Ja, die Kaap is fraai, maar was jy al in Swellendam? Ek bedoel nou nie net as ’n vinnige stilhouplek op pad Tuinroete toe nie. Ek praat van daai behóórlike besoek wat Swellendam verdien, want genoeg tyd in dié Overbergse dorp sal jou leer hoe ’n gehaltelewe rêrig lyk.
Dis juis omdat ons iets nuut wil leer dat ek en Hestè op ’n Donderdagmiddag oor Sir Lowryspas snel. Toe ons die Swellendam Winterskool se kursus-opsies sien, móés ons eenvoudig hulle uitnodiging aanvaar om iets by Swellendam se talentvolle inwoners te leer. Van skryf, skilder en seepkook, tot broodbak, pottebak en fotografie ─ daar is ’n kursus wat in elkeen se smaak sal val.
Ons is nog nie eens in Swellendam nie of ons word begroet ─ eers deur die kanola (ek demonstreer hieronder hoe ’n mens oor ’n draad klim) en daarna deur die bloeiende aalwyne wat op aandag staan uit pure trots om die dorp se poortwagte te wees.
Die son hang al laag wanneer ons by Moolmanshof & Stables, ons naweektuiste, indraai. Die heerlike reuk van sop sweef deur die voordeur gevolg deur Lizette, die eienares en gasvrou, en Krismis, die gastehuis se optelkat wat een Kersdag hier opgedaag het en besluit het dis te lekker, hy bly (lees tot heel onder om ’n foto van Krismis te sien). As die oudste woonhuis in Swellendam, is Moolmanshof ’n regte ou dame met reusetuine waarin die personeel selfs in die wintertyd werkskaf, want die lente is altyd op pad. Die gastehuis self is liefderik deur Lizette versier en elke oppervlak is met vars blomme getooi.
Sodra ons tasse neergesit is, mik ons Barrel & Blues toe. Dié kroegrestaurant is stampvol al is dit net ’n gewone Donderdagaand, so maak liefs ’n bespreking. Soos Gerald, die eienaar, tereg die skare verduidelik: “Almal tussen 18 en 80 kuier hier.” Ek dink nogal oorle Johnny Cash en Piet Botha, wat lewensgroot teen die muur pronk, sou ook dié kuierplek uitgekies het en gigs deur kunstenaars soos Valiant Swart, Mel Botes en Saarkie is al hier gehou. Groot name tree die eerste Vrydag na die 25ste van elke maand teen ’n vaste R50 op. Ons smul aan ribbetjies, uieringe, tjips en gin uit ’n kraantjie, om nie te praat van die pizzas wat na dorpsinwoners vernoem is nie. Vra ’n bietjie vir Gerald wie Lady Amanda en Hot Oom Dave is dat ’n pizza na hulle vernoem is. Die stewige porsies verseker egter dat ek baie vinnig Vaak Feë Adriëtte is en ons klim vroeg tussen Moolmanshof se vars, wit lakens in.
Vrydagoggend word ingelyf met ’n verkwikkende massering by Rain Spa waar die soel 30°C-stelling op die lugversorging en sagte oerwoudklanke my laat vergeet dat dit buite sous. Dié spa in Swellendam is die heel eerste winkel van die bekende Rain Africa bad- en lyfproduktereeks. Vandag is daar 32 soortgelykes wat reg oor Namibië, Ierland en Amerika te vinde is. Die eienaares, Bev Missing, is een van die ondernemende Swellendammers wat by die Winterskool betrokke is en bied ’n seepmaakkursus aan.
Wanneer ons later met haar gesels leer ons dat sy 23 jaar gelede deur middel van ’n internetkletsgroep leer seep maak het toe haar kreet “Is daar enigiemand daarbuite wat my kan leer seep maak? Ek’s in Afrika!” deur Therese, ’n borrelende vrou in Texas se seepresepte beantwoord is. Bev se vraag het gespruit uit ’n begeerte om iets te doen om werkloosheid onder vroue aan te spreek. Dis miskien ’n klein begin, maar vandag maak parfuumhuise in Parys op haar aandrang Afrika-geïnspireerde geure, reis sy wyd en syd om inspirasieborde vir nuwe parfuum saam te stel, en bied sy werk aan talle vroue. Dit laat ’n mens oor die krag van ’n ou sepie nadink, nè?
Ná my massering maak ons ’n draai by The Continent of Sulina, ’n feetjie-bewarea, enig in sy soort. Ek voel self soos ’n feetjie, want Hestè sê ek blink soos ’n rob en ruik lekker van al Rain se olies. Vir R20 mag ons deur die feetjietuin en die speelarea wandel en ons neem talle foto’s. Hier fluister ’n kabouter in ’n feetjie se oor, daar smeul ’n draak tussen die blare. Ek is aangenaam verras, want ek was laas hier toe ek nog ’n bogkind was en was bevrees ek sou juis nie beïndruk wees nie, maar dis glad nie die geval nie. ’n Gesin met drie woelige kinders loop voor ons ─ Ma en Pa net so verstom soos die kroos. Binne die winkel self mag ons nie foto’s neem nie (so jy sal maar self moet gaan kyk), maar die plek is ’n kleurvolle lushof en, so oud soos ons is, kan ons nie weerstaan om elkeen iets te koop nie.
Teen vroegmiddag sit ons aan by Old Gaol Coffee Shop and Restaurant ─ die oulikste restaurant met knus kamers en groot vensters waar die wintersonnetjie inskyn. In die somer sal die dek vir seker verbygangers lok. Hestè bestel (per ongeluk) ’n stuk melktert so groot soos haar kop en, as die wêreld se voorste sop-eter, is die roosterkoek en botterskorsiesop (met ’n bietjie byt om jou wakker te hou) my perfekte middagete. Dit word, natuurlik, afgerond met goeie dompelpotkoffie.
Wanneer Hestè vertrek om by Meraai te leer suurdeegbrood bak, stap ek die dorp plat. Soos gewoonlik sien die antiekwarewinkels my eerste en daar is heelwat van hulle met goeie pryse, pragstukke en, soos by Moolmanshof, altyd ’n optelkat wat iewers in ’n sonkol lê en bak. Daarna is dit Bee Things se beurt. By dié winkel kan jy heuning uittap en ’n rits by-verwante produkte en toerusting koop om self met bye te begin woeker. Laastens maak ek ’n draai by die aalwynkwekery, Rooiklip, met die grootste verskeidenheid aalwyne en vetplante wat ek al gesien het. Daar is ook ’n kursus oor aalwynsorg by die Winterskool, maar dié verneem ek is reeds bykans volbespreek.
Wanneer ek vir Hestè optel is haar wange bloedrooi van trots en inspanning en in haar hande hou sy ’n bruinpapiersak met ’n varsgebakte broodjie. Meraai, sê sy, het in Frankryk geleer hoe om ’n levain (deegplantjie) vir egte suurdeeg van meel en water te maak, haar brode hier in Swellendam begin bak, en nadat gastehuise en dorpenaars na haar baksels begin vra het, het sy met haar kenmerkende, kreatiewe flair broodbak as beroep aangepak. Meraai se brode kan Saterdagoggend by die Under the Oaks-markie by Bella Donna-kwekery gekoop word en sy bied ’n broodbakkursus by die Winterskool aan. Dít vertel Hestè my terwyl ons die dag met ’n drankie by The Republic of Swellendam Restaurant afsluit.
Ons is genooi om Moolmanshof se sop-ete, die einste sop wat ons die vorige aand geruik het, by te woon en die huis gons omtrent. Sulke spesialiteitsaande gebeur by uitsondering, maar bel en vra gerus wanneer jy jou kaartjie kan bespreek, want ons het ons met goeie rede knuppeldik geëet. Daar was tot sjerrie teen die koue en ’n broodjie met houtskool (charcoal) wat deesdae so gewild is. Lizette het haar oortref en ek droom die aand van sop ─ Hestè van brood.
Saterdagoggend word ’n volledige Engelse ontbyt bedien en daar is tot blomme in die kos, want kappertjies knipoog vir ons vanaf ons borde. Die ontbyt is nie by die tarief ingesluit nie, maar moet vooraf bespreek word. Wanneer ons by die Under the Oaks-markie aankom, is daar reeds heelwat stalletjies opgeslaan en Meraai se broodstalletjie is só besig ons kan skaars ’n foto neem. Van olywe tot organiese groente en koffie tot kuns ─ dis die perfekte manier om jou Saterdag te begin.
Teen 11:00 stap ek om die hoek Bukkenburg Pottery Studio toe om by David Schlapobersky en Felicity Potter ’n pottebakkerydemonstrasie by te woon. David bied ’n baie gewilde drie- en vyfdagkursus by die Winterskool aan waar hy kursusgangers leer om hul eie kleibakkies te maak ─ eers met slegs hulle hande en dan op die wiel. Ek kry ook ’n oorsig van hierdie prosesse en raak nét daar verlief op pottebakkery ─ hier kom nog ’n stokperdjie.
Maar dis nie net omdat “die klei met my praat nie”. David is ’n uitstekende onderwyser en sy rustige, interessante geselsies en die pragtige lewe wat hy en Felicity in Swellendam uitgekerf het, stem my so rustig dat ek tred met die tyd verloor en Hestè naderhand bel om te hoor waar ek draai. Sy tref my op Bukkenberg se agterstoep aan waar ons in die sonnetjie sit en gesels en die voëltjies in die tuin dophou. David wys ons die vars “baksel” potte ─ sommiges gaan na oorsese huise toe! ─ wat pas uit die oond kom en dis pure towerkuns as hy verduidelik hoe verskillende plante se as die pragtigste blou-groen-, turkoois en grys-skakerings op die potte maak. Die keramiekvesel waarmee die oond uitgevoer is, is van dieselfde soort wat op ruimtetuie gebruik word!
Ons monde hang die res van die middag oop terwyl ons kyk hoe die pragtigste vorms uit stukke grysbruin klei geskep word en wanneer ons Bukkenburg om 16:00 groet, is daar nét genoeg tyd om vinnig deur die stort te spring voor ons ete saam met die Winterskool by Drostdy Restaurant.
Aangesien die son gesak het, is daar ’n byt in die lug, maar, soos die gedig lui, “hierbinne is [ons] veilig, warm en dig” ─ H.A. Fagan het egter vergeet om by te voeg dat ons ook heerlik gevoed is, want Drostdy bedien tradisionele Suid-Afrikaanse hartskos met Franse flair en nie één van die dosyn mense aan tafel kan enigsins spyt wees oor wat hulle bestel het nie. Ná ’n behoorlike geselligheid keer ons weer gastehuis toe.
Ons geniet ons laaste ontbyt bestaande uit pannekoek, gestoofde appels en jogurt by Moolmanshof en groet dan vir Lizette en Krismis. Lizette gee ons haar kenmerkende glimlag soos ons wegtrek. Krismis gooi hom op sy rug neer en krul sy stert om die stoepbank se poot asof ons vreeslik baie moeite was. Soos ons die dorp verlaat weet ek twee dinge: Ek kom volgende jaar terug vir die Winterskool om nog meer te leer én ek kan sweer een van die aalwyne het ’n buiging gemaak toe ons om die hoek ry.
Bedankings
- Lizette van Moolmanshof & Stables wat vir ons die naweek ’n luukse heenkome met heerlike etes gebied het.
- Die Swellendam Winterskool en in die besonder vir Amanda vir julle koördinering en samesyn.
- Meraai wat vir Hestè geleer het van die towerkrag van brood.
- David en Felicity van Bukkenberg Pottery dat julle jul kuns, kos en mooi leefwêreld vir ’n middag met ons gedeel het. Kontak hulle gerus om te hoor wanneer hulle nog werkswinkels aanbied.
Hooffoto: Adriëtte le Roux
Alle ander foto’s: Adriëtte le Roux en Hestè Nortier