Besoek jy dié somervakansie die Moederstad? Maak seker dat jy by Kirstenbosch Botaniese Tuine ʼn draai maak om die indrukwekkende Boomslang, ʼn loopbrug wat oor die blaardakke heen strek, te beleef. Ons het 10 vinnige feite oor dié argitektoniese reptiel versamel:

1. Die Boomslang is 130 meter lank. Hoewel dit korter is as wat oorspronklik beplan is, is die uitsigte steeds asemrowend!

2. Verskeie besoekers verdwaal as hulle dit in die park probeer opspoor, ten spyte daarvan dat dit uit 19,6 ton staal, 5,36 km se staalstawe en 12 kolomme bestaan.

3. Die ontwerp van dié uitvindsel se struktuur het die vernuf van die land se 4 beste ingenieurs vereis.

4. Daar is meer as 400 bome in en rondom dié paadjie vanweë die ideaal om besoekers aan die diverse bomeryk van die park bloot te stel – van hardepeer tot witstinkhout en Kaapse saffraan.

5. Die loopweg is wel gedeeltelik tussen die boomtoppe, soos die naam illustreer, maar dit strek ook plek-plek bó die bome om werklik die skilderagtige uitsigte oor Kaapstad en Tafelberg te beklemtoon.

6. Die hoogste punt van die Boomslang is 12 meter van die grond af – dis ongeveer 3 verdiepings hoog!

7. As jy hoogtevrees het, moet ons jou waarsku … die Boomslang wankel effens as ʼn hele paar mense gelyk op hom rondloop. Dit is nie ʼn fout in die ontwerp nie, maar eerder doelbewus deel van die hele ervaring. Maar moet jou nie te veel bekommer nie … dis baie veilig! Daar is wel ʼn bankie as die gewankel vir jou een te veel is.

8. Die loopweg is gebou van African padauk, ʼn tipe hout soortgelyk aan palissander, wat gewoonlik gebruik word om musiekinstrumente soos tromme en kitare te maak.

9. As jy onder die loopweg staan, sien jy duidelik die slangagtige vorm van die struktuur. Dit lyk as’t ware of dit ʼn ruggraat het en die gekromde relings lyk eienaardig baie soos ribbes. Die diamantvormige staalstrukture tussen die reling en die houtoppervlak van die loopweg lyk selfs soos ʼn slang se skubbe.

10. Besoekers aan die park kan gratis die Boomslang gebruik en die paadjie is ook rolstoelvriendelik.

Kyk net hoe indrukwekkend is Kirstenbosch se nuutste besienswaardigheid!

Die Boomslang bied veral asemrowende uitsigte oor die park self, só kies sommer jou piekniekplek terwyl jy op die paadjie wandel. Kirstenbosch is sonder twyfel een van die gewildste plekke vir piekniek hou in die Wes-Kaap – Lees ʼn bietjie hiér verder oor ander lieflike piekniekplekke in Suid-Afrika!