Net sodat jy weet, daar is baie meer koeie as koffiewinkels in Koffiebaai. Só het ek met my eerste besoek aan dié Oos-Kaapse dorpie, eintlik meer ’n klein, plattelandse nedersetting aan die Wildekus met ’n paar restaurante, ’n spaza-winkel, ’n pragtige strand en hope natuurskoon, geleer. Dis soos ’n paradys van lowergroen heuwels, kuswoude en turkooisblou water, maar met koeie, orals. 

Met die inkomslag, laat die aand in gietende somerreën, was dit nie net die digte mis, verspreide slaggate en spoedhobbels wat ons pas tot by Koffiebaai se Ocean View Hotel bepaal het nie, maar ook die koeie “vir wie ’n mens nie toet nie,” soos Russel Kruger, eienaar van die hotel en ons geleentheid tot in Koffiebaai, gesê het. “Dit help in elk geval nie. Hulle sal skuif wanneer hulle skuif.” Dit was dan ons tweede les oor Koffiebaai: Jy toet nie vir die koeie nie, want dit help nie ─ hulle is te rustig.

Dit was dan ons tweede les oor Koffiebaai: Jy toet nie vir die koeie nie, want dit help nie ─ hulle is te rustig.

Ná vier dae in Koffiebaai is ek ook so rustig soos ’n Wildekus-koei daar weg. Dit is maar die effek wat hierdie dorpie op ’n mens het en genoeg rede om dit by jou moet-besoek-lysie te voeg. Nietemin is hier sommer nóg ’n paar redes én ’n handjievol wenke vir jou besoek aan dié ongerepte stukkie kus.

“Nou, as daar nie baie koffie is nie, vanwaar die naam Koffiebaai dan?” Sal jy seker vra, as jy soos ek en my reismaat, Johmine, is. Na oorlewering het ’n vragskip wat jare gelede hier op die rotse geloop het ’n klomp koffiebone aan die kus laat beland. Honderde koffieboompies het ontkiem. Dié boompies het nie in die nat, bedompige klimaat geaard nie en naderhand almal gevrek, maar die naam het gebly.   

Koffiebaai het sy naam te danke aan honderde koffieboompies wat aan dié kuslyn ontkiem het, ná ’n vragskip aan wal geloop het. Hierdie is ook die pad wat jou tot by The Hole in the Wall neem.

So gepraat van die klimaat, die ander les wat ons met aankoms in dié dorpie leer, is dat die Wildekus baie beslis ’n somerreënvalstreek is. Dit is nie koud wanneer dit reën nie en die kans is groot dat jy doodluiters met plakkies en ’n kortbroek in gietende reën sal staan, maar as jy liefs die reën en die gepaardgaande modder wil vryspring, kom kuier in die winter, wanneer dit minder reënerig is en jou plakkies en kortbroek nogsteeds gepaste drag is. Die winter is ook die beste tyd om skole dolfyne en selfs walvisse te sien wat die Sardienloop rondom die kus volg en dán trek ywerige vissermanne ook enorme vangste uit die water.

Die winter is ook die beste tyd om skole dolfyne en selfs walvisse te sien wat die Sardienloop rondom die kus volg en dán trek ywerige vissermanne ook enorme vangste uit die water.

Ná twee aande se swaar reën speel Koffiebaai se kinders sokker op ’n deurdrenkte veld ─ ’n klinkklare aanduiding dat selfs die reën en modder in dié deel van die land nie onaangenaam is nie en niemand daarvan moet weerhou om te kom kuier nie.

Hoewel Koffiebaai bekend is vir sy rugsakreisigersopsies (en die dorp wemel van dié tipe losies) is ek en Johmine baie gelukkig om vier nagte by die Ocean View Hotel te bly. Dis ’n kaalvoet-tipe hotel met ’n restaurant, WiFi, spa, swembad, speelplek vir kinders en ’n hekkie tot op Koffiebaai se strand, maar sonder veel opgesmuktheid wat sou afbreek doen aan ’n ware Wildekus-ervaring. 

Elke sonsopkoms by die Ocean View Hotel maak dit die moeite werd om vroeg op te staan.

Die grootste voordeel van hierdie hotel vir my en Johmine is egter die netwerk betroubare, plaaslike gidse wat die heel lekkerste dele van Koffiebaai vir gaste ontsluit. Avonture wat by ontvangs bespreek kan word sluit ondermeer ’n voetslaanroete oor die lalis (golwende, grasbedekte heuwels) en langs die kus tot by The Hole in the Wall, kajakvaart op die Mthatharivier, diepseehengel en kransspring in. Daar is ook ’n boekie op die kraakvars koninggrootte-bed in elke hotelkamer wat hierdie avonture in fyner detail verduidelik. 

Gaste kan ’n rits avonture saam met ervare gidse by die hotel se ontvangs bespreek.

Wanneer jy aan die Wildekus kuier, is dit absoluut noodsaaklik om van erkende gidse gebruik te maak, soos ’n bordjie in Koffiebaai se middedorp ook maan. Die Wildekus is nie soos enige ander plek in die land nie ─ die weer is selfs op die helderste sonskyndag wispelturig en die paaie is nie duidelik gemerk nie (hoewel ek op die meeste plekke darem ’n redelike sterk selfoonsein merk wat jou uit knoop sou kon help). Almal wat ons tydens ons besoek in die dorpie ontmoet is vriendelik, maar net party locals ken die toeristemark en is opgelei om ’n professionele, informatiewe avontuur te bied, daarom werk ek en Johmine eerder deur Ocean View Hotel en ons is nie teleurgesteld nie. 

Wanneer jy aan die Wildekus kuier, is dit absoluut noodsaaklik om van erkende gidse gebruik te maak.

Die eerste avontuur wat ons by ontvangs vasmaak is ’n voetslaanroete saam met Nhaza’s Tours tot by The Hole in the Wall. Een van die hotel se honde, ’n onweerstaanbaar mollige brak genaamd Milo vergesel ons al elf kilometer. Die staproete begin buite die hotel se strandhekkie, waar koeie (hoe dan nou anders?) doodluiters in die sonnetjie lê en herkou, en kronkel dan oor lalis, af tot op die strand waar ons kaurieskulpies gewaar en helderpers en ligeengroen seewier in rotspoele sien dans. 

Ons stap om koeie op die strand, oor lalis en verby kuswatervalle tot by The Hole in the Wall. Kort-kort abba Nhaza sy tweejarige seuntjie. Milo, die Ocean View Hotel se inwonende hond, waggel ook saam.

Dan klim ons weer op teen die lalis en stap verby kuswatervalletjies tot by die rivier wat deur The Hole in the Wall se oog tot in die Indiese Oseaan vloei. Nhaza se vrou, wat ook die hotel se masseuse is, hulle tweejarige seuntjie, kleinnefie en die hotel se vriendelike bestuurder, Louis, en sy vrou stap almal saam ─ ’n aanduiding dat hierdie staptog eintlik maar vir ’n stapper van enige fiksheidsvlak of ouderdom gepas is. By die riviermonding swem ons sommer in ons klere, ’n welverdiende ruskans na ’n halwe oggend se stap.

Eindelaas by The Hole in the Wall! Hier swem ons in die rivermonding.

The Hole in the Wall en die gemeenskap rondom dit is basies soos ’n buurt van die groter Koffiebaai-area. Hier stop ons by Gigi’s en geniet slaptjips en drankies voor ons oorkant die pad by ’n kunsvlytwinkeltjie rondsnuffel. Ek maak ’n knoop in my oor om weer by Gigi’s te kom kuier wanneer ek na die Wildekus terugkeer en dan word ons deur een van Nhaza se helpers na die hotel teruggeneem. 

Ons geniet ’n drankie en slaptjips by die gesellige Gigi’s, ’n restaurant en kroeg naby die ikoniese Hole in the Wall.

Ons tweede avontuur is kajakvaart op die Mthatharivier saam met Mzo van Coffee Bay Kayaking. Ons word by die hotel se parkeerarea opgelaai en met ’n safarivoertuig langs grondpaaie, modderig van die vorige aand se reën, tot by die riviermonding geneem. By tye dink ek die paaie is onbegaanbaar, maar selfs op die mees onwaarskynlike plekke merk ek CiTi Gholfs geparkeer. Die reël van die Wildekus blyk dus te wees: Probeer om met ’n 4×4 te gaan, maar as jy nie kan nie, gaan in ’n CiTi Gholf. 

Die pad na die Mthatharivier is modderig van die vorige aand se reën, maar die perde staan darem vanself opsy.

Ons oggend op die rivier is meer as net ’n kajakvaart-oefening: Mzo leer ons so baie van die Xhosa-kultuur. Hy verduidelik vir ons hoe en wanneer die dorpenaars hulle helderkleurige huisies oprig, hoekom daar soms mielies op die dakke groei, hoe ongelooflik die wortelbome langs die rivier aangepas is om te oorleef en leer ons hoe om mini-kajakke uit riviergras te vou. Een of twee vlieënde visse spring ook plotseling uit die rivier en maak ’n boog oor ons kajakke. Nes ons, is hulle nuuskierig oor Mzo se stories. Wanneer ons teen middagete daardie dag by die hotel aankom, gaan lê ons eers vir ’n rukkie op die trampolien en kyk deur die kusplantegroei uit oor die see om ons Wildekus-ervaring tot dusver te bepeins.

Johmine is in die blou kajak saam met General, ek en Mzo deel ’n kajak en later word ons geleer hoe om ons eie kajakke uit riviergras te vou!

In Koffiebaai self is daar genoeg om jou op ’n stadige pas besig te hou. Die enigste winkel is die helderpienk Bomvu River Store waar die eienaar jou van agter traliewerk help om items van ’n rak af te kies. Dit is ook die enigste plek op die dorp waar jy geld kan trek. Langsaan is ’n geskenkwinkeltjie met ’n masseuse en aan die oorkant die enigste koffiewinkel in Koffiebaai. Hy verdien sy eie paragraaf. 

Die Bomvu River Store het die meeste items wat jy sou benodig, maar as jy onseker is of dit al die nodige kruideniersware het, is daar restaurante in die omtrek waar jy vir middagete kan aansit.

Rock Coffee is ’n belewenis. Die koffie is duur, maar die moeite werd en word deur ’n kelner bedien wat op die koop toe sommer ook kulkunsies doen. Dit is seker dan waarom die plank bo die koffiekroeg proklameer: “Came for the mushrooms, stayed for the magic.” Die naam van die koffiewinkel sê ook presies wat dit is: Saans word hier op ’n eina-klein verhogie musiek gemaak, oftewel, “ge-rock”. Bedags is die koffie-entoesiaste wat hier werk alte ywerig om jou toe te laat om jou eie koffiebone met ’n gladde rivierklip binne ’n uitgeholde spoelklip te maal. Dan stuif die koffie-aroma behoorlik in jou neus op. Salig!

Dis miskien die enigste koffiewinkel in Koffiebaai, maar Rock Coffee staan groot skoene vol. As ons kon het ons baie langer hier gekuier, want die atmosfeer én die koffie is lekker. Foto bo regs deur Louis Kotze.

Oorkant die pad, teen ’n redelike steilte op, word jy met die lekkerste pizzas op die dorp beloon. Papazela’s bedien houtvuur-pizzas op ’n dek wat ’n uitsig oor die dorpie tot by die see bied. Papazela (Ons het nou nie sy regte naam gevra nie. Die man is besig.), maak self die pizzas en daar is ’n klein stalletjie waar jy ’n kraletjie-armbad of -kettinkie kan koop. Dit is hier waar ons ons dag in die dorp met ’n Coke en ’n perfekte pizza totsiens roep.

Papazela’s bedien die beste pizzas op die dorp en jou heerlike maaltyd word deur ’n uitsig oor die dorp gekomplementeer.

Koffiebaai (en die Wildekus) se grootste aantrekkingskrag bly egter die avontuur wat jou oral vergesel. Dit is ’n plek vir mense wat nie veel meer as natuurskoon en vriendelike mense nodig het om hulle te vermaak nie; ’n plek vir wilde harte wat besef dat daar soms, soos die Ocean View Hotel se strandhekkie getuig, nie lewensredders aan diens is nie en in elk geval tot op die strand stap, reg vir avontuur.

Koffiebaai se strand met die Ocean View Hotel in die verte.

Wat jy moet weet:

  • Party geakkrediteerde verblyf-opsies, soos die Ocean View Hotel, bied ’n pendeldiens tot in Koffiebaai. Andersins is dit sowat vier ure se ry vanaf Oos-Londen se lughawe.
  • Koffiebaai se paaie is, veral in die somerreënvalseisoen, redelik modderig en ’n 4×4 word aanbeveel alhoewel daar met ons besoek heelparty luikrugmotors in die dorp te sien was. 
  • Daar is baie diere (veral varke, beeste en bokke) in die pad, so wees geduldig. 
  • Koffiebaai het net een winkel, die Bomvu River Store, en dit is ook hier waar jy geld kan trek. 
  • Maak van erkende, plaaslike gidse gebruik as jy nie met die omgewing vertroud is nie. Moenie net enige local se hulp as gids aanvaar nie.  
  • Dit is ’n somerreënvalstreek, so die winter is eintlik die beste tyd om te gaan as jy minder modderige paaie en ’n helder see wil sien. Dit raak ook nie regtig baie koud in die winter nie, wat dié tyd van die jaar die ideale besoektyd maak. 

______________________________

Baie dankie aan die Ocean View Hotel, Nhaza’s Tours, Gigi’s en Coffee Bay Kayaking vir julle gasvryheid!

Alle foto’s insluitend die hooffoto deur Adriëtte le Roux, tensy anders vermeld.