Die winter het sy koue kloue die afgelope paar weke behoorlik in Kaapstad ingeslaan. Hierdie tyd van die jaar verruil Kapenaars sonbaaisessies en mengeldrankies op die strand vir ontwerperskoffie en soetgebak in kunstige koffiewinkels. LekkeSlaap het die beste koffie in Kaapstad vir jou opgespoor.

1. Rosetta Roastery, Woodstock

Rosetta Roastery is dié koffiewinkel in Woodstock se kunstenaarsarea. Rob Cowles, Jono le Feuvre en Jeffrey van Aswegen se vakmanskap is so gevorderd dat hulle tans op die kruin van Kaapstad se koffiegolf is. Net enkeloorsprongkoffie wat met die hand uitgesoek is in Suid-Amerika, Sentraal-Amerika, Afrika en Asië is goed genoeg vir Rosetta Roastery. Volgens Jono het elke koffie op die spyskaart ‘n unieke persoonlikheid. Die Yirgacheffe (van Etiopië) is, byvoorbeeld, “soos ‘n ouerige aktrise wat so bietjie vol nonsens is”. LekkeSlaap dink die man is ‘n koffieprofeet, maar jy hoef ons nie te glo nie – vind sélf uit! (wenk: bestel ‘n “pour-over” en probeer dit eers sonder melk of suiker)

Maandag tot Vrydag: 08:00 – 16:30; Saterdag: 08:00 – 13:00 / Woodstock Exchange AG01, Albertstraat 66, Woodstock / (0)21 447 4099.

2. Origin Coffee Roasting

Origin Coffee Roasting se rooibaksteengebou is ‘n stukkie New York in De Waterkant. Moenie hierdie koffiewinkel op sy, effens vaal, baadjie takseer nie – sodra jy die drumpel betree kom jy gou agter hoekom hulle hulself die “artisan roasters of Africa” noem! Die gestroopte industriële interieur bestaan uit twee vlakke en daar is selfs ‘n hoekie met eksotiese tees. Origin is (met reg) trots op hul meesterskap in al die fasette van koffievakmanskap: uitsoek van die beste groen bone, roosterkuns, vermenging, maal, brou en bedien. Sy uitstekende ligging in die hartjie van die Moederstad en die rustige musiek maak dit die ideale plek om die beste wortelkoek en piesangbrood in De Waterkant te geniet.

Maandag tot Vrydag: 07:00 – 17:00; Saterdag en Sondag: 09:00 – 14:00 / Hudsonstraat 28, De Waterkant, Middestad / (0)21 421 1000.

3. Bean There Coffee Company

Bean There is ‘n koffiewinkel met ‘n baie spitsvondige naam wat besoekers bekendstel aan van Afrika se beste enkeloorsprongkoffie. By Bean There leer koffieliefhebbers ook sommer meer van Afrika se vernaamste koffieprodusente (Etiopië, Kenia, Burundi, Rwanda, Tanzanië). Is daar ‘n beter manier om meer oor ‘n land, soos Kenia, te leer as met ‘n perfek-geroosterde koppie koffie in die hand? LekkeSlaap dink beslis nie so nie! Bean There se vrolike dekor, verkleurmannetjielampskerms en groot flesse vol varsgeroosterde koffiebone skep ‘n heerlike atmosfeer wat ‘n glimlag op die suurste gesig sal sit. Bean There se prioriteite is goeie koffie en volhoubaarheid – die koffie wat jy hier drink is nie ten koste van die planeet of jou medemens nie. Kom maak sommer vroeg in die oggend ‘n draai by Bean There en begin jou dag met ‘n uitstekende koppie Afrika-koffie en ‘n huppel in jou stap!

Maandag tot Saterdag: 07:30 – 16:00 / Waalstraat 58, Middestad / (0)21 943 2228.

4. Truth.Coffee

Volgens die reisjoernalis Tom Midlane is Truth “die beste koffiewinkel in die wêreld”. Die koffies hier het aggressiewe name soos “Vengeance”, “Resurrection”, “Donde’s Chaos” en “Antithesis” wat hierdie stelling met baie selfvertroue bevestig. Die “Steampunk”-interieur resoneer perfek met die koffies se name en bestaan uit metaalpype, ou tikmasjiene, saaglemtafels en outydse telefone. As jy smag na ontvlugting en ‘n goeie espresso of cappuccino, is dit nét die plek!

Maandag tot Donderdag: 07:00 – 18:00; Vrydag: 07:00 – laat; Saterdag: 08:00 – 18:00; Sondag: 08:00 – 14:00  / Buitenkantstraat 36,  Middestad / 021 788 2909.

5. Jason Bakery

Jason Bakery sit gewoonlik vol honger “hipsters” wat tien teen een hier vertoef omdat die koffiewinkel se slagspreuk “Beer, bread, bubbles” is. Maar dit is nie al wat op die spyskaart is nie. Jardine Bakery se naam het nou wel verander, maar die spek-croissants waarvoor hulle so bekend was, is steeds op die spyskaart. Hierdie knus kafee op die hoek van Bree- en Bloemstraat kry dit reg om “wegneem” en “aansit” soomloos te vervleg: koop wegneemkoffies en -gebak by die bedieningsluik of geniet jou oggendkoffie en koerant aan die binnekant waar die houtvloer en -mure in sagte lig gedoop is. Die middagetes word op die swartbord aangedui en die gebak kom reguit uit die hemel. Dit is effens duur, maar wat verwag jy dan om te betaal vir brode uit Olimpus se oonde?

Maandag tot Vrydag: 07:00 – 15:30; Saterdag: 08:00 – 14:00 / Breestraat 185, Middestad / (0)21 424 5644.

6. The Foodbarn, Noordhoek

The Foodbarn is ‘n informele eetplekkie wat spog met die beste koffie in die Noordhoekvallei. Smul aan heerlike soetgebak terwyl jy deur ‘n koerant blaai by die deli. Dit is ook die ideale plek vir boekliefhebbers wat op soek is na ‘n knus leeshoekie en goeie koffie – die mure is versier met honderde boeke wat jy kan lees en uitruil.

Maandag tot Vrydag: 08:00 – 16:30 / Noordhoek Farm Village, op die hoek van Corner Village Lane en Noordhoek se hoofstraat, Noordhoek / (0)21 789 1966.

7. Knead Bakery, Muizenberg

Knead Bakery Muizenberg benader die lewe volgens hul gunsteling-aanhaling van Orson Welles: “Ask not what you can do for your country. Ask what’s for lunch.” Hierdie luilekker koffiewinkel bars gewoonlik uit sy nate van branderplankryers, strandvrate en gesinne wat op soek is na ‘n plekkie waar hulle kan ontvlug van die Suidooster en ‘n heerlike ete kan geniet. Soek ‘n plekkie by een van die reuse vensters, bestel ‘n warm koppie koffie, voel hoe die salige aroma van varsgebakte brood jou sus, en verloor jouself in die uitsig op die eindelose see …

Dinsdag tot Saterdag: 08:00 – 20:30; Maandae, Sondae en openbare vakansiedae: 08:00 – 18:00 / Surfer’s Corner, Beach Straat, Muizenberg / 021 788 2909.

8. Cafeen

Cafeen is ‘n prettige koffiewinkel-cum-vertoonkamer met ‘n pretensielose atmosfeer – hulle slagspreuk is “blend in, chill out”. Hierdie koffiewinkel staan oorkant ‘n parkie in Harfield Village en het wonderskone uitsigte op die gholfbaan en die berge. Koffieluste kan hul gunsteling-wonderdrankie binne of op die veranda geniet, so die plekkie is ideaal wanneer die son skyn én wanneer die Kaap van storms sy naam gestand doen. Gratis WiFi is beskikbaaar en die stewige “Hangover Breakfast” is net wat jy nodig het voor jy die pad vat na van die Moederstad se mooiste besienswaardighede. (Onthou net om ‘n ogie te hou oor Cafeen se twee katte wat ‘n gewoonte het om klante se warm sitplekke te steel!)

Maandag tot Vrydag: 08:00 – 16:30, Saterdag en openbare vakansiedae: 08:00 – 15:00, Sondae: 09:00 – 14:00 | 41, 3de Laan, Harfield Village, Kenilworth / +27 (0)21 674 6209.

9. Café d Arts

Café d Arts is weggesteek bokant ‘n kunsgallery in een van Dieprivier se systrate en is ‘n verborge skat vir almal behalwe “die wat weet”. Verlustig jouself in die luisterryke uitsig op die berge in die wete dat die res van die wêreld nie weet waar jy wegkruip nie. Kies ‘n tafel tussen die interessante dekor, plante en kaktusse, voel die winterson op jou vel, gebruik die WiFi en drink ‘n lekker koppie koffie. Bestel ‘n pannekoek met Nutella of ‘n sny suurlemoen-meringue-tert – voel hoe jou smaakknoppies dit omsit in sinlike genot! Koffiedrinkers wat spesifieke dieetplanne volg, kan gerus vir Lynn bel so dag of wat voor hulle hier aandoen – sy koester ‘n hele paar glutenvrye en gebalanseerde resepte sonder laktose onder haar sjefshoed! Of, as jy bang is vir Professor Noakes, bestel gewoon iets van die koolhidraatvrye spyskaart af. Handwerkklasse soos “Scrap and Chat”, borduurwerk, blommerangskikking, koekversiering, Sushi en mosaïek word op die onderste vloer aangebied..

Maandag tot Vrydag: 08:00 – 16:00. Saterdag: 08:00 – 14:00 / Hanoverstraat 2, Dieprivier / +27 (0)21 712 0936

Oorspronklike blog deur Lauren Morling
Vertaal en aangepas deur Herman Botha