Ek het nog altyd gedink ’n vlag is te plat en leweloos om ’n dinamiese ding soos ’n land en sy mense te verteenwoordig. Giant Flag se projek het my wel anders oortuig. Hierdie vlag is meer as net ’n simbool. Hierdie vlag is een wat groei, net soos die land wat dit verteenwoordig.

Giant Flag se onderneming is die eerste van sy soort. Die projek het in 2015 begin met die samestelling van ’n enorme landsvlag die grootte van 66 sokkervelde in die Vallei van Verlatenheid.

Die vlag gaan op die ou end bestaan uit miljoene kaktusse en vetplante en ’n 4 megawatt sonkrag-veld sal die swart deel van die vlag vorm. Boonop sal die miljoene kaktusse en vetplante waaruit die vlag bestaan, ’n verbysterende 87 318 ton koolstof per jaar neutraliseer, en die 4 megawatt sonkrag-veld sal elektrisiteit aan meer as 4000 huise voorsien. Dit gaan só reusagtig wees dat dit vanuit die buitenste ruimte sigbaar sal wees!

Enigiemand kan vir so min as R100 hul eie vetplantjie koop en deel wees van die projek. Met jou bydra koop jy nie net ‘n plantjie nie, jy laat ook ’n erfenis na vir die generasies Suid-Afrikaners wat nog kom. Giant Flag is nie besig om net ’n paar kaktusse op ’n vlakte te plant nie. Hierdie projek gaan mense se lewens verander deur honderde werksgeleenthede te skep in die eko-bedryf (of soos hulle in Engels sê, “green collar jobs”). Dit sal al te welkom wees in Graaff-Reinet waar die werkloosheidsyfer al by 40% gaan draai het.

Hierdie baanbrekerswerk is bewyse dat Suid-Afrikaners nie die wit vlag gaan opsteek nie. Kyk gerus dié pragtige video oor die projek:

Die Kamdeboo is die ideale oorstopplek op die lang pad tussen die Kaap en Johannesburg, so maak gerus volgende keer hier ’n draai om die nuwe besienswaardigheid te aanskou.

Wat dink jy van hierdie onderneming? Gaan jy vir jou ook ’n vetplantjie in die Karoo koop?