Ek moet bieg: ek is nie die flinkste stapper nie. Ek het my Columbia-stapskoene die afgelope jaar net een keer gedra teen die hange van die Sleeping Beauty-berg in Riversdal. Gelukkig is ons bevoorreg om in ʼn ongelooflike land met ʼn verskeidenheid berge en roetes om elke hoek en draai te woon. Of jy nou ʼn stapper van formaat is of dit bloot geniet om in die natuur te wandel – Kirstenbosch Botaniese Tuin in die Moederstad bied oud en jonk meer as net lieflike pieknieks, buitelug-musiekkonserte, puik restaurante en eiesoortige flora met verskeie staproetes wat soos ivy teen die hange van Tafelberg uitrank. Sewe staproetes van verskillende moeilikheidsgrade verseker dat enige stapper die botaniese tuin en versteekte hoeke en draaie op Tafelberg self kan verken:

Braille-roete

Dié roete, wat by die Geurtuin (Fragrance Garden) naby die onderste parkeerterrein begin en eindig, maak dit moontlik vir blindes en swaksiende mense om sonder begeleiding te stap. Elke plant word met ʼn Brailleskrif-plaatjie geëtiketteer. Dit is ʼn kort sirkelroete van 650 m deur die natuurlike woud en ʼn stukkie moerasland. Die gewildste kenmerk van die roete is die “touch garden” waar stappers die ongewone vorms, teksture en reuke van plante kan ondersoek.

Moeilikheidsgraad: Maklik.
Duur: ʼn Rustige roete wat jou kans gee om die natuurskoon op jou gemak te waardeer (nie langer as 15 minute nie).

Boekenhout-roete

Begin stap by Old Dam, die tuin se eerste besproeiingsdam wat in 1916 gebou is, en berei jouself voor vir buitengewone uitsigte oor die inheemse flora op die manjifieke Tafelberg. Die roete, soos ons uit die naam kan aflei, spog met verskeie rooibruin boekenhoutbome. Alhoewel dit hoofsaaklik ʼn woudpaadjie is, kan jy vanaf dié roete ook van die ander hoër kontoerroetes in die park bereik. Plek-plek kan dit selfs nogal steil raak!

Moeilikheidsgraad: Maklik tot gemiddeld.
Duur: Nie eers ʼn kilometer lank nie (0,65 km), maar moet jou nie misgis nie! Die stappie kan jou tot 30 minute neem.

Stinkhout-roete

Dié roete begin by die Geurtuin en loop deur die woud tussen twee bekende klowe in die park, Skeleton en Window Gorges. Jy sal al langs die pad reste van gesogte stinkhoutbome gewaar, maar die area dien tans ook as ʼn rehabilitasiestreek vir dié bome. Gelukkig versier verskeie ander spesies en bome, soos keurbome, swartbasbome and wildeperskebome dié woudwandelpaadjie. Die paadjie loop ook deur ʼn gebied genaamd donkergat wat die diep en donker woudagtige aard van dié deel van die tuin akkuraat beskryf.

Moeilikheidsgraad: Maklik
Duur: Om en by 45 minute tot ʼn uur se stap wat net-net, na 1,5 km, jou wange sal laat gloei.

Geelhout-roete

Soos verskeie van die ander roetes, begin dié roete by die Geurtuin en volg Skeleton-stroom tot by Skeleton-waterval, deurkruis Nursery-stroom twee keer en eindig dan waar jy begin het. Hierdie roete spog veral met groot geelhoutbome (die sogenaamde “real yellowwood” of Podocarpus latifolius) wat inheems aan die park is. Dié bome sal jy maklik raaksien omdat die bas van hul stamme kenmerkend afskilfer. Kyk ook uit vir Skeleton-stroom se waterval langs die pad (alhoewel hy nou nie in die somer in volle prag sal wees nie).

Moeilikheidsgraad: Gemiddeld
Duur: Afhangend van jou fiksheid kan dié skilderagtige 3 km-roete jou tot 2 uur neem om te voltooi.

Foto verskaf deur www.walkthecape.blogspot.com

Silwerboom-roete

Begin stap by Hek 3 (Rycroft Gate) en volg die roete wat regdeur die tuin strek via die 300 m-kontoerpaadjie. Die panoramiese uitsigte op die berg en oor Valsbaai, die Kaapse Vlaktes en die Hottentots Holland Bergreeks sal jou asem wegslaan! As jy boonop in geologie belangstel sal die verskeidenheid rotsformasies jou beslis besig hou. Loop ‘n ekstra Kaapse draai na Vaalkat-waterval waar rooi disas in die laat somer blom. Soos die paadjie weer na onder loop, volg dit ook die ou sleeppad wat deur vroeë setlaars gebruik is om hout deur die woud te sleep.

Moeilikheidsgraad: Gemiddeld
Duur: Silwer is 7,75 km lank en neem 3 tot 4 uur, so maak seker jy het ʼn peuselhappie byderhand om te keer dat jy skoon verlep by die eindpunt aankom.

Smuts-roete teen Skeleton Gorge uit

Is jy avontuurlustig? Dan’s dié roete die een vir jou. Begin stap by die Geurtuin en volg Skeleton-stroom soos dit teen die hange van Tafelberg kronkel. Die geklimmery is ʼn steil en gevaarlike storie, veral as dit nat is, maar gelukkig is daar toue en lere wat jou langs die pad ondersteun. (Bring dalk nogsteeds maar ʼn kaart van Tafelberg saam, jy weet nooit …).

Moeilikheidsgraad: Moeilik
Duur: Dié outjie kan tot 6 uur se swoeg en sweet vereis, maar vir die uitsig is dit definitief die moeite werd!

Foto verskaf deur Damien du Toit op www.flickr.com

Nursery Ravine-roete

As jy lus is om jou kuitspiere te laat werk, is dié hiper steil roete (byna vertikaal) teen Tafelberg se kranse uit beslis die beste opsie. Honderde trappies lei jou deur die woud en rotsagtige dele. Die kersie op die koek is ongetwyfeld Hutchinson-dam, maar die uitsig oor die skilderagtige suidelike voorstede en Valsbaai is ongetwyfeld ook die seer kuite werd!

Moeilikheidsgraad: Moeilik
Duur: Minstens 4 uur se klim, maar met dié uitsigte sal jy beslis nie spyt wees nie!

Die twee laasgenoemde roetes is die gewildste. Kapenaars, besoekers en toeriste sal dit sonder twyfel geniet om dié roetes een na die ander te verken en daarna met ʼn lekker piekniek of versnapering by die Tea Room af te sluit. Kies eenvoudig die roete wat jou en jou stapmaats die beste sal pas sodat jy die roete kan geniet en die uitsig kan waardeer sonder dat jou lyf jou in die steek laat (glo my, ek het al daai fout gemaak). So grawe (ʼn slag) jou staatmaker-stapskoene uit, pak jou rugsak vol peuselkos en maak seker jou SPF 50 sonskerm is ingepak voordat jy die moeiliker roetes aandurf!

Ligging:
Rhodes-rylaan | Nuweland | +27 (0)21 799 8783

Ooptye:
September tot Maart (somer) 8:00-19:00
April tot Augustus (winter) 8:00-18:00

Toegangsfooi: Volwassenes, R40; SA-Studente (met studentekaart), R25; kinders (6-17 jaar), R10; Jonger as 6 jaar, gratis.