Moderne, bekostigbare én veilige verblyf in die hartjie van Kaapstad? Dit klink soos een van daai stories wat jou ouers nie wíl glo nie en jou vriende nie kán glo nie. Sit ontbyt by die deal, en jy’s een stappie nader aan jou volgende botox-uitstappie.

Die kreatiewes in Kaapstad is ‘n spesie wat gemaak is om te verbaas. Gee vir hulle WiFi, ‘n paar blikke verf en gemaalde koffiebone uit ‘n eksotiese land, en hulle broei met idees agter te lang kuiwe en jeans wat regtig baie styf sit.

Toe gebeur dit weer. Sien, laasjaar dié tyd was Once nog Never, ‘n krok van ‘n gebou met bietjie potensiaal en baie werk. Vandag is Once en Yours Truly (die koffie- en kuierklub langs Once) dié uithangplek in Kloofstraat, ‘n plek waar modelle maand-kontrakte teken as hulle Kaap toe kom vir werk, waar die locals bier drink en internasionale gaste jou met hul eenderse andersheid laat wonder waar jy nou eintlik inpas. Miskien is dit juis dié andersheid wat Once beter as sy mededingers maak.

Vrydagaande is bring-en-braai-tye langs ou baddens (wat kruietuine geword het), ‘n ou kar (wat mooi op Instagram sal lyk) en ‘n gemeenskaplike kombuis (vir almal wat langer as een dag oornag). By Once kan jy stort sonder dat die hele kamer soos Dettol  hoef te ruik. Die sepies op jou bed is ‘n ontwikkelingsprojek vir minderbevoorregtes, en die vreemde plantbolle teen die voorruit  ‘n vriendin se projek … Ja, Once is anders omdat dit nie gewoon is nie. Dis die slimmer sussie, die een wat haar kougom oopmond kou en effens stouter op Facebook-foto’s lyk …

As Once in Cape Town jou opgewonde maak om in die Kaap te kom kuier, kliek hier en bespreek nou!

Elana van LekkeSlaap (regs) saam met Ilizna van TheTravelLiz


 

Ons bedank graag die hele span by Once in Cape Town wat ons so vriendelik ontvang het. Gérhard en Kim, baie dankie vir die uitnodiging. Julle is tops!
Kopiereg voorbehou. Foto’s slegs vir persoonlike gebruik, nie vir kommersiële doeleindes nie. 
Foto’s: Elana Esterhuyse, LekkeSlaap