So elke nou en dan kry jy die geleentheid om iets totaal en al buitengewoon te ervaar. Dis presies wat die Karroo Theatrical Hotel in Steytlerville is! In die middel van die Karoo kom jy voor ’n unieke gebou met geel aksente te staan, minwetend dat ’n voortreflike aandete en ’n vertoning van formaat op jou wag. Ek en Adriëtte het die voorreg gehad om te gaan kyk wat hierdie hotel só spesiaal maak.

Ons kom vroegmiddag in Steytlerville aan en moet vinnig by die hotel inklok voor ons die paar kilometer terugry dorp toe om Corné, ons plaaslike toergids, te ontmoet. Dis warm, maar tussen die mense se vriendelikheid, versnaperinge en stories is dit moeilik om agter te kom of dit weens die weer of die ongelooflike gasvryheid is. 

Die dorp en sy mense

Ons begin ons dorptoer by The Verandah-koffiewinkel waar Corné ons aan ’n paar ander inwoners voorstel en ons snuffel sommer dadelik die outydse motormuseum op dieselfde perseel uit. Jurie het al dié motors self oor die jare opgebou en dit is duidelik dat hy passievol oor hierdie stokperdjie is. Ons hoor ook terloops dat Jurie en sy vrou, Michelle, twee van net ’n handjievol mense in die Oos-Kaap is wat wilde diere mag rehabiliteer en dit is ’n absolute bederf om Jellybean en Jakkalsie, twee gerehabiliteerde bakoorjakkalse, te ontmoet. Jellybean se beentjie het seergekry en hy sal nie vrygelaat kan word nie. Hy het nou formeel die titel van huis-hond, aangeneem en lyk heel in sy noppies met sy nuwe tuiste.

Ons besoek ook die plaaslike kunstenaar, Johan Trollip, se merkwaardige kunsgalery en hoor, onder andere, dat hy kunsklasse aanbied ─ dis nou werklik ’n geleentheid om by ’n meester te leer!

Steytlerville is klein, maar snaaks genoeg het dit tot onlangs nog die grootste kerk volgens vloeroppervlakte in Suidelike Afrika gehad. Die rekordhouer is nou die Groote Kerk in Kaapstad ná daar twee galerye aangebou is.

Ons sluit ons dorpkuier af met granaat-gin en heerlike eetgoedjies, wat deur Rosie, Johan en Corné aanmekaargeslaan is. Ons luister na al die staaltjies van die dorp en dan is dit tyd om ons vere vir die aand se verrigtinge te gaan regskud.

Die son hang laag oor die Karoo teen die tyd dat ons weer by die hotel aankom en ek gebruik my kans om ’n geselsie met Mark en Jacques, die hoteleienaars, aan te knoop, terwyl Adriëtte haar verkyk aan alles wat ’n foto of vier werd is.

Die hotel

Toe Mark en Jacques sestien jaar gelede ’n advertensie vir ’n hotel wat in die Karoo te koop is sien, verruil hulle daar en dan hul stadsbestaan in die Kaap vir ’n rustiger lewe in Steytlerville. Hulle het aanvanklik beplan om die ou hotel in ’n merkwaardige woonhuis te omskep. Een aand daag daar toe ’n klomp Duitse toeriste op, onder die indruk dat dit steeds as ’n hotel bedryf word, en Mark en Jacques kon slegs slaapplek op ’n matras of twee bied. Die toeriste bly toe op die ou einde drie nagte in plaas van net een, aangesien die ligging, uitsig en gasvryheid sommer met matras en al uit die boonste rakke was! Ná hierdie ervaring het Mark-hulle besluit om ’n paar kamers in te rig vir die toeriste wat dan en wan daar verbykom en, soos hulle sê, is die res geskiedenis. Vandag het hulle sewentien kamers en gaste staan tou om hiér te kom kuier.

Wat dié Karoo-oase nóg spesialer maak, is die feit dat Mark, ’n opgeleide klavier-restoureerder en pianis, en Jacques, ’n opgeleide sjef en rokontwerper, elke Saterdagaand ’n driegangmaaltyd en vyfster-vertoning in hul eie teater in die hotel aanbied. Die klank van Bach, Mozart en Beethoven is aan die orde van die dag, maar Celine Dion en Shirley Bassey se Big Spender maak ook ’n verskyning in die vertoning.

Die groot vertoning

Opgetooi sluit ons by die ander gaste op die hotel se stoep aan en geniet ’n skemerkelkie terwyl ons die sonsondergang oor die Karoovlak dophou. Jacques dra etlike borde canapes uit en ek verkyk my aan alles. Hy het alles self voorberei en met ’n bordjie vol samoesas en poffertjies besef ons dat hierdie maar net die begin van ’n groot aand is.

Ons gaan sit ’n bietjie in die voorportaal en luister na Mark se klavierklanke. ’n Harde slag op die ingevoerde ghong lei ons by die teater in. Die reuk van skaapboud, groenboontjies en gegeurde rys hang swaarder as die verhoog se rooi fluweelgordyn in die lug en die kerse op die tafels skep ’n magiese atmosfeer.

Ons twee gashere verskyn op die verhoog, Mark in ’n netjiese aandpak en Jacques in een van sy eie blink skeppings. Vir vyf-en-veertig minute word ons met staaltjies, ongelooflike klavierklanke en uitspattige uitrustings vermaak. Die gehoor is lewendig en dis duidelik dat almal hulle gate uit geniet ─ op én van die verhoog af.

Die aand word met ’n nageregtafel wat kreun onder kaas en beskuitjies, malvapoeding en koffie afgesluit. Teen dié tyd het ons al heeltemal te veel geëet, maar ons druk deur en volg die ander mense soos skapies op pad na ’n grasgroen weiveld! Ons kuier tot laat saam met Jacques en van die ander gaste. Teen 23:30 is dit tyd om te gaan inkruip en ons neem swaar afskeid, aangesien ons die volgende oggend vroeg in die pad moet val.

Soos ons wegry, kyk ek en Adriëtte terug na die hotel, wat soos ’n pot goud aan die einde van ’n reënboog (stofpad) pronk. Dan kyk ons na mekaar en ons is dit eens ─ wat ’n unieke ervaring! 

***

Baie dankie aan Mark en Jacques van die Karroo Theatrical Hotel vir ’n onvergeetlike kuier in Steytlerville.

Baie dankie ook aan Corné vir al haar moeite om die dorp te wys en ons  aan ’n paar inwoners voor te stel.

Laastens, my reisgenoot, Adriëtte: Waarheen volgende?

Hooffoto: Adriëtte le Roux

Alle ander foto’s: Hesté Nortier en Adriëtte le Roux