Ons as mense het nog altyd die begeerte gehad om die wêreld te verken, maar ons moet dit liefs op ‘n wyse doen wat nie die wêreld vernietig nie. Toerisme is tans die grootste industrie in die wêreld, en as ons die ding reg benader, kan ons dit ook omgewingsvriendelik maak.

Hieronder is 10 maniere waarop jy jou vakansie vir die planeet ook kan lekker maak!

1. Wees kieskeurig met jou klere

Hoe ligter jou bagasie, hoe ligter die vrag van jou voertuig, hoe kleiner jou koolstofvoetspoor. ‘n Mens moet jou tyd neem as jy jou tasse pak vir die vakansie sodat jy alle onnodige items by die huis kan los. As jou tasse swaar is, is dit nie net jy wat gaan swaarkry nie.

2. Spaar op die tuisveld ook

Onthou om alle kragproppe na te gaan en alle onnodige toestelle te ontkoppel (meeste toestelle trek steeds krag, al word hulle nie gebruik nie). Verder kan jy jou geiser afskakel sodat jou elektrisiteitsrekening (en die omgewing!) ook ‘n blaaskans kan vat.

3. Stadig oor die klippe!

Die nuwe neiging onder reisigers is om minder plekke te besoek, maar om meer tyd by elke bestemming deur te bring. Dit staan in Engels as slow travel bekend, maar ons het besluit om daarna te verwys as “vertoefsreis”. Hierdie manier van reis se koolstofvoetspoor is baie kleiner. As jy ‘n vertoefsreisiger is, het jy baie meer tyd om ‘n gevoel te kry vir ‘n plek en die plaaslike gemeenskap te ondersteun. Ons vlieg daagliks verby soveel interessante besienswaardighede – kyk net ‘n bietjie verder, bly net ‘n bietjie langer.

4. Ry met die kar (net nie Jan Tuisbly s’n nie)

Voertuie genereer normaalweg baie minder kweekhuisgasse per persoon as vliegtuie. So, volgende keer as jy in Suid-Afrika reis, gryp jou gunsteling roadtrip-CD en val in die pad! Dis natuurlik ook baie makliker om ‘n vertoefsreisiger te wees as jy jou eie wiele by jou het.

5. Gee, gee, gee

Dit is baie meer doeltreffend om liefdadigheidswerk deur gevestigde organisasies te doen as om self vir afgeleë gemeenskappe donasies uit te deel. Dit kan dit dikwels lei tot gemeenskapskonflik en afhanklikheid. Pack for a Purpose  is ‘n organisasie wat jou help om jou vakansie vir minderbevoorregtes ook lekker te maak. Hulle tree in samewerking met talle blyplekke in Suid-Afrika op wat ook by LekkeSlaap gelys is. As jy by die betrokke instansie bly, kan jy bloot jou donasies aan hulle oorhandig, en hulle sal dit aan die liefdadigheidsprojek vir wie die donasie bestem is, besorg. Lees hier meer oor hoe dit werk.

6. Hergebruik, moenie verbruik

Hou altyd ‘n waterbottel wat hergebruik kan word by jou. Daar is min dinge wat so sleg is vir die omgewing soos gebottelde water. Dieselfde geld vir plastieksakke, hou eerder ‘n sak vir inkopies by jou. En wanneer dit by kamera’s kom, gebruik liewer ‘n digitale kamera as ‘n weggooikamera om jou herinneringe vas te lê.

7. Trapsoetjies

Eerstens, moet ‘n mens nie rommel strooi nie. Dis baie eenvoudig, laat ‘n plek net soos jy hom gekry het. As elkeen van ons ‘n klippie, skulpie of blommetjie saamneem huis toe, gaan daar binnekort niks oorbly nie.

9. Local is lekke!

Probeer om kettingwinkels te vermy en eerder plaaslike besighede te ondersteun. Die produkte wat jy in kettingwinkels aantref, kom dikwels van ver af, en gevolglik is die koolstofvoetspoor altyd baie groter as dié van plaaslike produkte. As jy elke dorp se unieke winkeltjies ondersteun, trek die locals ook voordeel uit die toerismebedryf.

10. Plaaspad

Soek verblyf op ‘n werkende plaas, indien moontlik. Dit verseker dat jy ook die plaaslike landbougemeenskap ondersteun (en dis dikwels baie goedkoper as hotelle).

Het jy enige ander goeie idees of wenke vir ‘n omgewingsvriendelike vakansie?