Tussen die 15de en die 19de eeu was dit maar vir seevaarders ’n dobbelspel om die Suid-Afrikaanse kus te omseil. Vergeet maar van seemonsters, ander mitologiese gediertes en bygelowe wat seevaarders destyds saam met hulle gedra het. Suid-Afrika se soms brutale skoonheid kon skepe ruk en rol, en ja, dit hét ook! Daar is bykans 200 skeepswrakke aan die 3000 km kuslyn van Suid-Afrika … maar daar was lig aan die einde van die tonnel.

Die eerste vuurtorings is in die 1800’s grootliks opgerig in ’n poging om die groot hoeveelheid skeepswrakke te verminder. In 1902 is Harry Claude Lee Cooper, ’n Engelse vuurtoring-ingenieur, na Suid-Afrika gestuur met die opdrag om meer vuurtorings op te rig. Net 17 vuurtorings was in ’n werkende toestand toe hy hier aangeland het. Vandag is daar egter 45, en Suid-Afrika is ook een van die laaste lande waar sommige vuurtorings steeds beman word.

Hier is 10 pragtige vuurtorings wat lig maak waar dit donker is.

1. Slangkop

Slangkop Vuurtoring naby Kommetjie is van gietyster gemaak en is 33 meter hoog, wat dit die hoogste vuurtoring in Suid-Afrika maak. Die vuurtoring moes in 1914 voltooi gewees het, maar weens die Eerste Wêreldoorlog is dit eers in 1919 voltooi, alhoewel dit al in werking was voor dit voltooi is.

 2. Groenpunt

 

Groenpunt Vuurtoring was die eerste vuurtoring op die Suid-Afrikaanse kus (1824) en is die oudste vuurtoring wat nog in werkende toestand is. Baie vuurtoringbewaarders het hul loopbane en opleiding hier begin. Die toring is ’n 16 meter hoë vierkantige struktuur, dit was ook die eerste soliede vuurtoring op die Suid-Afrikaanse kus en is die oudste vuurtoring in werking. Toe dié vuurtoring se lamp vir die eerste keer aangesteek is, het dit met pitvisolielampe gebrand.

3. Dasseneiland

Dasseneiland, 10 km wes van Yzerfontein, is ’n onbewoonde eiland in die Atlantiese Oseaan. Vroeë Portugese seevaarders het die eiland aanvanklik “Ilha Branca” (Wit Eiland) genoem, waarna dit Elizabeth-eiland in 1601 genoem is en uiteindelik Dasseneiland – die Nederlands vir Dassie, wat volop op die eiland is. As gevolg van die vele dassies, pikkewyne, wit flaminke, suidelike noordkappers en kreef wat hier te vind is, word die eiland deur die Kaapse Natuurbewaringsraad beskerm.

4. Kaap Hermes

Die Kaap Hermes Vuurtoring is by Port St. Johns geleë aan die Ooskus geleë. Die vuurtoring is ’n 13 meter agthoekige steentoring wat in 1903 opgerig is. Die vuurtoring is na die HMS Hermes vernoem wat nasionale opmetings in Pondoland se kuswaters gedoen het. Dit is een van die min vuurtorings wat steeds ’n vuurtoringbewaarder het.

5. Seal Point

Seal Point Vuurtoring, by Kaap St. Francis in die Oos-Kaap, staan 27,75 meter hoog. Die 3 pitte van die lig is vir die eerste keer op 4 Julie 1878 aangesteek, en het met die helderheid van 15 000 kerse en ’n enkele ligstraal elke 20 sekondes oor die donker see gewerp. ’n Petroleumdampbrander is uiteindelik geïnstalleer wat die kerskrag tot 120 000 kerse opgegradeer het. Vandag flits die lig elke 5 sekondes met ’n helderheid van 2,750,000 kerse, wat 28 seemyle ver gesien kan word.

6. Robbeneiland

Robbeneiland se vuurtoring is in 1865 op die hoogste punt van Robbeneiland gebou. Jan van Riebeeck se dagboek noem dat groot vure in 1665 op dié punt op Vuurheuwel (nou Mintoheuwel) aangesteek is om VOC-skepe teen die rotse om die eiland te waarsku. Die vuurtoring is 18 meter hoog en is in 1938 aangepas om met elektrisiteit te werk. Dit is die enigste vuurtoring in Suid-Afrika wat nie roteer nie, dit flits.

 7. Roman Rock

roman rock new

Roman Rock-Vuurtoring is in 1861 op ’n rots in Valsbaai, naby Simonstad, gebou. Dié vuurtoring is die enigste vuurtoring aan die Suid-Afrikaanse kus wat op ’n rots gebou is, en staan 17 meter bo die hoogwatermerk. Rowwe seetoestande en omliggende rotse maak toegang per boot baie moeilik, wat gelei het na die bou van ’n  struktuur wat daarby aangeheg is, waarop helikopters kan land. Elektrisiteit word vanaf die vasteland ontvang deur ’n kabel wat onder die see aangelê is.

8. Kaap Columbine

Dié vuurtoring is geleë in Tietiesbaai Natuurreservaat, 5 km van die ouwêreldse vissersdorpie Paternoster. Hierdie kus is die begraafplaas van vele skepe, wat die nood aan ’n vuurtoring vergroot het. Volgens een van die legendes het die Portugese skip, die SS Liboa, wat in 1910 hier gesink het, se groot rooiwynvrag die see tydelik rooi gevlek. Toe die vuurtoring uiteindelik in 1936 opgerig is, was dit al 30 jaar in beplanning, maar Walvisbaai en Dasseneiland se vuurtorings moes voorkeur kry. Die Columbine Vuurtoring is die eerste vuurtoring wat van 3 waarskuwingseine gebruik gemaak het: lig, missein en radiobaken. Die optiese apparaat was ook die eerste lens-stelsel in Suid-Afrika wat ’n 4 kilowatt gloeiende elektriese lamp gebruik het – al die ander lens-stelsels voor dit is ontwerp om met petroleum- of dampbranders te werk.

9. Kaap Agulhas

’n Vuurtoring op die Suidelikste punt van Afrika! Dit is die derde vuurtoring wat in Suid-Afrika gebou is, naas Groenpunt Vuurtoring is dit die tweede oudste vuurtoring wat steeds funksioneer. In 1840 het Michiel van Breda, die stigter van Bredasdorp, die land waarop die vuurtoring sou staan aan die projek geskenk – ’n projek wat uiteindelik £15 871 (omtrent R335 018) sou kos. Die lamp is op 1 Maart 1849 vir die eerste keer aangesteek. Oorspronklik het die lamp met skaapstertvet gebrand, maar is in 1905 met ’n olie-lantern vervang. ’n Fresnel-lens is in 1910 geïnstalleer en in 1929 is die oliebrander deur ’n petroleumdampbrander vervang, wat in 1936 deur ’n elektriese lamp vervang is. In 1968 het die sandsteenmure waarop dit gestaan het begin verkrummel en is die vuurtoring buite diens gestel. Die gebou is in 1973 tot Nasionale Monument verklaar en ook as ’n Wes-Kaapse Erfenisgebied. In 1988 is die vuurtoring weer in gebruik geneem.

 10. Kaap St. Blaize

Die ikoniese vuurtoring in Mosselbaai is in 1864 aangeskakel en staan 20.5 meter hoog. Dit is Kaap St. Blaize genoem omdat Bartolomeu Dias en sy bemanning op 3 Februarie 1488, St. Blaizes-dag (’n Katolieke vakansiedag), by Mosselbaai vasgemeer het. Die vuurtoring het oorspronklik met ’n fonteinlamp met ’n enkele rooi lig gebrand wat 15 seemyl ver gesien kon word. Na ’n paar ander opgraderings is dit in 1931 opgradeer na ’n elektriese lamp.

Suid-Afrika het ’n ryk seevaartgeskiedenis met baie stories van klein skepe, groot golwe en vuurtorings op rotse in die verte wat waarku en welkom heet – “Ahoy!”. Watter stories sou dié vuurtorings nie als kon deel nie?