Die Knysna Oesterfees, wat jaarliks in Julie plaasvind, is omtrént ʼn kaleidoskoop van feesgees, adrenalien, musiekvertonings, familietyd, Tabasco-sous, kunsvlyt, kuier, en natuurlik ʼn paar ton vars oesters! Alhoewel ons net drie dae van die fees bygewoon het, het ons elke oomblik gate uit geniet. Volg bietjie ons kitsgids en jy sal gou sien dié fees behels veel meer as net oesters!

eet

Nou ja, dit word nie verniet die Oesterfees genoem nie nè? As dit by eet en drink kom, bied Knysna, veral gedurende die fees, ʼn verskeidenheid opsies wat in elke feesganger se smaak sal val.

Daar is ʼn paar oester-hotspots ─ 34 Tapas & OystersQuay4 Tavern en 34 South is van die gewildste keuses. Ons het oesters en tapas gaan proe, en dit het elke keer vorentoe gesmaak! Die feestelike atmosfeer laat jou vinnig vergeet van enige winterkoue sodat jy net gesellig kan sit, smul en kuier.

Mitchell’s Brewery is nét die plek as jy smag na ʼn lekker biertjie, ʼn bierproe-sessie, of sommer net ʼn lekker pub lunch as jy nie van seekos hou nie. Gedurende die fees het die brouery spesiale aanbiedinge vir feesgangers, van bierproe tot oestersproe tot brouerytoere. Hier kan jy nét so lekker gesellig kuier saam met vriende en familie ná ʼn produktiewe, sportiewe dag of nadat jy heeldag in die dorp rondgerits het.

As jy vroeg bespreek kan jy een van verskeie eksklusiewe feesgeleenthede bywoon, soos Moist Your Oyster by Mitchell’s, A Cook & Look kos- en wynparing, Let’s do Mexican, Whisky & Live Jazz Cruise en die Bubbly, Oysters & Chocolate Experience. Maak seker jy kry volgende jaar vroeg die program in die hande sodat jy die Oesterfees behoorlik kan ervaar!

1

Die eerste Vrydag van die fees is taamlik rustig: Hier en daar sien jy iemand wat die eerste keer ʼn oester proe en snaakse gesigte trek, fietsryers wat geselsies aanknoop terwyl hulle toustaan om te registreer, en ʼn paar lewendige stalletjies wat vroeg-vroeg al die feesgronde laat gons!

 sport

Die eerste naweek van die fees is klaar propvol lekker geleenthede vir eet, drink en kuier, maar sport is beslis die ster van die naweek. Daar is sportaktiwiteite vir die hele gesin: Of jy nou ʼn kranige bergfietsryer is of ʼn kleuter het wat skaars sonder wieletjies kan ry, daar is iets vir almal.

Fietsry:

Die Momentum Weekend Argus Knysna Cycle Tour vind die Saterdag- en Sondagoggend plaas. Dít is ʼn twee dae lange fees van fietsry vir die hele gesin. Die hoofpadresies is ʼn sirkelroete van 109 km of 50 km lank. En alhoewel dit ʼn teerpadroete is, klim die roete tot 1 577 m! Die hoofbergfietsresies vind die Saterdagoggend plaas. Fietsryers ry tussendeur die pragtige varings, stinkhoutbome en geelhoutbome van Knysna se omliggende woud waar sku Knysna-loeries kort-kort hul verskyning maak. Jy kan kies tussen 80 km, 50 km, 30 km en 15 km lange roetes, of net by die wenstreep staan en jou familie of vriende inwag.

Die Sondagoggend is dit die kinders se beurt met die Spur Rotary Knysna Children’s Cycle Tour. Die 2-4 jariges ry net 500 m, so hulle ouers hardloop soms sommer saam om vir kleinboet of kleinsus te ondersteun, en dis als deel van die pret! Die 5-7 jariges ry 1,7 km en die 8-10 jariges ry 2,8 km, wat ʼn bietjie meer uitdagend is. 

Roei:

Daardie selfde oggend is Knysna se waterfront ekstra bedrywig te danke aan die Harbour2Heads Lagoon Challenge en Knysna Dragons Lagoon Mile Swim. Die Harbour2Heads behels ʼn roeisessie van 22 km tussen die Knysna Koppe, Thesen-eiland en die Waterfront. En vir die kleingoed is daar ʼn 10 km lange sirkelroete om te roei. Al neem jy nie self deel nie, is dit lekker om te sien hoe hulle wegtrek en om in spanning te wag om te sien wie is eerste terug!

Swem:

Daarna kry die swemmers ʼn kans om naam te maak tydens die sogenaamde Lagoon Mile Swim van 1,8 km. Die begin en einde is by Cruise Café en die roete loop deur die waterfront, die waterweë, verby die hawe se ingang en terug tot by Cruise Café. Enige iemand kan dié uitdaging kom aanpak!

waterfront

Maar jy hoef nie ʼn kranige fietsryer, swemmer of roeier te wees om ʼn baie besige naweek te beleef nie. Jy kan ook luister na die plaaslike orkes wat elke nou en dan by die waterfront speel, of ʼn gholfbal oor die water slaan tot op ʼn vlot by die waterfront. Kosliefhebbers kan hulle verlustig in die groot verskeidenheid restaurante en koffiesnobs kan gerus ʼn cappuccino by Cafe Mario’s bestel. Verder kan jy rustig rondstap en snuffel in die snuistery- en toeristewinkeltjies vol mooigoed: van handgemaakte produkte tot ontwerpersklere.

fees

As jy enigsins wonder hoe jy verder kan besig bly tussen geleenthede is die feesgronde dié plek om te wees! Gaan proe ʼn oester by Pick ʼn Pay se stalletjie, besoek die oulike plaaslike kunsvlytmarkie en koop sybokhaarprodukte of kreatiewe houtdekor, sit en luister na ʼn musiekproduksie of komediant by die Sony Max-verhoog, of koop tuisgemaakte limonade by die bekende stalletjie waar ʼn paar ywerige kinders hulle entrepreneursvaardighede opskerp.

verblyf

LekkeSlaap bied ʼn hele paar lekke verblyf-opsies in Knysna, van groot kuierhuise vir groepe tot luukse B&B-kamers vir paartjies. Ons het dié keer by Vue Grande op die idilliese Leisure Island gekuier en dit was ʼn absolute fees! Vue Grande bied slaapplek vir 6 en spog met ʼn lekker braai-area, ʼn pooltafel en ʼn balkon met ʼn betowerende uitsig oor die Knysna Koppe ─ dit is ideaal vir ʼn gesin!

Onthou net, al die lekker plekke word blitsvinnig bespreek vir die Oesterfees, so hoe vroeër jy bespreek, hoe beter! Kliek hier vir nog verblyf-opsies in en rondom Knysna.