af. Ons het self by die Franschhoek Boutique Hotel gaan bly en kan julle verseker: Dis nie net die hotel se ligging wat puik is nie!

Dié hotel bied alles wat jy van ’n luukse blyplek verwag ─  komplimentêre sjampanje met aankoms, ondervloerse verhitting en perkallinne … Tog is die atmosfeer so huislik, gesellig en die personeel so vriendelik dat dit nie die stywe, onpersoonlike atmosfeer van ’n tipiese luukse hotel het nie.

Die kamers se uitsigte is ongelooflik en ons was mal oor die lugtige gevoel wat deur die groot vensters geskep is. Die dekor was modern en statig, sonder om oorweldigend te wees en die bed was natuurlik absoluut hemels ─ maar die goeie verblyf-ervaring wat dié hotel bied, stop beslis nie by ’n goeie nagrus nie!

Die volgende oggend se ontbyt was een van die smaaklikste hotel-ontbyte ooit. Die Kontinentale ontbyt-opsies word as ’n buffet voorgesit, maar die warm ontbyt is à la carte en word spesiaal en vars vir elke gas voorberei. Die res van die dag se proviand behoort ook nie ’n probleem te wees nie, siende dat daar ’n enorme verskeidenheid restaurante op jou drumpel is.

So, as jy self wil sien waaroor die bohaai gaan, bespreek nóú jou lêplekkie by die Franschhoek Boutique Hotel en kom kyk hoe dié dutjiesdorp tydens die Bastille-fees ontwaak. Dit is immers wanneer Franschhoek op sy “Fransste” is!