Op Oukersaand gly Kersvader in die skoorsteen af en los glinsterende geskenke onder die Kersboom vir al die soet kindertjies … Ja, ons almal het dié storie as kleuter geglo, maar toe word ons groot en besef waaroor Kersfees regtig gaan: Kerstyd is familietyd, omgeetyd, ’n tyd om Jesus Christus se geboorte te herdenk en ons liefde te wys deur geskenke aan mekaar te gee.

Dit is ook die tyd om jou Kersboom uit te haal, jou huis (of vakansiebestemming) vrolik te versier en heerlik aan Kersdisse te smul. Die lewe is deesdae so gejaag en duur, en ’n mens sukkel soms om alles betyds reg te kry ─ daarom het LekkeSlaap dié kitsgids saamgestel om jou Kersfees vanjaar ekstra spesiaal te maak, ongeag waar jy dit vier!

Kersboom en Kersversierings

Kersfees is om die draai en dit is tyd om jou Kersboom te versier en jou huis te verfraai! En met ons lekker wenke kan jy die Feesseisoen met kleur en geur begroet, sonder om die nuwe jaar platsak te begin:

Untitled design (50)

Bak koekies met groen en rooi kersies op en hang dit aan die Kersboom as versiering (én verversing!) ─ span jou kroos in om hiermee te help

Plaas ’n vrugtebak met rooi vrugte op jou koffietafel en versier dit met groen takkies uit jou tuin

Kook water, kaneel, naeltjies en lemoensap in ’n prutpot sodat dié feestelike aroma jou huis vul

Vul Kerskouse met lekkernye om die jongspan se ogies te laat blink

Maak jou eie Kerskrans, byvoorbeeld uit stukkies lap of takke, en hang dit aan jou voordeur

Kerstafel

Op Kersdag kreun die etenstafel gewoonlik onder al die watertand tradisionele Kersfeeskos en familie kom van heinde en verre om aan die feesmaal te smul. Hier is ’n paar eenvoudige sakpaswenke vir jou Kerstafel:

Untitled design (56)

Dek jou tafel eenvoudig in klassieke kleure, soos silwer, goud of wit

Maak jou disse deel van die dekor en bedien ‘n groen en rooi slaai, soos ’n komkommerring

Plaas kerse in glase op jou tafel of selfs in groen en rooi appels waarvan jy die stronkies uitgehaal het

Maak Kersklappers uit leë toiletrolletjies, vul dit met ’n verrassinkie, draai dit toe met groen of rooi geskenkpapier en laat dit deel van jou tafelversiering vorm

Onthou om jou versierings saam te neem as jy vanjaar Kersdag op ’n kampterrein of in ’n selfsorgplekkie vier, sodat jy daar net so tuis soos by jou eie huis kan wees

Kersgeskenke

Ons almal geniet dit om ’n verrassing onder die Kersboom te kry en om die blinkpapier gretig af te skeur, daarom gee ons jou ’n paar praktiese en bekostigbare geskenkwenke:

Untitled design (57)

Bananagrams ─ dié woordspeletjie sal jou sak pas en is ideaal vir die hele gesin

Flessie gevul met gekleurde lekkernye ─ ideaal vir diegene met ’n soettand

Kruie in leë eierboksies ─ dié geskenk is ideaal vir mense met groen vingers en kan net so in die tuin geplant word

Hekelpen, wol en patroon ─ dié praktiese geskenk is ideaal vir handwerkliefhebbers

Selfoon-monteerstuk ─ dié nuttige geskenk word in jou voertuig geplaas om jou selfoon in plek te hou wanneer jy jou GPS gebruik en is ideaal vir die langpad of as jy nuwe plekke wil verken

“Die beste geskenk onder enige Kersboom is ’n gelukkige gesin toegedraai in mekaar se geselskap” – Burton Hillis

Untitled design (58)

As jy aan nog ’n paar praktiese geskenkidees of versierwenke kan dink, lewer gerus kommentaar hieronder. En, al is dit nog ’n bietjie vroeg, wens LekkeSlaap jou en jou gesin ’n helder Somerkersfees toe!

Hooffoto: Bigstock