“Mevrou, Mevrou, kom in!” skree Zet oor die radio. “Mevrou, die gaste is hierso en ek het beduie, maar hulle het verkeerd gery!”
Ek en my kollega, Adriëtte, sit teen 18:00 op ’n Vrydagmiddag uiteindelik op Kerneelia Kothuis se stoep op Doornkraal-plaas. Om ons is elke Karoobossie goud gekleur en al wat ons hoor is die gedreun van Celia, die plaasbestuurder, se plaasbakkie in die verte en ’n kriekekoor wat begin keel skoonmaak. Vroeër die middag, op pad hierheen, het ons ná vier plaashekke besef dat Adriëtte se Diahatsu Sirion nie die pad langer kan trotseer nie en ons absoluut verdwaal het. Ná ’n verbysterde oproep aan Celia, ontmoet sy ons toe met ’n ou bakkie en ’n hond opgewonde agterna by die teerpad. “So is die avontuur van die Klein-Karoo!” roep sy vriendelik, terwyl sy halflyf by die bakkie se deur uithang en na die kothuis, sowat 150 meter in die teenoorgestelde rigting, beduie.
Toe die son later agter die Karoo-koppies begin ondergaan, sien ons Celia se bakkie na ons toe aangery kom. Sy spring uit die bakkie, steek dadelik vir ons ’n vuurtjie aan, en skink vir my van die plaas se rooiwyn en vir Adriëtte ’n glasie van hulle verouderde soet muskadel. Daarna begin sy trots vertel waar sy die kothuis se kuns in die hande gekry het en van die pruimboorde wat ’n jaar terug geplant is.
Die lappieskombers wat sy vir my gegee het, hou die ergste koue weg, terwyl ons langs die vuur na ’n rits van Celia se stories luister ─ haar dae as stalleskoonmaker oorsee, hoe sy per ongeluk ’n motorfietsryer geword het en hoe sy ná ’n tydperk van restouranthouer wees op die plaas opgeëindig het.
Celia en die plaaswerkers het een jaar geneem om self die rustieke kothuis van materiale wat hulle op die plaas kon kry te bou. Van die massiewe stort met ’n gat in die muur wat verseker dat jy die Karoovlaktes kan sien, tot die egte plaaskombuis wat gaste heeltemal tuis laat voel ─ met blikbekers en al! Die kothuis se water kom direk van die Swartberge af, 12V-sonkrag word vir selfoonlaaiers voorsien en die donkie sorg vir warm water. Dan is daar ook WiFi, ’n luidspreker om musiek via ’n selfoon te speel en ’n groot vat buite waarin ’n mens heerlik in die somer kan afkoel.
Ons sit tot laataand langs die vuur en gesels en toe dit te koud raak skuif ons na binne en kuier verder langs die smeulstofie.
“Môre, môre, die donkie brand!” laat weet Zet ons vroegoggend toe sy by ons kombuisvenster verbyloop. ’n Ontbytmandjie vol skons, muffins en plaasbotter en -konfyt wag op die stoep. Ons maak vir ons dompelpotkoffie, gaan sit op die stoep en begin ’n plan beraam om vir ons ook só ’n kothuis in die Karoo te kry, want hiér wil ’n mens nie weggaan nie.
Ná ontbyt en ’n warm stort is ek en Adriëtte gereed om De Rust te verken. Met ’n goeie arm is dit ongeveer ’n klipgooi van die kothuis af en dis nét so rustig soos die plaas. Olyfproe by De Rustica, inkopies by die kunswinkeltjies en middagete by The Village Trading Post is op ons agenda. Die dorp het ’n unieke bekoring wat net as egte Karoo-gasvryheid bestempel kan word. Oral waar ons Celia en Kerneelia Kothuis noem, word daar vir ons vertel hoe vriendelik die mense is en hoe heerlik dit op die plaas is.
Die Doornkraal Padstal, wat al Doornkraal se produkte en nog meer verkoop, het ons aangenaam verras. Ná ons aan die fynproewer-roosterkoeke gesmul het, geniet ons ’n wynproesessie wat deur die bekende wynmaker Swepie Le Roux, wat ook Doornkraal se eienaar en Celia se pa is, aangebied word. Sy passie vir wyn en die wynmaakproses is duidelik, soos hy van dié en dáái wyn se note, geure en reuke vertel. Dit klink soos proe-poësie, terwyl ons luister hoe hy die eg Afrikaanse wynetikette voorlees en ons weet later nie meer watter bottel om te koop nie, want die een is lekkerder as die ander.
“Vat jy die quad, ons vat die perde dan!” moedig Celia my aan om aan die skemer-perdryrit deel te neem, toe ek weier om op die perd te klim. Dis nou nadat ek óók gehuiwer het om die plaasbakkie te bestuur ─ ek het gesien my beentjies is te kort en dié bakkie wil ek nie stamp nie.
Gedurende die perdryrit beduie Celia dié kant toe en dáái kant toe, terwyl sy vertel oor die plaas, die wynmakery, die hond wat daarvan hou om op die motorfiets te klim en hoe hulle as kinders met die perde skool toe gery het. Sy vat ons na die uie-plantasies toe en vertel trots meer oor die verskillende tipes ui wat geplant is. Dis duidelik dat dié plaas met liefde bestuur word.
Ná ’n rukkie hou ons op ’n heuwel stil, sodat die Karoovlaktes se oranje en pienk skemerstrale ons op ons laaste aand vaarwel kan roep. ’n Tafeltjie en stoeltjies kom te voorskyn, drankies word geskink en heuninggeroosterde neute en droëwors word voorgesit. Dit is doodstil ─ al wat ons hoor is die geklingel van die ys in ons glasies en ’n sagte gerunnik in die agtergrond.
Ons moet die volgende oggend na die stad terugkeer en ons is maar taamlik droewig. Ons is maar te bly Celia het ’n paar jaar gelede reggestaan toe haar pa bel en sê: “Een van julle susters moet nou kom boer”, want Kerneelia Kothuis het ons nie net tuis laat voel nie, maar ons ook weer herinner hoe mooi die land is, hoe rustig die Karoo is en wat egte Karoo-grasvryheid is.
Kom maak ’n draai by dié plattelandse paradys ─ jy sal nie spyt wees nie!
Hooffoto: Kerneelia Kothuis
Ander foto’s: Lisa Slippers en Adriëtte le Roux