Dis Saterdagoggend in Knysna, sinoniem vir hemel, en boonop is ek dik geëet aan Knysna Hollow Country Estate se heerlike ontbyt. Daar is nie ‘n wolkie in die lug nie en ek is so reg soos ‘n roer vir Knysna Boat Trips se eko-safari.

Nadat die gidse ons hartlik welkom heet is die lot my beskore om op Stefan (foto links onder) se boot te land. Ek sien dadelik hierdie is ‘n man wat kan, gebore en getoë hier in Knysna, beskik Stefan oor weergalose eerstehandse kennis van die gebied.

Die eerste feit waarmee Stefan ons kennisdors les, is die oorsprong van hierdie bekoorlike dorpie se naam. Knysna is blykbaar die Khoisan woord vir “plek van hout”, wat waarskynlik verwys na die weligheid van die woude in hierdie area.

Die boot is sterk en vinnig en ons beweeg kort voor lank tussen die bekende Knysna Koppe deur. Soos wat ons vorder, prikkel Stefan tussendeur ons nuuskierigheid met nog feite. Hy wys vir ons die grotte aan die kus wat almal destyds deur die Khoisan bewoon is: die Honeymoon-grot (hy huiwer om ons te vertel waar die naam vandaan kom …) sowel as die Nostril-grotte wat sowaar soos ‘n reus se neusgate oor die kuslyn waghou.

Ons beweeg verder teen die kuslyn af en Stefan wys vir ons die kroonduikers en ander seevoëls se gunsteling rotse, ongelukkig was ons windaf, so die ghwano se reuk was redelik opvallend.

Toe ons eindelik deur die Knysna Koppe beweeg het die boot die see gekies. Ons bly na aan die kus en beweeg Buffalo Bay se kant toe. Stefan neem ons na die Needle-grotte wat vol skerp stalaktiete is wat deur die seesproei in die grot gevorm is. Maar dis nie sommer-so nie, die koers na die grot is baie gevaarlik, want daar is baie rotse onder die water waarvan net manne soos Stefan weet.

Dis tóé dat dinge interessant raak. Ons bereik die baai van Brenton-on-Sea en is bevoorreg genoeg om die uiters skaars boggelrugdolfyn te sien. Daar is slegs omtrent 1000 van hierdie pragtige diere aan die Afrika-kus oor, en ek was vreeslik in my noppies om hulle te kon sien. Knysna Boat Rides werk saam met die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit aan navorsing oor hierdie besondere tipe dolfyn. Verder kom hier ook stompneusdolfyne voor, wat na aan die kus voer.

By Buffalo Bay kry ons per radio die boodskap dat daar walvisse in die omgewing baljaar. Ek het byna uit my vel gespring van opwinding. Knysna Boat Trips het amper 100% kans om walvisse te sien op elke bootrit, want hulle het vir Grant “Eagle-Eye” Pieterse wat bo-op die koppie sit met sy verkyker en die walvisse vir die gidse raaksien. Grant mis niks nie!

Dit was ‘n ongelooflike ervaring wat ek vir enigeen sal aanbeveel. Die eko-safari prikkel beide die adrenalien-vrate, sowel as diegene wat na kennis smag. Ek het binne 2 ure ‘n magdom natuurlike verskynsels besigtig wat sommige mense ‘n leeftyd wag om te sien: haaie, dolfyne, walvisse, pikkewyne, robbe en natuurlik die majestueuse landskap.