Biltong, bier, braaivleis en … RUGBY ─ dit is menige Suid-Afrikaner se stapelvoedsel. Maar hoe gemaak as jou gunstelingspan ’n belangrike wegwedstryd speel? Of as jy die Springbokke in ’n ander stad wil ondersteun? Of as jy bloot die rugbykultuur en al die aksie wil beleef, maar ver van die stadion af bly? LekkeSlaap het die oplossing! Ons het Suid-Afrika se bekendste rugbyvelde uitgesoek en wys jou waar jy lekker naby die stadions kan slaap.

 

Bloemfontein

 

Die Toyota-stadion in Bloemfontein staan ook as die Vrystaat-stadion bekend en dié veld is die Cheetahs se tuiste. Tydens Vodacom SuperRugby sluit die Griekwas (Noord-Kaap) en Griffons (Noord-Vrystaat) by die Cheetahs aan om ’n gedugte span te vorm met passievolle rugby in hulle bloed. Dit is dus g’n wonder dat dié sentrale deel van Suid-Afrika die meeste Springbok-kapteins in Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis opgelewer het nie. Kliek hier en bespreek nóú jou verblyf naby die stadion om te verseker dat jy nie die volgende Cheetah-wedstryd op die kassie hoef te kyk nie!

Durban

 

Growthpoint Kings Park in Durban staan landwyd as die Haaitenk bekend. Hiér wys die Haaie gereeld tande vir besoekerspanne en menige span het al hulle rieme lelik styfgeloop aan die Suid-Afrikaanse Ooskus.

Die skouspelagtige Moses Mabhida-stadion is reg langs Kings Park en hoewel dit een van die 2010 Sokkerwêreldbekerstadions was, word internasionale rugbywedstryde ook hier gespeel. So, maak seker dat jy nie ’n wedstryd misloop nie en kliek hier om jou verblyf in Durban te bespreek.

Johannesburg

 

Emirates Airline Park in Johannesburg, wat steeds in die volksmond as Ellispark bekendstaan, is die Leeus se kuil. Dit is ook die beroemde veld waar die Springbokke in 1995 die Rugbywêreldbeker gewen het. Die bal trek ver in die Hoëveld se dun lug en hardlooprugby is boaan die spyskaart. So, om te verseker dat jy nie ’n enkele drie mis nie, kliek hier en bespreek nou jou verblyf naby dié wêreldbekende veld!

Kaapstad

 

DHL Newlands in Kaapstad is die oudste rugbyveld in Suid-Afrika en een van die gewildste velde ter wêreld. Die lojale WP- en Stormers-ondersteuners daag in wind en weer op om hulle span met “WP jou lekke ding!” aan te moedig. Die wedstryd teen die Bulle is ’n jaarlikse hoogtepunt en die Streeptruie stel selde teleur. Hulle is tot dusver ook die suksesvolste Curriebekerspan en het al 33 keer koning gekraai. As jy dus rugby uit die boonste rakke wil ervaar, kliek hier en bespreek nóú jou verblyf in dié lowerryke Kaapse voorstad.

Port Elizabeth

 

Nelson Mandela Bay-stadion is in 2009 in die hartjie van Port Elizabeth geopen nadat die oorspronklike stadion heeltemal oorgedoen is. Dié stadion bied ’n lieflike uitsig oor die North End Lake en dis die Southern Kings se tuiste. Springbokwedstryde en konserte vind ook gereeld hier plaas. Moenie uitmis nie! Kliek hier en bespreek sommer nou jou verblyf naby dié indrukwekkende stadion.

Pretoria

 

“Die Blou Bul weet nie van verloor af nie” ─ só lui die bekende liedjie elke keer as Pretoria se Blou Bulle op Loftus Versfeld uitdraf. Wedstryde op Loftus lewer gewoonlik ’n drieë-fees en die Bulle is die enigste Suid-Afrikaanse span wat al daarin kon slaag om die gesogte SuperRugby-trofee in te palm. So, as kookwaterrugby jou hart vinniger laat klop, kliek hier en bespreek jou verblyf naby Loftus!

Rugby is soveel meer as net ’n spel ─ dis die braai voor die wedstryd, die gevoel wat jy kry wanneer jy jou gunstelingspan in lewende lywe op die veld sien uitdraf, soete oorwinnings en bitter nederlae, vriendskapsbande wat gesmee word en aartsvyande wat bladskud na ’n harde wedstryd. Dit is iets wat jy nie kan beskryf nie, jy moet dit net sélf beleef. So, kry jou vriende bymekaar, koop kaartjies vir die volgende wedstryd en bespreek lekke oornagverblyf by LekkeSlaap, sodat jy ook in dié besonderse rugbyreis kan deel!

Hooffoto: Toyota-stadion