Van die warmste plek tot die kleinste woestyn ‒ ons het ʼn klompie indrukwekkende feite oor Suid-Afrika se grootste, hoogste, laagste, diepste, koudste en warmste vir jou versamel. Gebruik dié “het jy geweet”-skietgoed om die gesprek ʼn bietjie skop te gee as jy volgende keer saam met vriende of familie om die vuur sit en klets.

Die oudste gebou

Die Kasteel die Goeie Hoop is die oudste gebou in Suid-Afrika. Dit is tussen 1666 en 1679 deur die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie (HOIK) gebou om te dien as ʼn verversingstasie ‒ dis tussen 335 en 348 jaar oud! Die gebou is steeds ‘n bekende baken in die Moederstad en lok daagliks plaaslike en internasionale toeriste.

Die hoogste gebou

Carlton Centre in Johannesburg se middestad is die hoogste gebou in SA én in Afrika. Dié gebou het 50 verdiepings en is 223 m hoog ‒ meer as die helfte van ʼn atletiekbaan! Die gebou se lint is in 1973 geknip en dit bevat verskeie kantore en winkels.

Die hoogste residensiële gebou

Ponte City Apartments, ook in Johannesburg, is die hoogste residensiële gebou in die land. Hierdie wolkekrabber is 173 m hoog en het 54 verdiepings. Dit is in 1975 voltooi en bestaan uit ʼn paar plaaslike winkeltjies, ʼn gemeenskapsentrum vir kinders en 470 woonstelle!

Die langste strande

Ons land spog met ʼn hele paar lang strande. Die Weskus-dorpie Yzerfontein se strand is ongeveer 25 km lank; die Overbergse dorpie Struisbaai se gewilde strand is 14 km lank; en Muizenberg aan die Kaapse Skiereiland se strand is 19 km lank!

Die langste pas

Baviaans-Kouga in die Oos-Kaap is die langste pas in Suid-Afrika: hierdie hobbelrige grondpad is 73,3 km lank en enige avontuurlustige 4×4-entoesias se droom!

Die hoogste pas

Die Baviaans-Kouga mag dalk die langste wees, maar die Sani-pas op die grens van KwaZulu-Natal en Lesotho, met ʼn hoogte van 2876 m, is beslis die hoogste! Buiten die asemrowende uitsigte wat dié pas bied, is dit ook waar Afrika se hoogste kroeg geleë is. The Highest Pub in Africa is inderdaad die hoogste teen 2874 m bo seespieël, so bederf jouself met ʼn koue enetjie as jy eendag besluit om die pas baas te raak.

Die langste rivier

Van al die riviere in ons lekke land is die Oranjerivier (ook bekend as die Garieprivier, Grootte-rivier of Sengu-rivier) by verre die langste. Dit loop vanuit die Drakensberge in Lesotho regdeur Suid-Afrika tot by Alexanderbaai teen die Atlantiese Oseaan en vorm internasionale grense tussen Suid-Afrika en Lesotho, en ook tussen Suid-Afrika en Namibië. Dis g’n wonder dat 2200 km se water vir besproeiing, hidro-elektriese krag en natuurlik allerhande watersport gebruik word nie.

Die hoogste berg

Mafadi, die hoogste berg in Suid-Afrika, is 3,450 m hoog en vorm deel van die Drakensberge wat op die grens van SA en Lesotho geleë is. ʼn Gewilde roete teen dié berg op is Corner-Leslies Loop wat gemiddeld 4 dae neem om te voltooi. Die uitsigte is glo ongelooflik!

Die hoogste brugreksprong

Avontuurlustige adrenalienvrate sal nie die geleentheid misloop om die land (en ook die wêreld) se hoogste reksprong by Bloukrans Bridge Bungy te ervaar nie. Teen 216 m (alweer langer as ʼn halwe atletiekbaan!) is dit nogal iets om te beleef!

Die langste pleknaam

plak.co.za

Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein. Vier-en-veertig letters en alles aaneen. Sjoe. Ek is sommer stomgeslaan. Dít is die naam van ʼn plaas wat ongeveer 200 km wes van Pretoria en 20 km oos van Lichtenburg geleë is. Blykbaar is dit spesifiek die naam van die koppie wat op die plaas geleë is en is dié koppie so deur die Voortrekkers benoem. Die Voortrekkers het ‘n gewoonte gehad om die Suid-Afrikaanse landskap te vernoem na hul ervarings gedurende die Groot Trek. Die foto hierbo is die enigste werklike foto wat op die web van dié naam te vinde is.

Die kleinste dorpie

Die dorpie genaamd Val, tussen Greylingstad en Standerton in Mpumalanga, is die kleinste dorpie in die land en het net 18 permanente inwoners. Dit bestaan uit ʼn kerk, sportklub, 2 winkels, ʼn restaurant, kroeg, antiekwinkel, hotel, ʼn gastehuis, ʼn polisiestasie, poskantoor, slaghuis en 7 huise.

Die kleinste woestyn

Port Edward se Red Desert (170 km van Durban af) is die kleinste woestyn in die land. Dit beslaan net 11 ha/0,11000 km²! Dís veral ʼn indrukwekkende statistiek as jy dit met die Kalahari-woestyn vergelyk wat ongeveer 90 000 ha/900 000 km² groot is.

Die kleinste kerkie

Die land se kleinste kerkie in die dorpie Van Reenen, tussen Harrismith en Ladysmith, lok gereeld toeriste wat graag ʼn kiekie voor of van dié pragtige geboutjie wil neem! Die Rooms Katolieke Kerkie is destyds deur ʼn pa opgerig as erebewys aan sy seun, Llandaff Matthews wat oorlede is toe hy 8 mynwerkers in ʼn myn-voorval in Burnside gered het in 1925. Die Kerk het ook, heel gepas aan sy geskiedenis, sitplek vir slegs 8 mense.

Die warmste plek

Ons land is wel bekend vir sy gematigde temperatuur, maar daar is enkele dorpe waar dit regdeur die jaar vuurwarm en/of yskoud is. Die warmste plek in Suid-Afrika regdeur die jaar is Letaba (Limpopo) met ʼn gemiddelde jaarlikse temperatuur van 23,3 ºC en ʼn gemiddelde jaarlikse maksimum temperatuur van 35 ºC.  Die hoogste temperatuur wat amptelik ooit in Suid-Afrika gemeet is, is 48,8 ºC in Vioolsdrif in Januarie 1993.

Die koudste plek

Aan die ander kant is Buffelsfontein naby Molteno (Oos-Kaap) met ʼn gemiddelde jaarlikse temperatuur van 11,3 ºC en ʼn gemiddelde minimum temperatuur van 2,8 ºC beslis die koudste plek in die land. Brrrr. Die laagste temperatuur wat al ooit gemeet is, is -18,6 ºC op 28 Junie 1996!

Die hoogste waterval

KwaZulu-Natal se Tugela-waterval is die hoogste waterval in Afrika en die tweede grootste in die wêreld teen 947 m. Dit is in die Drakensberge in die Royal Natal National Park en is sigbaar vanaf die park se hoofpad. Daar is ʼn kampeerterrein en berghut net bo die waterval en twee roetes om dit te bereik. Die een roete strek vanaf die Sentinel-parkeerplek tot by die Mount-Aux-Sources-plato en die tweede roete strek vanaf die park tot by die Tugela-kloof.

Die grootste wildreservaat

Die Kruger Wildtuin is een van die grootste wildreservate in Afrika en die grootste een in ons land. Dit beslaan 19 633 km² in Limpopo en Mpumalanga en strek 360 km van noord na suid, en 65 km van oos na wes. Die park se fauna en flora is volop en divers en sluit 3000 krokodille, 27 000 buffels, 2 800 leeus, 3000 seekoeie, 150 000 impala en 50 visspesies in!

Die kleinste wildreservaat

Bontebok Nasionale Park is Suid-Afrika se kleinste nasionale park en beslaan net 27,86 km²! Dit is 6 km suid van Swellendam aan die voet van die Langeberge geleë en grens ook aan die Breederivier. Die wêreld se hele bontebokbevolking van 2500 – 3000 is almal van dié park se bontebokbevolking afkomstig.

Die langste hoofstraat

Die Paarl se hoofstraat is 12 km lank, die langste hoofstraat in die land. Weerskante van dié straat is daar pragtige gerestoureerde Kaap-Hollandse, Georgiaanse en Victoriaanse geboue wat kilometers lank die dorp verfraai, en ʼn effense nostalgiese atmosfeer skep.

Die oudste persoon

Die oudste persoon in SA is Johanna Ramatse wat in 2013 haar 130ste verjaarsdag gevier het! Sy woon in Stinkwater, Hammanskraal in Pretoria, volg ʼn dieet van groente en ʼn baie klein hoeveelheid vleis, en spog met 10 kinders, 16 kleinkinders en 36 agterkleinkinders.

Die grootste canyon

Die Blyderivier-canyon is die grootste canyon in die land en ook een van die grootstes in die hele wêreld. Dit is 25 km lank en is gemiddeld 750 m diep! Die canyon is deel van die Panorama-roete wat begin by Graskop en God’s Window, the Pinnacle en Bourke’s Luck Potholes insluit.

Die grootste en diepste mensgemaakte gate

Kimberley het dalk die grootste mensgemaakte gat in die wêreld, maar het jy geweet dat Jagersfontein in die suidelike Vrystaat die diepste vertikale mensgemaakte gat het? Die gat is met die hand gegrawe en was teen 1911 al 201 m diep. Die bekende Excelsior- en Reitz-diamante is albei in dié myn gevind.

Die grootste rooibaksteengebou

Pietermaritzburg se stadsaal is die grootste rooibaksteengebou in die Suidelike halfrond en sy kloktoring is 47 m hoog. Dié gebou is ʼn nasionale monument en ʼn pragtige voorbeeld van Victoriaanse argitektuur.

Die luuksste trein

Alhoewel Suid-Afrika nie bekend is vir luukse vervoerstelsels nie, het ons tog die luuksste trein ter wêreld. The Rovos Rail se ultra-luukse Victoriaanse interieur, fynproewersmaaltye, uiters moderne geriewe en hemelse suites sorg vir ʼn onvergeetlike reis in- of deur Suidelike Afrika.

Die oudste hotel

The Royal Hotel in Riebeeck-Kasteel is die oudste hotel in Suid-Afrika. Die laaste strukturele verandering is in 1927 aangebring en sedertdien word die gebou as ʼn hotel benut. Dit is ook die luuksste akkommodasie in die Swartland, die ideale trou-venue en is omring deur skilderagtige wynplase in die Riebeeck-vallei.

Die oudste kerk

De Groote Kerk in Adderley Straat in Kaapstad is die land se oudste kerk en is in 1704 die eerste keer ingewy. Dié kerk huisves boonop ook die land se grootste orrel en dit beskik  oor die grootste ongestaafde koepelvormige dak in die suidelike halfrond.

Die oudste gelisensieerde kroeg

Die oudste gelisensieerde kroeg is Pig and Whistle in Bathurst, Oos-Kaap. Dié historiese kroeg les al die dors van menige besoeker vir meer as 180 jaar. Dis ʼn gunsteling watergat vir plaaslike inwoners en besoekers, en word ook na verwys as ‘The Pig’. Dis in 1832 gestig en word deur ʼn familie bestuur.

Die kleinste kroeg

The Workshop in Houtbaai. Foto: mallix (flickr)

So gepraat van kroeë … The Workshop in Houtbaai staan weer bekend as die kleinste kroeg in die land. Die kroeg spog met dié feit in die vorm van drie borde en baniere wat die ingang versier en blykbaar heelwat kroeglopers lok.

Die grootste stoel

Die land (en kontinent) se grootste stoel is net ʼn klipgooi buite Robertson op die Rooiberg-wynplaas. Die stoel is 9m x 4m. Besoekers aan dié wynplaas sal beslis nie hulle kuiertjie in Robertson vergeet as hulle ʼn foto op die reuse Rooi Stoel geneem het nie!

Weet jy dalk van nog -stes wat jou dorpie, streek of provinsie uniek maak? Deel dit met ons! Gaan spog nou ʼn bietjie met jou nuutgevonde skietgoed oor Suid-Afrika of besoek die plekke hierbo terwyl jy die land gedurende jou LekkeSlaap-vakansie verken.