Ja, jy het reg geraai … Die jaar vlieg verby en Moedersdag is alweer om die draai! Die vier van moeders en moederskap het al in die Griekse en Romeinse mitologie begin, hoewel hulle in daardie tyd net offers aan godinne gebring het. In ons moderne wêreld word Moedersdag jaarliks op die tweede Sondag in Mei gevier en vanjaar se datum is 8 Mei 2016.

Moedersdag is die één dag van die jaar waarop ons wêreldwyd vir ons ma’s en oumas kan dankie sê vir al die skooltoebroodjies, pleisters op stukkende knieë en storielees. ’n Ma sal berge vir haar gesin, en veral vir haar kinders, versit. So, kom ons bederf ’n slag vir Mamma.

Ons het ‘n heerlike middagtee by One&Only Cape Town op die proef gaan stel en dit is bo aan ons bederflysie dié Moedersdag!

One&Only Cape Town, ’n luukse hotel in die V&A Waterfront, het twee van ons bloggers uitgenooi om ’n middagtee in hulle Vista Lounge te geniet – voorwaar ’n heerlike bederf vir Moedersdag!

Die Vista Lounge is ’n luukse, ruim sitkamer met ’n gesellige atmosfeer. Dit is ideaal vir vriendinne wat bietjie kwaliteittyd saam wil deurbring, ’n rustige middag met ’n lekker boek en selfs vir ’n besigheidsete. Strelende klassieke musiek begroet jou en laat jou dadelik op jou gemak voel terwyl jy na jou pragtig versierde tafeltjie stap. Dan staan jy verstom voor die ongelooflikste uitsig op Tafelberg en die Waterfront deur ’n reuse glasmuur wat van die vloer tot teen die plafon strek.

Hulle het ’n wonderlike tee-spyskaart met tee te kies en te keur – van ou bekendes soos rooibos- en Engelse tee, tot groentee, aarbeitee en chai-tee. Die tee word in ’n dierbare teepotjie bedien en jy kan dit pinkie in die lug geniet!

’n Bordjie met smullekker southappies is volgende aan die beurt. Die drie tradisionele Engelse komkommertoebroodjies, een met tamatie en mozzarella, een met komkommer en roomkaas, en een met salm en avokadopeer, voer jou weg na ’n vervloë tyd toe deftige dames luilekker in die middagsonnetjie gekuier het. Vista Lounge se soutpoffertjies word met ’n kinkel voorberei en die roomkaaspoffertjies is uit die boonste rakke!

Die buffet met soetgebak is enige lekkerbek se droom. Die tradisionele koeksisters is stroopsoet en die macaroons in elke kleur en geur smelt in jou mond. Daar is ook heerlike kaaskoek, goue blaar-poffertjies en Lindt-brownies om maar net ’n paar te noem. Dis mos nou lipleklekke!

Op 8 Mei 2016, hou One&Only Cape Town ’n spesiale Moedersdagtee met ’n lieflike skoenlapper-tema wat beloof om Moeder waarlik gewaardeerd te laat voel. So, bespreek nou en bederf vir Ma en Ouma met heerlike pastelkleurige macaroons, fraai versierde kolwyntjies en die heel beste kaaskoek in die Kaap! Kliek hier vir meer inligting.

Moenie bekommerd wees as jy nie in die Moederstad woon nie ─ hier is ’n paar praktiese idees om dié Moedersdag ekstra spesiaal te maak:

  • Maak vir mamma ’n kaartjie

  • Vat vir haar koffie en/of ontbyt in die bed, dit is altyd ’n wenner!

  • Blomme werk soos ’n bom

  • Tap vir haar ’n warm bad en steek ’n paar kerse aan

  • Koop haar gunsteling-sjokolade

  • Maak ’n bederfpakkie bymekaar – room, poeier, naellak, grimering, ensovoorts

  • Gaan fliek saam met ma – die nuutste sterbelaaide fliek, Mother’s Day, word wêreldwyd op 6 Mei vrygestel, net betyds vir Moedersdag!

  • Bespreek ’n wegbreeknaweek by een van die 12 000 plekke op LekkeSlaap

  • En as jou beursie bietjie maer is, kan jy selfs net die skottelgoed was!

Of jy nou vanjaar jou eerste Moedersdag as “moeder” vier en of jy al lankal ’n ouma of oumagrootjie is, LekkeSlaap wens jou ’n geseënde Moedersdag vol bederf toe!