Sukkel jy om te kies tussen ’n vakansie in die Karoo of teen die kus? LekkeSlaap wys jou waar jy die stilte van die Groot-Karoo of die prag van die kus in die Oos-Kaap kan ervaar. Dié twee bestemmings mag dalk in dieselfde provinsie wees, maar hulle bied baie kontrasterende ervarings. Die Oos-Kaap spog met van die mees skouspelagtige landskappe, van die groen koppies van Hogsback tot die vlaktes van die verlate Karoo.

Die Groot-Karoo bied talle bekoorlike dorpies wat jou sal terugneem na vervloë jare. Dis asof tyd gaan stilstaan het hier op die uitgestrekte vlaktes. Hier is die gejaag van die stad iets van die verlede en kan jy net afskakel en die natuurskoon, gasvryheid en vars lug geniet. As jy op soek is na pure rustigheid en mooi landskappe, hoef jy nie verder te soek nie ─ die Groot-Karoo is nét die bestemming vir jou.  

Willowmore is ’n kleurvolle Karoobestemming met sy vriendelike mense en unieke karakter. Dié dorp word as die westelike poort na die Baviaanskloof gesien, maar bied baie meer as net ’n deurpad. Ons stel voor jy verken die dorp op die Willow Limo ─ ’n bekoorlike donkiekar in die hoofstraat ─ of besoek die verskeie historiese geboue, waarvan een, The Old Jail, in ’n gastehuis omskep is. Maak ook ’n draai by The Willow Historical Guest House om meer uit te vind oor die geskiedenis van hierdie Karoodorp. Hier is gelukkig nie ’n tekort aan oulike winkels en plekkies om ’n koppie boeretroos te geniet nie.

Keurfontein Country House | Katel & Kooi

Die klein dorpie Aberdeen is net suidwes van Willowmore naby die Kamdeboo-berge geleë. Dié dorp spog met ’n ryk argitektoniese erfenis met verskillende boustyle wat opgeknap is om hul gloriedae te herleef. Die talle Victoriaanse geboue gee die dorp sy unieke en historiese karakter en hiér kan jy die Melkweg op sy heel mooiste sien. Jy kan ook die bekende Vallei van Verlatenheid besoek vir ’n paar puik fotogeleenthede. Moenie verbaas wees as jy sukkel om huis toe te gaan nie – dié dorp gaan maak dat jy vir altyd wil bly.

Karoo Moons | Langfontein Guest Farm

Die Groot-Visrivier kronkel deur Cradock na die Oos-Kaap se kus waar hy in die see uitmond. Die Victoriaanse argitektuur sal jou in hierdie dorp ook betower. Cradock spog met ’n ryk geskiendenis en merkwaardige geboue soos die Duitse Gereformeerde Kerk en die Olive Schreiner House Museum. Die ouwêreldse Die Tuishuisie & Victoria Manor helder Markstraat op en jy kan gerus daar gaan inloer vir ’n heerlike Karoogereg. Die merkwaardige geskiedenis van Cradock is deels vanweë die Groot Trek wat in dié deel van die Karoo begin het. Dit is ’n landbougemeenskap wat in die produksie van wol, sybokhaar en veeboerdery spesialiseer. Die Nasionale Bergkwaggapark is naby die dorp en bied baie doendinge in die natuur en wildkykgeleenthede.

Die Tuishuisie & Victoria Manor | Mountain View Country Guest House

Nieu-Bethesda in die hartjie van die Groot-Karoo sal jou terugneem in tyd met sy oorspronklike Victoriaanse geboue en leivore wat steeds langs die stowwerige strate sonder straatligte loop. Dié bekoorlike dorp het minder as ’n duisend inwoners en die afgeleë ligging in die smal vallei sorg vir pure rustigheid. Die magiese dorp het so te sê stilgestaan in tyd, maar is beslis nie aan die slaap nie. Die dorp bied rustieke sjarme, met talle kunstenaars en kreatiewe siele wat na dié rustige toevlugsoord stroom. Dit is moeilik om Nieu-Bethesda te besoek en nie ’n draai te maak by die wêreldbekende Uilhuis nie. Jy kan gerus Sneeuberg Brewery and 2 Goats Deli ook besoek vir heerlike kaas en piekniekmandjies.

Ganora Guest Farm & Excursions | Kliphuis

Die Oos-Kaap se pragtige kuslyn bied verskeie geleenthede vir watersport en visvang en dit is die ideale bestemming vir onvergeetlike gesinsvakansies. Die asemrowende kus is meestal ongerep en spog met klein vakansiedorpies wat jou nie sal teleurstel nie. Die 800 km lange kuslyn strek vanaf Stormsrivier na die grens van KwaZulu-Natal by Port Edward. Die natuurskoon van die Wildekus beloof om jou asem weg te slaan. Moet dus nie langer wag om ’n draai te maak by een van dié kusdorpies nie.

St. Francisbaai, met sy mensgemaakte kanale, waterweë en pragtige grasdakhuise lê net duskant Port Elizabeth. Dié eksklusiewe baai spog met veilige strande, natuurreservate, visvanggeleenthede en lekker branders wat veral gewild is onder branderplankryers. Daar is talle watersportgeleenthede in dié baai, so jy sal nooit verveeld wees nie. Huur ’n branderplank, vlieërplank of kano by een van die plaaslike winkels en geniet die warm Indiese Oseaan. Dié deel van die kus spog met asemrowende fynbos en besoekers kan die Irma Booysen Flora Reservaat besoek waar verskeie fynbossoorte gesien kan word. Gedurende Mei tot Desember kan jy verwag om talle dolfyne en walvisse in die water te sien baljaar.

A Modern Beach House in St Francis | 39 Canal Road

Gonubie is net buite Oos-Londen geleë en die pragtige strand, strandmeer, getypoel en wandelpad maak dit die perfekte rustige wegbreekplek langs die kus. Die Gonubie-rivier mond hiér uit, so dis ’n puik bestemming as jy kano- of kajakvaart wil aandurf. Daar is ook verskeie wandelroetes en voetslaanpaaie om aan te pak, onder meer die Strandloper-voetslaanroete en die Sunrise-on-Sea na Kwelera-riviermond-roete. Daar is ’n pragtige plankpaadjie waarop besoekers kan wandel en die sonsondergange geniet.

The Edge Boutique Bed & Breakfast | Tidewaters B&B

Morgansbaai is ’n ongerepte kusbestemming wat aan die begin van die Wildekus, sowat ’n uur buite Oos-Londen, lê. Dit is ’n gewilde vakansiebestemming danksy die dorp se veilige en pragtige strande en strandmeer. Ontspanning heers hier en besoekers kan die pragtige kus met sy dramatiese dolerietkranse geniet deur die voetslaanpaaie op die kranse, met die branders wat onder jou teen die rotse breek, aan te pak. Jy kan ook die kus op die rug van ’n perd verken ─ perdry op die strand is ’n gewilde tydverdryf in dié dorp. Die baai is ’n bobaas-branderplankrybestemming en ’n voëlkykersparadys. Die pragtige Double Mouth Natuurreservaat bied ook baie doendinge en asemrowende natuurskoon.

The Sullies | Seaside Holiday House

Haga-Haga is ’n klein dorpie by die Haga-Haga-riviermonding teen die Wildekus naby Oos-Londen. Met luisterryke groen heuwels, beboste valleie, kranse, pragtige wit strande en afgeleë baaie beloof dié bestemming om jou asem weg te slaan. As jy hou van avontuur stel ons beslis voor jy pak jou tekke in. Die voetslaanpaaie is die beste manier om die ongerepte natuurskoon in al sy glorie te beleef. Jy kan ook lekker lyn natmaak op die rotsagtige klipbanke en die strande sal ure se vermaak verskaf ─ dis die Wildekus op sy beste! Die klein dorpie Keimond, die suidelike poort na die Transkei Wildekus, is net duskant Haga-Haga geleë. Jy kan vanaf Keimond na Koffiebaai op ’n ponton-veerboot vaar en die alombekende Hole in the Wall besoek.

Firefly | OppiePlaas

Daar het jy dit! Die Oos-Kaap is die perfekte bestemming vir jou, of jy nou van Karoovlaktes of die Wildekus se branders hou.

Hooffoto: Cradock deur Pieter Wolhüter