Kastele is seldsaam in Suid-Afrika. As ek een sien wat soos ’n spookbeeld teen ‘n berg hang, moet ek altyd omdraai om wéér te kyk. My nuuskierigheid oor dié rariteite het die oorhand gekry en ek het op ’n soektog gegaan om ’n paar indrukwekkende kastele in ons land op te spoor. Party is regte spookhuise – ek moes in die argiewe gaan krap vir flentertjies geskiedenis en foto’s was maar skaars. Ander het vriendelike eienaars wat die reuse deure van hul swierige paleise vir toeriste én troupaartjies oopmaak en met groot opgewondenheid vertel hoe dit tot stand gekom het. Elke kasteel het ’n interessante verhaal. En die stories van ’n paar van hierdie kastele is, in die woorde van Etienne van Heerden, gevul met “goud, bloed en vere”. Kom lees en kyk saam – dit is immers iets wat ’n mens selde in dié land sien.

Hierdie kasteel staan onder Pretorianers as “Die Spookhuis” bekend. Die kasteel is in 1903 deur Jochemus Erasmus gebou en sedertdien het ’n klomp skinderstories oor die huis en sy inwoners die rondte begin doen. Jochemus se twee dogters was melaats en daar was gerugte dat hulle in die kasteel se toring opgesluit was. Die skindertonge het ook verklap dat die familie soos kluisenaars leef. Maar eintlik het die gemeenskap hulle rug op die gesin gedraai nadat hulle ’n finansiële terugslag beleef het. Die gerugte van spoke en gedaantes het behoorlik begin loop toe die kasteel tussen 1949 en 1967 onbewoond was. Die 33 grafte in die familiebegraafplaas moes ook in 1988 verskuif word vanaf ’n nabygeleë plantasie na die Erasmus Kasteel …

Kyalami Kasteel in Johannesburg is nog nat agter die ore, maar sy indrukwekkende voorkoms maak dit definitief ’n besoek werd. Die kasteel is in 1992 deur Demos Dinopoulos, ‘n Griekse miljoenêr en argitek, ontwerp. Hy het die kasteel oorsponklik laat bou vir sy gesin en al die aangetroudes. Vir sy seun het hy ’n kamer gebou met ’n spiraaltrap wat na die kombuis lei “omdat seuns honger word in die nag”. Hy het egter later ‘n seiljag in die kasteel se werkswinkel gebou en na Spanje gevaar waar hy vandag nog bly. Die kasteel is onlangs deur die omstrede Kerk van Sciëntologie aangeskaf om as die kerk se hoofkwartier in Afrika te dien.

Dié pragtige kasteel buite Clarens staan bekend as Castle in Clarens of Raponsie se Toring. Manie van Schalkwyk wou ’n unieke gastehuis in die Vrystaat bou, ’n tuiste waar gaste werklik soos koninklikes kon voel. Twaalf jaar gelede het dié droom waar geword. Die gebou lyk en voel soos ’n kasteel uit ’n Hans Christian Andersen-feëverhaal met ’n Afrika-kinkel. Net soos Raponsie se toring, word die eiendom deur klein voetpaadjies en doringbome omring. Verder lê Clarens, die Malutiberge en die asemrowende Vrystaatse landskap voor ’n mens uitgestrek.

Flycatcher Kasteel is in die buitewyke van Graskop in Mpumalanga geleë. Die Kasteel is volgens die styl van ’n 17de eeuse Italiaanse kasteel ontwerp. Die eienaar, Manie Connoway, het eers ’n beeldjie van sy droomkasteel gebou en in 2005 het die indrukwekkende, lewensgrootte gebou, wat invloede van Europa en Suid-Afrika uitbeeld, verrys. Connoway is ’n kunstenaar en sy beeldhouwerke en styl is in elke kamer te bespeur. Deesdae is die kasteel ‘n spoggerige gastehuis en trou-venue. Elke kamer is vernoem na ’n beroemde komponis – Mozart, Puccini, Strauss, Gounod en Verdi.

Daar was oor die jare baie gerugte oor die oorsprong van die Noetzie Kastele in Knysna. Baie mense het al gegis dat die geboue deur Vasco de Gama, seerowers en selfs die Romeinse ryk gebou is! Maar eintlik is die oudste kasteel in Noetzie eers in 1930 deur Herbert Stephen Henderson gebou. Hy wou nie met opset ’n kasteel bou nie, maar nadat ’n buurman opgemerk dat die gebou nog net dakruiters skort om ’n kasteel te wees, het hy gedink “hoekom nie?”. Die oorspronklike kasteel het ’n gier begin: die Lindsay Kasteel is in die 1960’s gebou en die Montrose Kasteel se dakruiters het in die 1970’s verrys. Vandag is die kastele luukse gastehuise en hotelle. Prinses Diana het in 1996 ’n kamer in die Lindsay Kasteel onder die skuilnaam “MacEwan” bespreek. Sy is egter tragies in ’n motorongeluk in Parys oorlede en “MacEwan” het toe nooit by Noetzie uitgekom nie.

Jannie en Martiana Jacobs het die kasteel ná ’n reeks bonatuurlike gebeurtenisse in 2005 gebou. Jannie was vir 30 jaar ’n vlieënier vir SAA en na sy bedanking het bruidspaartjies begin vra of hulle foto’s by sy huis kan neem. Al hoe meer paartjies het navraag begin doen oor die eiendom en deesdae is die kasteel buite George ’n suksesvolle trou-venue. Die eienaars is passievolle Christene, vandaar die naam “Bygracealone.” ‘n Evangeliese bediening, Gospel of Jesus Christ, word ook vanaf die kasteel bedryf.

Die Herstein Kasteel, of “Schloss Herstein” in Jonkershoek in Stellenbosch, is ’n geheimsinnige plek. Wanneer ’n mens op die sprokiesagtige Jonkershoekpad ry, verskyn en verdwyn die kasteel so vinnig teen die berghange dat jy wonder of jy reg gekyk het. As student het ek altyd gewonder oor die oorsprong van dié kasteel en ure se navorsing het bitter min inligting opgelewer – dit maak die kasteel natuurlik net nóg meer geheimsinnig! Luidens ’n munisipale verslag is die kasteel in die 1980’s deur ’n Duitser gebou. Dieselfde verslag keur ook die gebou af omdat dit “’n indringer in die natuurlike en outentieke voorkoms van die Kaapse Wynlande [is]”. Deesdae is die kasteel ’n luukse gastehuis.

Hoog teen die Karbonkelberg waak die Lichtenstein Kasteel oor Houtbaai. Die bouwerk is in 1986 deur ‘n Duitser genaamd Reyneir Fritz begin en is eers in 1998 voltooi. Fritz wou ‘n presiese replika van die Lichtenstein Kasteel in Duitsland bou, maar uiteindelik het die bouwerk langer geduur as die bouwerk aan die oorspronklike kasteel! Kort nadat die Fritz-gesin ingetrek het, is Reynier onder raaiselagtige omstandighede oorlede. Na bewering het hy by trappe afgeval en sedertdien is daar gerugte dat die kasteel spook. Die kasteel is in 2012 deur ’n Russiese sakeman vir R23 000 000 gekoop.

Dié Kasteel is eintlik ’n fort en is die oudste koloniale gebou in Suid-Afrika. Bouwerk is in 1666 deur die VOC begin en in 1679 voltooi. Honderde gevangenes is in die kasteel aangehou en gemartel, so die spookstories oor die gebou en sy deursigtige inwoners is legio. ’n Grys dame, ’n groot, swart hond met bloedrooi oë en die spook van Goewerneur Pieter Gysbert van Noodt is maar net ’n paar van die siele wat volgens gerugte nog in die kasteel ronddwaal.

Lank, lank gelede het daar ’n kasteel bo die Bainskloofpas gepronk. Dit was ’n pragtige gebou wat in die volksmond bekend gestaan het as “the castle on the hill” of “Wolkerus.” Piet Hugo was ’n konfytfabriek-pionier en het hierdie kasteel gebou nadat hy gedroom het van ’n huis wat oor die hele vallei uitkyk. Ongelukkig het Hugo nooit in die huis gewoon nie, want hy is vroeg in 1941 oorlede. Sy vrou het ook geweier om so ver van die beskawing af te bly. In 1949 het die huis afgebrand en net die swart murasie het jare lank spookagtig bly staan. Die laaste oorblyfsels van “Die Spookhuis” is gesloop nadat twee stappers wreedaardig deur ’n bandiet in die murasie vermoor is. Al wat vandag oorbly van Hugo se droom is die fondamente, ’n gedenksteen en ’n hele paar spoke.

Vanaf 1870 was die volstruisbedryf ’n groot geldmaakstorie in Suid-Afrika. Volstruisvere het ’n modegier in Europa geword en daar was ’n toename in uitvoere vanaf die Kaapkolonie, waarvan Oudtshoorn die hoofprodusent was. Volstruisboere het baie geld gemaak en indrukwekkende “volstruispaleise” is op plase in die Klein Karoo gebou. Met die uitbreek van WO2 en die vervaardiging van oopdak-motors het die mark ineengestort en duisende volstruise moes vrygelaat word. Vandag staan daar nog net ’n handjie vol van dié argitektoniese wonders.

Hooffoto: Castle in Clarens

Dankie aan Manie van Schalkwyk van Castle in Clarens en Manie Connoway van Flycatcher Castle vir die foto’s.

Redigeerder en mede-skrywer: Herman Botha van LekkeSlaap.co.za