“Die kremetartboom is ‘n allerboomste boom” skryf T.T. Cloete in sy gedig oor dié boom. Agt spesies van dié wonderboom is regoor Madagaskar, Australië en Afrika versprei. Ses uit die agt spesies kom in Madagaskar voor, een van die ander in Australië  en die Afrikaanse Kremetart kom in Noordoos, Sentraal- en Suider-Afrika voor.

Kremetartbome kan tot 100 000 liter water in hulle stamme stoor wat 5 tot 20 m hoog kan strek. Dit is ‘n tegniek wat verseker dat hulle kan oorleef in die droë areas waar hulle voorkom. Die bome kom voor in gebiede waar seisoenale droogtes die norm is. Hulle het al tot die redding gekom van baie reisigers wat in die dor dele van Afrika vasgebrand het. Kremetartbome is bladwisselend en verloor hulle blare in die droë seisoen. Die boom lyk dan of sy wortel in die lug is, en daarom staan hy ook bekend as die “onderstebo-boom”. Die boom se bas is glad en blink en het soms ‘n pienkerige of koper -skynsel.

‘n Bejaarde kremetartboom kan selfs sy eie eko-sisteem ondersteun, met honderde organismes wat op een of ander manier van die boom afhanklik is. Voëltjies maak nes in sy takke, bobbejane verslind die vrugte, nagapies en vrugtevlermuise drink die nektar en bestuif die blomme.

Die boom het die mooiste wit blomme wat slegs in die nag blom. Die stuifmeel kan in gom omskep word. Die vrugte is baie groot en is ‘n bron van vitamien C en wynsteensuur – dit word in water geweek om ‘n verfrissende drankie te maak of dit kan gerooster en gemaal word om ‘n tipe drankie (soos koffie) te produseer. Die bas van die wonderboom kan gebruik word om matte, tou, lap en papier te maak. Selfs die blare kan gekook en geëet word (dit is amper dieselfde tekstuur as spinasieblare).

Op Platland Plaas, naby aan Modjadjiskloof in Limpopo, is daar ‘n unieke kremetartboom wat omtrent 19 m bo die grond troon. In die holte van die boom skuil daar ‘n lekke kuierplekkie – die boom bevat ‘n kroeg! Wetenskaplikes het bevind dat die boom ±1060 jaar oud is. Die boomstam bestaan uit 2 hol dele wat aanmekaar verbind is. Die een holte bevat die kroeg en die ander ‘n wynkelder wat in 1993 deur die eienaar van die plaas gebou is. Die natuurlike ventilasie van die boom maak dit ideaal omdat dit die bier en wyn koud hou. Tot 60 mense was al op een slag in die kroeg.

Indien jy dié wonderboom in Suid-Afrika wil aanskou, sal jy moet spore maak in die rigting van die Soutpansberge in die Limpopo-provinsie. Gooi ‘n ogie by Musina en Louis Trichardt.

Fotos verskaf deur:

Hooffoto: Mapungubwe Landskap – Fotograaf: Martin Heigan (Flickr)

Kremetart – Fotograaf: Chris Eason (Flickr)

Kremetart Africain – Fotograaf: Dinesh Valke (Flickr)

Kremetartblom en -vrug – Fotograaf: Andrew Ashton (Flickr)

Kremertartvrugte – Fotograaf: Feed the Future (Flickr)

Platland Plaas se kroeg in ‘n kremetartboom –Fotograaf: Big Baobab en Pim Stouten (Flickr)