Italië se geurige pizzas, verruklike argitektuur en passievolle inwoners plaas dit bo aan die meeste mense se emmerskoplysies. Ongelukkig is dit net ‘n bietjie te ver om sommer net oor Afrika te rits vir ‘n vinnige insalata caprese (caprese-slaai). Dit is hoekom ons outentieke stukkies Italië net hier in die sonnige Suid-Afrika vir jou opgespoor het! Beleef la Patria in Suid-Afrika!

Eet en drink

A Tavola – Claremont, Kaapstad

Hierdie prentjiemooi restaurant laat jou sommer met die intrapslag al voel asof jy in Italië is: die mure is heldergeel geverf, konfyte, ingelegde vrugte, speserye en ‘n verskeidenheid vars brode pryk op die rakke, en daar is ‘n kroegie waar jy ‘n mengeldrankie (of twee!) kan geniet. Jou eerste indrukke word bevestig wanneer jy die outentieke, tradisionele geregte op die spyskaart gewaar en voel hoe die knus atmosfeer om jou vou. Net seisoenale bestanddele is goed genoeg vir A Tavola en stewige geregte soos bouillabaisse, tagliolini ai funghi e tartufo en rib eye steak sal die grommende leeu in jou binneste stilmaak (dit laat my dink aan die ou Italianer wat op ‘n keer gesê het “French food is for the connoisseur, but if you want to eat you eat Italian!”). Besprekings moet 24 uur voor die tyd gemaak word. Skakel 021-671-1763 en bespreek ‘n tafel!

Andiamo – De Waterkant, Kaapstad

Andiamo is ‘n deli, restaurant en kroeg in Cape Quarter, ‘n spoggerige inkopiesentrum naby die V&A Waterfront. Hierdie pizza-paradys is voorwaar die Sophia Loren van smaak, styl en vermaak, en bied watertandlekke Italiaanse disse teen bekostigbare pryse. (Ons is veral in ons noppies met Andiamo se R99-buffet elke Sondagmiddag.) Hoewel die Italiaanse flair jou na ‘n tweede happie roomys sal laat smag, is dit die Suid-Afrikaanse vriendelikheid en “live” jazz-klanke wat die restaurant sekere dae van die week vul, wat hierdie ‘n gunsteling-uithangplek maak. (En as die kaloriedokter jou so bietjie skuldig laat voel, is daar ‘n joga-studio net oorkant die pad wat gratis joga-sessies vir nuwe studente aanbied.) Skakel 021-421-3687/8 en bederf jouself net goeie goedvoelkos!

The Mad Italian, Durban-Noord, Durban

 Mad Italian

Alhoewel dit nou nie juis die aanloklikste restaurantnaam is waarvan die LekkeSlaap-span al ooit gehoor het nie, is die Biassoni-familie se eetplekkie bekend vir sy uitstekende diens, dekadente geregte en huislike atmosfeer. Van die Antipasti waaraan jy hier kan smul is bruschetta, ‘n dekadente fegatini di pollo, en natuurlik carpaccio. Die hoofgeregte sluit pizzas, soos formaggio, en pastas soos gnocchi, ravioli en lasagne in. Vleisliefhebbers sal nie genoeg kan kry van die heerlike hoendersosaties en Toskaanse fillet nie. Visgeregte soos vars kalamari en garnale is ook op die spyskaart. Skakel 031-573-2938 en bespreek ‘n tafel!

Da Vincenzio, Kyalami, Johannesburg

Hierdie bekoorlike trattoria’tjie bederf smulpape al dekades lank met outentieke Italiaanse geregte en is definitief ‘n besoek werd. Da Vincenzio is onlangs opgeknap en die baksteenmure, 3 pizza-oonde en wynkelder dien nou as die doek waarteen Vincenzo, die sjef, sy hemelse Napoli-geregte uitstal. Kinders is welkom by Da Vincenzo so dit is ‘n uitstekende keuse vir families wat ‘n aandjie uit wil geniet. Gereelde klante kan nie uitgepraat raak oor die gebraaide hoender, lam-aan-die-been, pesce ai gamberi en wildevark nie. Van die bestanddele waarmee Vincenzo sy heerlike pastas voorberei word ook te koop aangebied. Skakel 011-455-3925 en bespreek ‘n tafel!

Vermaak

Op soek na Italiaanse inspirasie vir jou grysstof?

  • Leer Italiaans by een van Scuola Italiana del Capo se takke. Al die takke is in Kaapstad, maar kursusse vir volwassenes en kinders word ook in Oos-Londen, Port-Elizabeth en Stellenbosch aangebied.

  • Die Italiaanse Klub in Milnerton, Kaapstad is ook nét die plek om ‘n skemerkelkie te geniet terwyl jy kuier met eensgesinde mense. Daar is ook elke Saterdag ‘n vlooimark. Skakel 021-510-5122.

Verblyf

La Dolce Vita Guest House, Kosmos, Hartbeespoort

La Dolce Vita Guest House is ‘n romantiese 4-ster gastehuis op Hartbeespoortdam se kuslyn met wonderskone uitsigte oor die omgewing en uurlange vaarte op die dam.

La Dolce Vita Guest House 2 La Dolce Vita Guest House

Verlustig jou in voortreflike luuksheid, gerief en “mediterreense” romanse – 78 senuweeagtige manne het al die ja-woord gevra gedurende een van La Dolce Vita se deftige driegangmaaltye! Die luukse kamers is toegerus met Jacuzzi spa-baddens en hemelse dubbelbeddens. Geriewe sluit kroegies, lugversorging en stoepe of balkonne in.

Het jy al Italiaanse inspirasie in Suid-Afrika teegekom?

 

Hooffoto: Flickr
Hierdie blog-inskrywing is deur Roseanna McBain geskryf, deur Herman Botha vertaal, en aangepas deur Elana Esterhuyse.