Tussen die berge van die ongerepte Oos-Vrystaatse hooglande skuil ʼn juweel waar vyfsterverblyf en ‘n asemrowende landskap saamspan om jou droom-wittebrood te bewaarheid. Wild Horses Lodge is ʼn wegbreekplek in die Noordelike Drakensberg waar beide gemak en avontuur gewaarborg word. Dit bied ook ietsie meer vir die wittebroodpaar wat nie net die gewone ou bed en ontbyt soek nie.

Wild Horses Lodge is geleë in die Sterkfontein-natuurrerservaat aan die voet van die pragtige Drakensberg-platorand. Dit is ook byna op die voorstoep van Johannesburg, Bloemfontein en Durban en maar net 40 km van Harrismith af. Wittebroodpaartjies hoef dus nie vêr te reis vir die wittebroodpret om te begin nie.

Dié ultra-luukse lodge het ʼn panoramiese uitsig oor die majestueuse Platbergberge en die Sterkfonteindam. Die argitektuur is ʼn meesterstuk van  sandsteen wat plaaslik ontgin is en soomloos in die Hooglande verdwyn, dog ook uitstaan! Die lodge bied luukse akkommodasie, uitgesoekte fynproewerkos en ʼn verskeidenheid doendinge gesentreer rondom die dam en die oorvloedige wildlewe op die reservaat en in die omgewing. Dit is die ideale plek om te terug te sit met ʼn bottel sjampanje, op ʼn buitelugavontuur saam jou geliefde te gaan, of in styl bederf te word.

Wees gerus, die lodge is gebou met die doel om in geleef te word en hiér sal jy niks meer benodig nie: dit bied ʼn kombuis, sitkamer en kroeg-area en wonderlike uitsigte vanuit al die vertrekke. Die eetkamer loop uit op ʼn stoep en daar is ook ʼn biblioteek, wynkelder, koidam, randvloeiswembad, roostuin en ʼn inheemse tuin om te geniet.

Wild Horses Lodge glo dat ware luukshede gemeet word aan subtiele detail, meubilering en dekor. Snags sal ʼn nagsopie vir jou op jou bedkassie wag en soggens kan jy ʼn varsgebakte beskuit saam jou koffie geniet. Jy sal gou sien waarom dié lodge vyf sterre agter sy naam het.

Lus om die Vrystaatse-buitelug in te asem? Die Midlands Meander, die Drakensberge of Clarens bied genoeg buitelug-doendinge om elke wittebroodpaartjie te pas.

Wat wittebroodpakkette aanbetref, kan min bestemmings kers vashou by Wild Horses Lodge. Skoonheid, romanse en diverse doendinge wag hier op jou. Van ʼn rustige, privaat wittebrood tot ʼn avontuurlustige paar dae saam jou beter helfte. En as jy dink dat jy vêr van die lodge af moet reis om bietjie uit te kom, is jy verkeerd. Daar is meer as ʼn handjie vol doendinge op die perseel.

 Doendinge op die perseel en in die reservaat:

  • Spa-behandelings in jou eie, privaat suite
  • Bootvaarte op die Sterkfonteindam
  • Privaat wandelpaaie in die reservaat (met ʼn smaaklike piekniekmandjie wat deur ons sjef voorberei word)
  • Perdritte in die reservaat
  • Kunsvlieghengel in die Sterkfonteindam (geelvis)
  • Wildkyk in die Sterkfontein-natuurreservaat
  • Privaat etes in die privaat gazebo met ‘n oor die Sterkfonteindam
  • Sonbaai langs die randvloeiswembad
  • Leesboeke en DVD’s is beskikbaar by die biblioteek

Doendinge in die omgewing:

Die Drakensberg bied ʼn magdom aktiwiteite en hier is werklik iets vir almal. Die lodge tref graag namens jou reëlings vir spesifieke aktiwiteite of avonture. Doendinge in die omgewing sluit in:

  • Verken die Drakensberg met sy menigte valleie en grotte. Reis deur die noordelike, sentrale en suidelike berge, of besoek Clarens (ʼn ouwêreldse dorpie wat sonder twyfel een van ons land se mooiste dorpies is). Die Drakensberge is ook wêreldwyd bekend vir sy San-kuns – met meer as 550 verskillende plekke om dié antieke kuns te besigtig.
  • Voetslaanpaaie: Die Drakensberg is ʼn voetslaner se droom, so waarom nie self een van die voetslaanroetes verken nie? Met roetes vir beginners en vir die wat ernstige stapstewels wil saambring.
  • Bergfietsroetes is oral te vind in die berge, beide vir beginners en ervare ryers. Al wat jy nodig het, is jou eie fiets en waterbottel.
  • Riviervlotvaat, abseil, bergklim en vierwielmotorfietsritte wag op jou. Kom geniet die berge, riviere en bergpaaie!
  • Gholf: Gholfliefhebbers kan saam met hul geliefdes by die Cathedral Peak-, Chamgagne Valley-, of Hlalanathi gholfbane (9 of 18 putjies) afslaan. Harrismith Golf Klub is klipgooi vêr en is die derde oudste gholfbaan in Suid-Afrika.
  • 4×4 roetes: Bring jy jou kanniedood-ryding saam? Goed so! Geniet die ongerepte landskap deur die Sani-pas of Mike’s-pas by Cathedral Peak uit te ry en staan in verwondering voor die uitsigte.
  • Visvang: Kamberg Natuurreservaat is ʼn bekend onder kunsvlieghengelaars vir sy fantastiese forel en beide groentjies en bobaas-kunsvlieghengelaars keer telkens terug na sy waters. As rivierhengel jou forte is, kan jy by Kamberg, Royal Natal, Injisuthi, Cobham, Garden Castle, Giant’s Castle en Lotheni aanklop. Of gaan maak ‘n draai by Kamberg, Royal Natal, Highmoor en Lotheni as jy jou lyn eerder in ‘n dam wil natmaak.
  • Spa-behandelings: Die Body Bliss Dagspa is geleë in die Kiara Reservaat net buite Clarens. Hulle bied ʼn verskeidenheid behandelings wat jou sal pamperlang, insluitend gesig-, skoonheid-, en versoringsbehandelings. Masseer- en spesialiteitspakkette is ook op die spyskaart. Die lodge sal graag ʼn bespreking namens jou maak.

Geriewe by Wild Horses Lodge

As jy gewoon die lodge met sy rus en vrede wil geniet, sal jy nie gesteur word nie. Sonbaai langs die swembad met sy uitsig oor die Sterkfonteindam, wandel deur die inheemse tuin en roostuin of hou die koivisse in hul koel damwaters dop. Alles is gedoen om jou verblyf by Wild Horses Lodge so gemaklik en sorgry as moontlik te maak.

  • Fynproewersgeregte wat jou mond sal laat water, word in die eetkamer bedien. Groot oopvoudeure loop uit op die stoep wat uitkyk oor die Sterkfonteindam en die lodge se pragtige tuine. Etes word beide in die eetkamer en op die dek bedien. Smul aan ʼn kontinentale ontbyt of ʼn vol Engelse ontbyt en geniet ʼn ligte middagete en driegangmaaltyd vir aandete. Gaste kan ook hul eie bottel wyn uit die lodge se privaat wynkelder kies.
  • Bespreek ‘n massering vir jou eie suite.
  • Die biblioteek het ʼn groot verskeidenheid leesboeke.
  • Gaste kan lekker in die leefkamer met ondervloerse verhitting, DStv, internettoegang en faksgeriewe ontspan.
  • Die lodge het 24-uur sekuriteit en ʼn geweerkluis.
  • WiFi en goeie selfoonopvangs.
  • ‘n Pendeldiens is beskikbaar na en vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe en King Shaka Lughawe in Durban.

Wittebroodpakket

Die Lovers Bliss wittebroodpakket is ideaal vir die duifies wat op soek is na intimiteit en afsondering.

Hierdie 3-nag pakket sluit in:

  • Dag 1: ʼn Intieme ete in die wynkelder of ʼn buitelug-ete op die dek.
  • Dag 2: ʼn Rustige voetslaanuitstappie en ʼn massering vir julle albei by die Cellubeauty Spa.
  • Dag 3: ʼn Romantiese bootrit na Silent Valley met middagete op die boot.

Totale koste: R12 025.00

*Let asb. daarop dat akkommodasie in die Sunset en Guinea Fowl kamer is. Opgraderings na die superieur kamers kan gedoen word teen ekstra koste.

 

Die Sunset kamer

Hierdie kamer het luisterryke uitsigte oor die berge en ʼn beperkte uitsig oor die dam.  ʼn Koningingrootte-hemelbed, kersiehoutvloere en pragtige sygordyne verseker jou gemak. Hierdie boonste vlak suite het ook ʼn Juliette-balkon en ʼn losstaande bad. ʼn Pragtige kamer, ideaal vir wittebroodromanse!

Guinea Fowl kamer

Hierdie kamer is geleë op die grondvloer en het ʼn koningingrootte-hemelbed en spa-bad. Die kamer is pragtig versier in skakerings van room en bied ʼn fantastiese blik op die Vrystaatse son wat ondergaan oor die dam.

   

Ontsnap van die stad se gewoel en begin jou huwelik in die Oos-Vrystaatse Hooglande. Wild Horses Lodge bied daardie ietsie ekstra vir jou en jou geliefde.