Aan die oewer van die Vaalrivier skuil dié klein, maar alles behalwe stil, toerismedorpie. Parys in die Vrystaat het oor die jare gegroei van ’n plattelandse dorpie tot ’n juweel van toerisme, kuns en die gasvryheid wat ’n mens van ’n plaasgemeenskap sal verwag.
Inwoners van Gauteng en Noordwes gaan kuier gereeld vir ’n langnaweek, of sommer net vir ’n daguitstappie in dié dorpie om weg te kom van die stad se gedruis. Maar moenie dat die dorpie se grootte jou flous nie ─ daar is altyd iets aan die gebeur! Op ’n naweek sal jy gedurig ’n groep motorfietsryers teëkom wat by een van die talle koffiewinkels ontspan, of selfs ’n skertsende ram- of henneparty wat jou mondhoeke sal laat opkrul!
Vir dié wat op soek is na ’n bietjie meer je ne sais quoi is daar ’n rits modieuse klerewinkels in die hoofstraat, asook twee beroemde ontwerpers wat reg staan om enige Aspoestertjie vir die bal aan te trek! Diegene met ’n meer avontuurlustige neiging kan ’n rits adrenalien- of buitelugaktiwiteite soos riviervlotvaart, kabelgly, visvang en gholfspeel in die dorp aanpak.
Natuurlik, met Covid-19 wat internasionale reis beperk, kan jy ook ’n smakie van Parys se Franse naamgenoot by een van die drie Eiffeltorings in die dorp kry, of julle liefdeslotjie aan die hangbrug haak sodat jy en jou liefie met ’n sleutel julle ewige trou en liefde aan mekaar kan beloof.
Hier is LekkeSlaap se lys van moet-doen-en-sien-dinge in dié bekoorlike dorpie.
Ons eie Champs-Élysées
Deur die jare het Parys gegroei tot die toerismedorp wat dit vandag is en een van die hoofbesienswaardighede in die dorp is beslis die rits unieke winkels wat in die hoofstraat, Waterstraat wat om die draai in Breëstraat verander, te vind is. Op hierdie einste draai is en Style, ’n stylvolle winkel met ’n verskeidenheid handgemaakte items, produkte van bekende handelsname en selfs ’n tatoeërateljee! Daar is wraggies iets vir almal.
Oorkant die pad is die outentieke, gevestigde antiekwinkel, Pines Antiques. Hier sal jy vir ure lank tussen antieke meubels, versamelstukke en tierlantytjies kan verdwaal. Daar is ook ’n galery in Pines waar plaaslike en welbekende kunstenaars hul werk uitstal. Hier kan jy ook die meer abstrakte, tong-in-die-kies beeldhouwerk van Francke Ceramics vind. Dit is maar een van talle antiekwarewinkels wat jy kan besoek, so hou jou oë oop vir Paris Antiques, Mon Ami Antiques, Oaktree Junction, Ou Goed en Parys Auctioneers waar jy op ’n Saterdag aan ’n veiling kan deelneem!
Verder af in Breëstraat is ’n doolhof van kunstige winkels waar jy sonder ophou na kopies kan koekeloer. Van juwele en kledingstukke tot kombuisware en lekkernye ─ dit vind jy alles hier. Maak seker jy loer by Olivia and Co, L.Design, lavish’d en Tactile Room in.
Un café, s’il vous plaît? ─ Koffiewinkels
Die plaaslike kelners mag dalk frons as jy dít vra ─ ’n eenvoudige asseblief en dankie is voldoende wanneer jy koffie by een van die dorp se verskeidenheid koffiewinkels bestel. Daar is Koffiekan, The Trading Post, Lekker Bistro, Plum Tree, La Vie en Rose en Pines Antiques se Liewer Koffi al langs die hoofstraat af. By laasgenoemde kan jy ’n liplekker koffie bestel waarvan die bone sorgvuldig deur die eienaar uitgekies word! Maak ook seker jy loer na hulle onbytspyskaart.
Avante Garde, my skat ─ Modeontwerpers
As jy ’n ontwerpersitem benodig ─ of dit nou ’n matriekafskeidrok, trourok, of ’n snyerspak is ─ waarom nie Parys toe kom en ’n naweek van die saak maak nie? Parys spog met twee wat jou in ’n prinses sal verander. Werner Dey en sy span tower rokke op wat enige metgesel na hul asem sal laat snak. Verder spog die dorp met Michael Bezuidenhout, ’n naam wat nie onbekend is in die modewêreld nie. Gaan maak gerus ’n draai by een van dié twee boetieks en skaf vir jou ’n perfekte, pasgemaakte uitrusting aan.
Pont des Arts in die Vaal ─ Die hangbrug
Die liefde, o die liefde! By die 1919-hangbrug wat oor die Vaalrivier strek, kan verliefde duifies, nes in Parys in Frankryk, ’n slot gaan hak en sommer ’n paar romantiese kiekies ook neem met die woeste waters en wilgerbome in die agtergrond.
Un trou en un – Pak jou gholfstokke in!
Die dorp spog met twee luukse wêreldklas-gholfbane langs die Vaalrivier. Vaal de Gráce en Parys Gholflandgoed bied beide agtien putjies en ’n klubhuis wat sommer as jou negentiende putjie dien. Die bekende gholfster, Nick Price, was deel van die span wat Vaal de Gráce se gholfbaan ontwerp het ─ wêreldklas inderdaad!
Woerts-warts oor die Koepel
Mega Zipline by Kiepersol bied ’n besonderse uitsig oor die Vredefortkoepel, een van UNESCO se Wêrelderfenisgebiede. Ons beveel sterk aan dat jy ’n besoek aflê vir ’n avontuur-ervaring binne-in een van ons land se mees gesogte besienswaardighede.
Roei ’n bietjie hier, roei ’n bietjie daar
Riviervlotvaart is een van die gewildste aktiwiteite wat gaste na Parys lok en wanneer die Vaalrivier afkom verskaf dit genot vir die hele familie! Daar is verskeie plekke in Parys wat hierdie aktiwiteit aanbied, so kry jou swemklere reg, gryp ’n spaan en ’n helm, en vaar die waters in vir ’n ervaring uit die boeke.
We’ll always have Paris … en die Eiffeltoring!
Nou ja, wat sal hierdie dorpie wees sonder sy naamgenoot se bekende Eiffeltoring ─ en ons Parys spog sommer met drie sulkes! Gaan neem ’n klassieke Eiffeltoring-foto voor hulle, terwyl jy droom oor die dag wat jy die régte een kan besoek. Kan jy almal van hulle in die dorp opspoor?
Hierdie Vrystaatse dorpie is dalk nie die Stad van Romanse soos die ánder Parys nie, maar dit steek ook glad nie af met al die aktiwiteite en besienswaardighede wat aangebied word nie. Parys herinner aan Clarens se kunssinnigheid en Kleinmond se sjarme. Vir diegene wat in Gauteng of Noordwes woon, maak ’n draai by die Vaalrivier se waters en gaan besoek Parys vir ’n dag- of naweekwegbreek. Dié van julle wat effens verder woon, maak seker om Parys op jou reisplan te voeg vir jou volgende rit in die Noordelike Vrystaat se rigting!
Hooffoto en alle ander foto’s, tensy anders vermeld: Lourens van Schalkwyk