Smag jy soms na vars lug en daardie loom gevoel in jou ledemate wanneer die son die aarde warm bak en die natuur se parfuum uit die bosse en struike loswoel? Na ’n harde werksweek in die beton-oerwoud het ons dikwels nie die energie oor om die langpad te vat nie. Ek het my Google Earth-bril opgesit, ’n kaart van ons mooie land nader getrek, en gaan kyk waar ’n mens die stad uit jou gestel kan kry, sonder om ’n hele tenk brandstof uit te ry.

Bloemfontein

Soetdoring Natuurreservaat

LekkeSlaap

Maselspoort mag nou wel nader aan die stad wees, maar dit is baie ver van die natuur af. As jy bereid is om net 20 minute langer agter die stuur te sit, kan jy jouself in die ware Jakob bevind. Die sierlike treurwilgers van die Soetdoring Natuurreservaat omsoom die Soetdoringdam en ’n gedeelte van die Modderrivier. Hierdie stuk grasveld van 7500 hektaar met sy kliprantjies, doringbome en skares aalwyne is miskien nie die groenste plek op die planeet nie, maar die voëlrykdom maak op vir die afwesigheid van kleur: sowat 290 spesies is al hier gewaar! Heelwat boksoorte wei in die reservaat en jy moet jou oë oophou vir die apies wat jou Lunch Bar wil gaps. Hengelaars kan lekker lyn natmaak in die Modderrivier en besoekers kan ook kennis maak met leeus en wildehonde in ’n afgebakende kamp. Lê op ’n kombers onder ’n wilgerboom langs die rivier met jou oë toe en luister na die getjilp van krombekstrandlopers, bontelsies, ’n verskeidenheid visvangers en die kenmerkende roep van ’n visarend. Vergeet van die verkeer, besoedeling en die nimmereindigende geskarrel in die stad.

Durban

Beachwood Mangroves Natuurreservaat

Hierdie subtropiese lushof aan die oewer van die Umgeniriviermond is net 11 minute se ry van Durban se sakesentrum af. As jy op die stewige plankpaadjie tussen die wortelbome stap en jouself verwonder aan die krappies wat skarrel tussen die dik wortels en die suikerbekkies tussen die takke, is dit moeilik om te glo die warmste stad in Suid-Afrika is net 5 km van jou af. Maar as die blaredak ewe skielik ophou en jy jouself op die strand bevind, is Durban se silhoeët duidelik sigbaar in die suide. Die swart-, rooi- en witwortelbome wat hier groei, vorm die fondament van ’n klein brakwater-ekosisteem wat ’n tuiste bied vir ’n groot verskeidenheid krappe, voëls en selfs die bedreigde dwergverkleurmannetjie. Staan vir ’n oomblik stil by die reling en kyk hoe die vioolkrappe met hul reuse linkerknypers jou soos oorywerige karwagte naderwink, so amper asof hulle jou wil voorstel aan hul ander familielede – wortelboomkrappe, moeraskrappe, spookkrappe en die reuse Tangoman-krappe. Eienaardige klimvisse (mudskippers) hop potsierlik rond op hulle borsvinne en wonder of hul nou eintlik in die see of op land wil bly. Die groot hoeveelheid weekdiere wat hier voorkom lok dikkoppe en krombekstrandlopers. En moenie vergeet om op te kyk nie: beeldskone vissers (kingfishers), getooi in skakerings van koningsblou en turkoois, sit geduldig op die takke en wag op ’n kans om bek nat te maak. Pak ’n bunny chow in jou rugsak as jy te lui is om piekniekgoed te gaan koop, en moenie jou strandhanddoek vergeet nie!

Johannesburg

Suikerbosrand Natuurreservaat

As jou wekker 08:00 die oggend in Johannesburg se middestad afgaan en jy moet jou vriende 09:00 in Suikerbosrand Natuurreservaat ontmoet, kan jy maar gerus die sluimerknoppie druk – hierdie natuurreservaat is net 45 minute se ry van Johannesburg af. Bedreigde bankenveld bedek die vlaktes, rantjies en klowe van hierdie 13 337 hektaar reservaat. Suikerbosrand is veral gewild onder stappers wat kan kies tussen tussen die Bokmakierie-roete (10 km en 17 km) en die Jagluiperd-roete (4 km). Vir dié van ons wat sukkel om die woorde “naweek” en “oefening” te versoen, is daar ’n 60 km lange teerpad wat tussen die suikerbosse deur kronkel. Maar of jy nou die reservaat te voet of per motor verken, die groot verskeidenheid wild en voëls maak ’n besoek aan hierdie stukkie natuur definitief die moeite werd: meer as 200 voëlspesies kom hier voor, jagluiperde, hiënas en bobbejane skuil in die kliprantjies, en meer as 8 boksoorte staan en herkou aan die bedreigde grasspriete van die bankenveld. Stel jou wekker hierdie naweek en vergeet vir ’n oomblik van die gedruis en die eindelose verkeer in die Goudstad!

Kaapstad

Silwermyn

Hierdie pragtige natuurreservaat is net 20 minute van Kaapstad se sakekern af. Die fynbos staan dig en daar is ’n hele aantal sandsteengrotte en rotsklimroetes na Muizenberg se kant toe. Kapenaars wat vinnig wil ontvlug van die stadsrumoer besoek hierdie fynboshemel gereëld met ’n verkyker om die nek, in die saal van ’n bergfiets of met ’n opgerolde kombers onder die arm en ’n piekniekmandjie in die hand. Die reservaat is deel van die Tafelberg Nasionale Park en is ideaal vir stoelpatatte wat die natuur wil beleef sonder om hulle stapskoene stukkend te loop – die staproetes is redelik kort en die uitsigte verstommend: Valsbaai lê en blink in die son en jy kan die kuslyn met jou oë tot by Kaappunt naspoor. Die sirkelroete om die groot reservoir sal jou nie te veel laat sweet nie. Kranige stappers kan Tafelberg ruglangs benader van Silwermyn af, en as die spiere saamwerk kan hulle tot bo-op hierdie wêreldbekende landmerk klim. Hou jou oë oop vir die glasogies en suikerbekkies wat dartel tussen die speldekussings en verloor jouself in die kleinste, maar rykste blommeryk in die wêreld.

Helderberg Natuurreservaat

Al wat tussen Kapenaars en die Helderberg Natuurreservaat staan is 45 minute agter die stuur. Hierdie stukkie fynbos begin tussen die wingerde aan die voet van die Helderberg in Somerset-Wes. Die voet is versier met ‘n natuurtuin, groot grasperke, bome, bokkies, stroompies en piekniekplekke. Natuurliefhebbers met ‘n bietjie murg in hulle pype kan gerus ook die sirkelroetes teen die berg op aandurf. Stap in ’n oostelike rigting tussen die proteas en speldekussings deur tot by die koel klofie as jy nie lus is vir ’n erge sweetsessie nie. Of pak ’n ekstra waterbottel in en mik na Weskop. Die 360º-uitsig van hierdie piek af is duiselingwekkend – van die Steenbrasdam se silwer vlek op die Hottentonts-Hollandberge oor Hangklip, Valsbaai, Kaappunt, Tafelberg, die Atlantiese Osean, al die pad tot by Stellenbosch se wingerde wat uitrank teen die Simonsberg. Dis beslis die sweet werd! Wenk: soggens gooi die berg se kranskop ‘n skaduwee oor die eerste helfte van die sirkelroete, so stel jou wekker en begin met ‘n voorsprong.

Port Elizabeth

Van Stadens Veldblomreservaat

Die Addo Olifantpark is altyd ’n besoek werd, maar hierdie keer het die perspienk sewejaartjies en koningsproteas in ’n wonderskone kloof my Google Earth-oog gevang. Van Stadens Veldblomreservaat is ’n stukkie hemel tussen die Van Stadensberg en die see, net 40 km van Die Baai af. Die reservaat is oorspronklik geskep om hierdie omgewing se unieke flora te bewaar. Deesdae floreer erikas, vetplante en proteas in hierdie kloof, en is dit een van die beste plekke om laaglandfynbos te aanskou. Die plantegroei lok ’n groot verskeidenheid voëlspesies: meer as 170 is al hier waargeneem. Hou jou oë oop vir die rooivlerkfladdering van Knysna Loeries in die bosse en grasieuse kroonarende wat sweef in die oorhoofse lugstrome. Laai jou bergfiets in die kattebak en verken die platorand, gaan stap langs die rivier of in die woud. Hou piekniek op die platorand en staan verstom voor die helder uitsig oor die berg en die see van die brug af.

Pretoria

Rietvlei Natuurreservaat

Pretorianers hoef net ’n halfuur agter die stuur te spandeer om by een van die grootste stedelike natuurreservate in die wêreld uit te kom. Die heuwels, grasvlaktes, vleie en stroompies van hierdie luisterryke stukkie bankenveld in die suide van die Jakarandastad bied ’n tuiste vir ’n groot verskeidenheid wild en voëls. Die vaalbruin grasveld om die Rietvleidam word elke jaar deur die somerreën omskep in ’n welige groen landskap wat lyk soos ’n toneel uit The Lion King. Maar selfs wanneer die winterveld effens vaal is, wemel hierdie reservaat van die wild en voëls: blesbokke, swartwildebeeste, rooihartbeeste, elande, Burchell-sebras, waterbokke, ribbokke, steenbokke, duikers, oribies wei in die grasvlaktes, en oranjekeelkalkoenjies, kleinwitreiers, rietduikers, witborsduiker, reusereiers, watertrappers, groenrugreiers fynkam die vlei op soek na kos. Twee van die Groot 5 kom ook hier voor, en moenie vergeet om uit te kyk vir die seekoeie en jagluiperds wat hier vrygelaat is nie. Doendinge in die reservaat is amper te veel om op te noem: dag- en oornagstaproetes, visvang, kamp, piekniek hou, begeleide wildritte te perd of per motor. Stof hierdie naweek jou verkyker af, pak proviand in jou rugsak en mik suid!

Moenie bekommerd wees as hierdie natuurjuwele meer as ’n uur se ry van jou huis af is nie, LekkeSlaap weet van duisende beddens naby hierdie plekke wat spesiaal vir jou opgemaak is. Kliek, bespreek, en maak sommer ’n naweek daarvan!