Wittebrood-dagdrome is sinoniem met Jacuzzi’s, hemelbeddens, randvloeiswembaddens met see-uitsigte, vonkelwyn, en suites wat in roosblare getooi is …. Daar is egter net een probleem: dié klas bederf is gewoonlik bo die meeste van ons se vuurmaakplek. Dis hoekom ons na ’n paar streke gaan kyk het wat gewild is onder wittebroodspaartjies en rondgesnuffel het vir ’n paar plekke wat ’n bietjie sagter op die beursie is.

1. Kalahari ─ dorings en oker

Die Kalahari is ’n plek waar jy en jou nuwe maat soggens in die middel van wie weet waar kan ontwaak. Nuttig ’n koppie koffie saam om die snerpende Kalahari-luggie af te weer voordat julle die dag se wildkyk-avontuur aanpak. Saans is dit tyd vir ’n glasie vonkelwyn wyl julle na die bloedrooi sonsondergang staar en die jakkalse hoor roep.

@ Belurana River Manor het lieflike wittebrood-suites en kan toere reël na die Kgalagadi Oorgrenspark en ander besienswaardighede. As die begroting ’n bietjie knap is, kan jul gerus Kgalagadi Lodge probeer vir ’n regte Kalahari-sonsondergang.

Indien julle ’n tydjie in die oorgrenspark self beplan, sal ’n luukse bederf op pad terug ’n heerlike lafenis wees ná jul rustieke wildernis-ervaring. African Vineyard Guesthouse in Upington se wittebrood-suite saam met vonkelwyn, roosblare, ’n spa-behandeling vir twee, ontbyt en ’n kerslig-aandete klink na die perfekte opsie vir dié bederf.

2. KwaZulu-Natalse kus ─ soel en subtropies

’n Mens hoef nie ver te reis vir palmbome en kuswoud nie. Die KwaZulu-Natalse kus se natuurskoon bied alles van walvisse en dolfyne aan die Suidkus, tot seekoeie, krokodille en ’n menigte voëls by die St Lucia-riviermond ─ en dié luukse ervarings teen bekostigbare tariewe.

Ervaar die Suidkus eerstehands met lieflike see-uitsigte by Alante Lodge in Amanzimtoti of Umthunzi Hotel & Conference in Port Shepstone. Jul kan ook noordwaarts koers kies na die beeldskone St Lucia en by die watervoëls en seekoeie gaan geselskap soek. Vir hierdie doeleinde bied Umlilo Lodge ’n heerlike skuilplek tussen welige palmtakke.

3. Drakensberge ─ sprokiesland

Sit en bewonder saam die berge wat soos hoë mure rondom julle uittroon sodat julle tydelik afgesonder voel van die res van die wêreld. Hierdie paar dae is dit nét julle tweetjies en die fluweelgroen heuwels.

As dit vir jou idillies klink, is Winterton Country Lodge @ Rose Cottage en Ardmore Gasteplaas met hul ongelooflike berg-uitsigte ideaal. Umzinkulu River Lodge aan die Drakensberge se voorheuwels bied boonop ’n Starry Eyed-pakket vir wittebroodspaartjies wat ’n blommerangskikking, sjokolades, badsout, luukse seep en vonkelwyn met ys insluit.

4. Bosveld ─ grasveld-safari’s

Limpopo se bosveld is die ideale plek om in stilte saam te verkeer aangesien die wilde natuurskoon sy eie vermaak verskaf. Die wild wat julle by watergate sal aanskou is iets waaroor julle nog lank na jul wittebrood sal gesels.

Chinaka Game Lodge en Bundox Safari Lodge is ideaal vir watergat-spektakels, wildritte en wildwandelinge. Bushveld Terrace Hotel, wat aan die Krugerwildtuin grens, het ’n pragtige wittebrood-suite genaamd Maroela. ’n Pakket wat beskikbaar is tot 31 Desember 2017 sluit ontbyt, ’n “turn down”-diens en gratis vervoer vanaf Phalaborwa Lughawe in.

5. Karoo ─ stilte en sterre

Egte Karoo-gasvryheid kan dalk net ’n onvergeetlike wittebrood waarborg. In dié sonderlinge streek word jy teruggevoer na ’n tyd van windpompe en stoepkuiers. Die eenvoud van die plattelandse leefstyl sal julle laat besef wat werklik belangrik is en julle nader aan mekaar bring.

Hiervoor het ons ’n paar historiese geboue uitgesoek. Die Tuishuise & Victoria Manor bied verblyf in ’n Victoriaanse hotel en gastehuise in die dorpie Cradock. Dis ’n heerlike basis vanwaar die Bergkwagga Nasionale Park verken kan word. La Plume Guest House, ook ’n Victoriaanse opstal, is buite Oudtshoorn op ’n volstruisplaas. Nog ’n puik opsie is Lemoenfontein Game Lodge naby Beaufort-Wes wat 10% afslag en ’n bottel Suid-Afrikaanse vonkelwyn aan wittebroodspaartjies bied.

6. Tuinroete – kringe in ‘n bos

’n Wittebroodsreis op die Tuinroete is ’n tyd vir afgesonderde, klein strandjies, vir mis wat van die branders af oor kusplantegroei en by kranse opstoot en vir wandelpaaie wat julle deur fynbos, langs strande, oor berge en deur woude neem. Is ’n sprokieswoud nie die perfekte plek om julle sprokie saam te begin nie?

’n Spa-bad met ’n uitsig oor die strandmeer by Elephant Hide of Knysna Guest Lodge bied ’n magiese ervaring. By C The View tussen Groot-Brakrivier en Mosselbaai is daar vir wittebroodspaartjies kerse en ’n borrelbad in die badkamer, asook ’n keuse tussen ’n sjokolade-fondue of vonkelwyn-ontbyt.

Porcupine Pie Boutique Lodge buite Wildernis bied opwindende wittebroodspakkette! Buiten ’n daaglikse, volledige ontbyt en een kersligaandete, is daar drie opsies om van te kies:

Silwer-pakket: ’n piekniekmandjie vir ’n uitstappie na die waterval of strand.

Goud-pakket: ’n 5 uur lange kanovaart na die waterval met piekniekpakkies, ’n perderit na die Outeniekwaberge se voorheuwels (2 ure soontoe en 2 ure terug) en ’n 2 uur lange masseerbehandeling vir twee.

Platinum-pakket: ’n 4 uur lange avontuur wat abseil en kanovaart insluit, ’n perderit na die Outeniekwaberge se voorheuwels en ’n masseerbehandeling vir twee.

7. Fynbos – dassieland

In die Wes-Kaap is voetslaan in die berge met die speserygeur van bossies en blomme jul voorland. Klim saam ’n piek en kyk uit oor die omliggende berge. Met die wêreld so aan jul voete sal julle lewenspad saam ’n goeie vooruitsig wees.

Bucaco Sud bied ’n wittebrood-suite met uitsigte oor die see in Bettysbaai, en die vier-ster-Lord’s Guest Lodge se kliphuise tussen Robertson en McGregor kyk oor ’n pragtige vallei uit. Little Oak Cottage in die kunstenaarsdorpie Greyton het pas twee wittebroodspakkete saamgestel om van te kies:

Luukse Wittebroodspakket:

-Beperkte oplaag Von Geusau handgemaakte Belgiese sjokolade

-’n Bottel vonkelwyn in die kamer

-Romantiese roosblare en kerse in die kamer

-Luukse linne

-Vars blomme

-’n Uur lange spa-behandeling per persoon van Lady Scarlet

-Romantiese ontbyt by enige restaurant in Greyton

-Fietse vir die duur van jul verblyf

-Troeteldiervriendelik!

Die Deluxe Wittebroodspakket bied al die bogenoemde voordele, plus:

-’n Stel handdoeke, spesiaal vir julle geborduur

Red velvet-kolwyntjies

-’n Bottel rooi- óf witwyn

-’n Country Deli-piekniekmandjie vir twee

8. Weskus – kreef oor die kole

Drink soggens saam koffie en kyk hoe die vissersbote koers vat op soek na die volgende vangs. Benut saans daardie vangs op die stoep saam met witwyn en die sonsondergang oor die ongerepte blou see.

Gilcrest Place in Paternoster is ideaal vir só ervaring, en Oystercatcher Lodge in St Helenabaai bring jul sommer nóg nader aan die see.

Absolute Beach in Britanniabaai bied ’n wittebroodspakket met vonkelwyn, sjokolade en rose met aankoms. ’n Kombers en piekniekmandjies word verskaf vir heerlike pieknieks op die strand:

-Ontbytmandjie: croissants, kouevleise, kaas, vrugte, jogurt en muesli, sap, tee, koffie en vonkelwyn.

-Middagete-mandjie: kouevleise, kase, brood, vrugte, nagereg en vonkelwyn.

Verder kan perdry op die strand (vertrek vanaf ’n plaas sowat 15 – 20 minute se ry van die gastehuis af) en ’n spa-pakket by die plaaslike spa (sowat 10 – 15 minute se ry ver) gereël word.

9. Wildekus – ongetem

Word weggevoer na ’n wêreld waar beeste doodluiters op die strand uitspan. Urelange strandwandelinge saam met jou nuwe lewensmaat gee julle hope tyd vir diep geselsies of julle kan dalk selfs ’n romantiese perderit onderneem.

Vir romanse aan die kus, is The House Quarters in Kenton-on-Sea wat oor die Kariegarivier uitkyk perfek. En vir avontuurlustige paartjies sal The Shire Eco Lodge se koddige hout-chalets in die Amatolaberge soos ’n handskoen pas, aangesien daar hope buitelug-doendinge in die omgewing is. Fort D’ Acre Reserve, so entjie vanaf Port Alfred, bied die volgende pakket: Indien ’n wittebroodspaartjie ’n minimum 2 nagte in die King-suite bespreek, word die kamer met vonkelwyn en roosblare voorberei én kan hul uitsien na ’n komplimentêre wildrit tydens hul verblyf.

Soveel avonture om van te kies, van ru tot luuks, woestyn tot woud ─ alles binne jou eie land se grense, en nie juis teen ’n plaas se prys nie. Hierdie land is heeltemal te mooi om nie die geleentheid aan te gryp nie. Kliek eenvoudig op die plek wat jy wil besoek en siedaar! ’n Wittebrood was nog nooit so lekker en maklik om te beplan nie.

Hooffoto: Just Married deur snippets_from_suburbia (Flickr)