Nelspruit lê in die hartjie van die Laeveld, tussen sitrusboorde en groen heuwels. Hiér is jy altyd bewus van die bosveld se natuurskoon. Nelspruit is die perfekte wittebrood-plek danksy al die doendinge in die omgewing, maar daar is ook nét soveel geleentheid vir “niksdoen”. Saam met jou geliefde kan jy die eerste paar dae van die getroude paradys en die mooiste besienswaardighede in Nelspruit geniet.

La Roca is ’n vierster-gastehuis in ’n luukse woonbuurt in Nelspruit met sub-tropiese tuine wat oor 6 000 m² strek. Paartjies kan die beeldskone uitsig oor die Nelspruit Natuurreservaat en die platorand in die verte vanuit die kamer, die ontbyt-lapa en die swembaddek aanskou.

La Roca se bekoorlike en vreedsame wittebrood-suite is spesiaal ontwerp vir wittebrood-duifies wat op soek is na ’n romantiese wegbreek ná die groot dag. Hoewel die suite ruim is, skep die luukse meubels ’n gesellige en koesterende atmosfeer. Daar is ’n heerlike koninggrootte-bed met spierwit perkallinne en ’n snoesige duvet. Die groot en suite-badkamer het ’n luukse bal-en-klou-bad en ’n ruim stort. Weelderige badjaponne word ook voorsien. Hierdie losstaande grasdak-suite is onder in die welige tuin geleë en spog met die mooiste uitsig oor die natuurreservaat. Die suite is heeltemal privaat met groot glasdeure wat jou nooi om op die stoep te staan en die asemrowende uitsig te geniet. Paartjies kan selfs die uitsig vanuit ’n heerlike warm borrelbad bewonder. Verder het die romantiese suite ’n platskerm-TV met sekere DStv-kanale en gratis WiFi sodat julle elke nou en dan met die buitewêreld kan kontak maak vanuit julle verliefde droomwêreld. Daar is ook lugversorging, gemakstoele, yskassies met voorraad, koffie- en teemaakgeriewe, handdoeke en luukse geriewe, haardroërs, tydskrifte en kluise.

honeymoon Suite - badkamer

La Roca Guest House sal ook die kamer romanties voorberei met blomme, kerse en sjampanje sodat julle die lewenslied saam op die regte noot begin sing (op aanvraag teen ’n ekstra koste).

 Nog ’n paar goedjies waarin paartjies hulleself kan verlustig:

  • ’n Heerlike ontbyt word by die tarief ingesluit. Dit word onder die opelug grasdak-lapa op die swembaddek bedien sodat julle die dag reg kan begin. Gekookte ontbyte verskil elke dag en daar is ’n uitgebreide buffet van seisoenale vrugte, ontbytgraan, kouevleis, kaas, joghurt, roosterbrood, tuisgebakte muffins, sap, plaaslike filterkoffie en verskeie soorte tee. Die gastehuis bedien ook vegetariese- en halaal-ontbyt indien julle dit so versoek.

  • Ontbytpakkies kan by die suite aan julle besorg word indien julle vroeg in die pad wil val, maar laat weet ons asb. vroegtydig as julle dit so verkies.

  • Paartjies kan gerus by ontvangs navraag doen oor toere en pendeldienste.

  • Die kamers word daagliks skoongemaak en indien julle ’n paar dae hier wil vertoef, word die linne elke derde dag omgeruil.

  • ’n Wasserydiens is ook beskikbaar.

  • Daar is veilige parkering en die sekuriteit is knap. Ons gaste het ook toegang tot ’n nooddiens.

Doendinge op die perseel:

By La Roca kan julle luilekker langs die swembad ontspan, met ’n skemerkelkie in jou een hand en jou geliefde in die ander, en kyk hoe die son oor die natuurreservaat sak. Die swembaddek is enige tyd ─ dag of nag ─ oop, so jy kan selfs kyk hoe die sterre in jou geliefde se oë skitter. Daar is ook wandelpaadjies wat kronkel deur die reuse rotse in die tuin waar julle heelwat skuilhoekies en -gaatjies sal ontdek vir ’n bietjie privaatheid in die natuurskoon. Daar is ook ’n verruklike braaiplek in dié groen tuin.

Word wakker met vrolike voëltjies wat sing, aardige akkedisse wat buite rondskarrel en besige blouapies wat in die bome baljaar. In die aand kom kuier die skugter nagapies en muishonde, en deesdae is daar ook ’n ystervark-gesinnetjie op die perseel.

Doendinge in die omgewing:

Illanga Winkelsentrum, die Botaniese Tuine en Riverside Winkelsentrum, -Kasino en -Bioskoop is alles binne ’n radius van 10 km. Casterbridge Centre, Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe, Kaapschehoop en die Sudwala-grotte is almal minder as 40 km van die gastehuis af. Die wêreldbekende Krugerwildtuin se Malelane- en Numbi-hekke is net 59 km van ons af. Daar is so baie om te doen en te sien in die omgewing indien julle op soek is na ’n bietjie opwinding.

Tariewe:

Die Executive-suite is beskikbaar teen R1800 per kamer per paartjie.

Die Wittebrood-suite is beskikbaar teen R1400 per kamer per paartjie.

Die tariewe sluit ontbyt in.

Indien jy ’n wittebroodpakket wil bespreek, stuur asb. ’n e-pos aan info@lekkeslaap.co.za en skryf in jou onderwerpgleuf “Mooi Troues: La Roca Guest House, Nelspruit”.