Agter die versierde skerms, (5)Ek het met hoë verwagtings by die One&Only aangekom. Die hotel word immers geag as die beste in Kaapstad en spog met ‘n rits toekennings agter sy naam. Die vyf sterre, die grootste swembad, internasionale bekendes as gaste … die een en die enigste. My verwagtings is egter op ‘n ongewone wyse oortref. Ja, hier is moderne geriewe en weelderige kamers – ‘n indrukwekkende skouspel, maar ook iets meer. Agter die versierde skerms, skuil daar ‘n opregte filosofie. ‘n Diep oortuiging dat gaste gekoester moet word en dat werknemers hulle passie en gasvryheid moet uitleef. One&Only Cape Town weet dat dié dinge ‘n duisend keer meer werd is as ‘n spoggerige nagrus. Ná die tydelike luuksheid kan gaste wegstap met iets wat lewenslank hou – herinneringe en stories.

Op pad na die One&Only, is Kaapstad chaoties. Beurtkrag, Maandae en verkeersknope is waarskynlik die wêreld se mees gehate verskynsels. Wanneer dié dinge egter alles op een slag in die middestad gebeur, vergeet Kapenaars hulle berugte koelfaktor. Ek het ‘n hele paar varkies langs die pad verloor, maar na slegs ‘n paar minute in die hotel se ingangsportaal, was hulle almal weer mooi op hok. Die gebou is ‘n koel paleis, ek staan met ‘n warm lappie en koeldrankie in die hand en almal se gerustellende glimlagte sê geluidloos: “Welcome Miss Lombard.”

Die vriendelike Muchi Gubwe lei my na my kamer en hy hou my reaksie dop terwyl hy die deur oopmaak. Hy sien definitief die volkome verwondering op my gesig, want ek lees die pure plesier op syne. “Yes, it is beautiful!” sê hy trots. My oë dwaal oor die pragtige bad, die massiewe bed en die groot televisieskerm, maar haak vas by die venster: Tafelberg, salig onbewus van haar onderdane se gewroeg aan haar voet, lyk die mooiste wat ek haar al ooit gesien het. Eers na ‘n hele paar minute van staar na dié uitsig, kom ek agter dat Muchi die kamer stil-stil verlaat het sodat ek dit kan waardeer. 

By die One&Only word ek soos ‘n koninklike, maar ook soos ‘n jarelange vriend behandel. Hierdie hotel verdien sy 5-ster status op velerei maniere: In die kamer is daar ‘n bord vars vrugte en ‘n Nespresso-masjien wat veroorsaak dat ek vir oulaas vergeet dit is Maandag. ‘n Kussingspyskaart laat gaste toe om die beste nagrus van hul lewens te beleef. Ek kan selfs die kamergeur kies en later die aand is my persoonlike lushof gevul met die reuk van vanielje en jasmyn. Charlotte Rhys se bekende gehalte-stempel pryk op al die toiletware. Wat kos aanbetref doen die hotel ook sy naam gestand. Daar is twee uitstekende restaurante op die onderste vloer – Nobu en Reuben’s. Soggens word daar ‘n rojale buffet-ontbyt, wat elke denkbare lekkerny insluit, by Reuben’s voorgesit.

One&Only Cape Town is ‘n sensoriese skouspel. Die hotel is Sol Kerzner se skepping en die resultaat voel soos ‘n vakansieoord eerder as ‘n stedelike hotel. Die gebou is versier met pragtige kroonkanderlare en elke venster spog met ‘n indrukwekkende uitsig. Die grootste randvloeiswembad in Kaapstad word omring met palmbome en ‘n kanaal omsoom die hele eiendom.  Ek sit op die balkon en sien hier en daar ‘n paartjie wat teen ‘n rustige pas oor ‘n bruggie wandel en al wat ek hoor is voëls wat kwetter. Deurgaans heers daar ‘n opmerklike vakansie-gevoel – die atmosfeer van ‘n tropiese paradys. Tafelberg is die enigste herinnering dat jy eintlik in die middel van ‘n stad is.

2 Terwyl ons smul aan die heerlike aandete vertel die gasheer vir ons ‘n wonderlike suksesverhaal oor een van One&Only se werknemers. Luvo Ntezo was ‘n paar jaar gelede ‘n swembadkneg by die Steenberg-hotel, toe ‘n familie hom vra om ‘n bottel wyn oop te maak. Ntezo het verleë geantwoord dat hy nie weet hoe om dit te doen nie en het die volgende dag na die wynmaker John Loubser gegaan om hom meer te leer oor wyn. Hy het later by die Twelve Apostles Hotel gaan werk as ‘n skottelgoedwasser. Voor ‘n funksie het die wynmaker sy opinie oor een van die wyne gevra en Ntezo het geantwoord dat die wyn gekurk is. Die wynmaker was so beïndruk dat hy vir Ntezo ingeskryf het by die Cape Wine Academy. Vandag is hy die hoofwynkneg (sommelier) van die One&Only en die beste in Suid-Afrika.

Laat die aand staan ek op die balkon en kyk na die stad se liggies. Iemand het een keer vir my gesê dat die hotelbedryf soos ‘n swaan op water is: Kalm en rustig op die oppervlak, maar bedrywig onder die water. Ek onthou hierdie vergelyking toe ek dink aan Muchi se entoesiasme, Luvo Ntezo se verhaal, Sol Kerzner se entrepreneurskap en elke mens wat my tuis laat voel het. Die stories agter die luukse verblyf. Die passie en moeite van mense wat glo in gasvryheid en dat elke gas die hotel met ‘n wonderlike herinnering en storie moet verlaat. Die volgende oggend op pad terug werk toe sit ek weer vas in ‘n verkeersknoop, maar dié keer met ‘n glimlag want die hemelse nagrus talm nog in my gemoed.

LOVELYFLOWER (1)

Jy en ‘n metgesel kan twee aande in die One&Only wen. Hou ons Facebook-blad dop – die kompetisie word die 16de Februarie geloods!

https://www.facebook.com/Lekkeslaap

Bederf die liefde in jou lewe met ‘n aand in die One&Only. Bespreek aanlyn op ons webtuiste:

http://www.lekkeslaap.co.za/akkommodasie/one-only-cape-town