Dis 21 Desember en ek en Kallie reis vanaf Kaapstad — die stormstad en tuiste van Tafelberg — na Namibië — die land van sand, etlike landskappe, treffende sonsondergange, kaal vlaktes en brötchens. Almal weet dié pad kan lank en eentonig raak en ’n mens se ooglede maar swaar so op die langpad ─ veral as die eindbestemming, Grootfontein, 11000000 kilometer verder is. Maar nie te bekommer! Ná ons epiese tog oor die Kersseisoen wys LekkeSlaap vir jou al die opwindende stopplekke langs die pad sodat dit nie só vervelig is nie.
Teen Vrydagmiddag het ek ’n roomysbak vol hoenderboutjies en ’n 2 liter-bottel Oros gereed voor ons in die kar spring. Die pad Kamieskroon toe is lank en dis al laat, daarom is dit goed om voorbereid te wees sodat jy nie plek-plek hoef te stop vir versnaperings nie. Piketberg is natuurlik ook ’n gerieflike oornagbestemming, maar dis nog té na aan die Kaap. Daar is ’n groot diensstasie met verskeie eetplekke as die kol op jou maag of die kinders agter in die kar begin raas, maar ons ry verby — die hoenderboutjies is nog nie op nie!
Sowat 40 kilometer duskant Piketberg, op die Piekenierskloofpas, lê die immergewilde Kardoesie-padstal met heerlike pasteie, tuisgemaakte produkte en vars groente en vrugte. Groot was ons teleurstelling toe ons ná 17:00 daar verbyry en sien dat dit toe is. Ons kon nie die res van die pad sonder hertzoggies indink nie en stop toe by die Hebron-padstal so 25 kilometer anderkant Kardoesie — hulle bly ’n bietjie later oop.
Soos ons teen die Piekenierskloofpas afry met monde vol soetgoed, word ons deur die salige groen vrugteboorde en die skoon, blou lug van die Sederberg-area gegroet. As jou hoenderboutjies nie amper op is nie en dit jou nie noodsaak om voet in die hoek te sit nie, stop gerus en verken die Rooibostee-roete tussen Citrusdal en Vanrhynsdorp.
Teen 20:00 is ons op Klawer en as dit die Namibiese mense is vir wie jy noord mik kan jy maar netsowel daar kamp opslaan. Hiér vind jy Namibiërs by die dosyne saamdrom by die vulstasies. Dit kan net een van twee dinge beteken: Namibiërs het ’n obsessie met vulstasies, of Klawer is ’n gerieflike stopplek om verversings te kry.
Op Kamieskroon, net so ’n bietjie meer as 2 ure se ry vanaf Klawer, slaap ons by Kroon Lodge. Gaste kan enige tyd van die dag inklok wat dit baie gerieflik maak as jy nie seker is hoe lank jy op die pad gaan wees nie. Die bestuurder en sy hondjie, Winnie, wag vir ons by die hek van die lodge in toe ons laat die aand daar aankom. Die lodge is maklik om te vind, so dis nie nodig om op mekaar te gil omdat die GPS nie werk nie. Die bestuurder was ook gaaf genoeg om van sy lipleklekker bobotie met ons te deel, aangesien alle eetplekke op die dorp reeds gesluit was. Nie net is die plek vreedsaam vir ’n goeie nagrus nie, maar gasvry ook!
Die volgende oggend terwyl die lug nog geel en oranje ingekleur is, val ons vroeg in die pad en kan ek nie wag om dieselfde CD vir die vierde keer te luister nie. Interessante feit: Jy kan Sokkie is Groot CD 1 ongeveer 17 keer luister tot jy in Grootfontein stop! As jy nie vroeg al in die pad val nie, kan jy wes mik na die Namakwa Nasionale Park wat 22 kilometer noordwes van Kamieskroon af is. Dié park is ’n veldblomparadys tydens die blomseisoen in Julie en Augustus!
Ons hou egter verby en wonder maar hardop wie al daardie blomme geplant het. Tussen Kamieskroon en Springbok is daar niks om jou aandag af te lei nie, behalwe ’n kinderlike opgewondenheid om koffie in Springbok te koop. Wenk: Hou jouself met lekker speletjies in die kar besig om die tyd vinnig verby te laat gaan. Ek het veral Name, Vanne, Diere, Dorpe geniet.
In Springbok is dit tyd vir ’n koppie boeretroos en tot ons verbasing is dit byna net so erg om 05:00 die oggend daar koffie te koop soos om 17:00 op die N1 in spitsverkeer te sit. Ons is 05:30 eers daar weg met ons koffies in hand.
Die grens tussen Suid-Afrika en Namibië is nie ver van hier af nie en ons is haastig om daar uit te kom. As jy ’n aand wil oorbly is Vioolsdrift Lodge ’n paar meter van die grenspos af. Dit word aanbeveel deur my kollega, want “dis, soos, groen en daar’s ’n bed”.
En eweskielik is ons in Namibië en, mense, dis so warm dat die kraaie gaap! Ek moet noem dat ons lugversorging nog heelpad nie werk nie en dat dit my nou bekommerd maak!
Dit ruik soos vleis, sand en jy-mag-nog-op-die-strande-ry en die pad lê nimmereindigend voor ons uitgestrek.
Ons stop in Noordoewer om ’n simkaart te koop sodat ons nie 7 maande se salaris op oproepe hoef te spandeer nie, en by Wimpy besoek af te lê vir ’n behoorlike maaltyd. Namibië het nie soveel padstalle soos Suid-Afrika nie, maar selfs al was daar sou ek steeds aangedring het dat ons by Wimpy stop. Was jy regtig met vakansie as jy nie 56 keer Wimpy geëet het nie?
Die Ai-Ais Richtersveld Transfrontier Park is net 60 kilometer vanaf Noordoewer en is ’n oase vir moeë reisigers. Die enorme Visrivier-canyon is ook in dié park en is ’n lekker stopplek as jy kies om aan te hou ry of in die omgewing oor te slaap. Verder is die pad tussen Noordoewer en Grunau lank en leeg — dit blink soos ’n slang voor jou en jy begin alleen voel. Maar dan wag daar ’n klein, wit gebou sonder ’n naam wat die lekkerste biltong en droëwors verkoop op jou sowat 100 kilometer voor Keetmanshoop. As jou maag weer grom, is die volgende Wimpy net voor Keetmans so na aan die beloofde land soos jy gaan kom.
Van hier af is dit ongeveer 40 dae en 40 nagte tot op Mariental! Dit is 40°C en die pad se lugspieëling laat dit lyk of jy langs ’n warm vuur sit.
Kalkrand is die volgende dorp en hier is slegs ’n polisiestasie, kliniek en vulstasie — hou maar verby as jy nie beroof of olik is nie. Rehoboth lê ook tussen ons en Windhoek, maar ons druk deur ─ dis darem nie te ver nie. Windhoek klink soos ’n reus wat rustig lê en slaap toe ons daar inry.
Uiteindelik hou ons stil by my gesin en ek kan nie wag om in die bed te verdrink nie. Die hele familie kom hiér bymekaar voor ons almal (insluitend familie vanaf die Vrystaat, dis ’n ander roete vir ’n ander dag) saam die pad aanpak Grootfontein toe. Windhoek is die enigste groot stad met groot winkelsentrums, so ons vul maar ons voorrade, soos die lewensnoodsaaklike Oros, hier aan.
Dis reënerig toe ons in ’n konvooi van 5 voertuie die volgende oggend uit Windhoek ry, en ons ruik alles wat goed en Namibies is: reën op grond, boom en blaar. Dis ook al wat jy sien tussen Windhoek en Okahandja — ’n vaal 73 kilometer. Dit sal ietwat van ’n sonde wees om Okahandja verby te ry sonder om by Backerei Dekker te stop. Dié gebakskatkis is aan jou linkerkant as jy net reguit aanhou met die pad waarmee jy ingekom het. Ons ry natuurlik knuppeldik geëet uit Okahandja en die kar is vol verdwaalde skilferkors-stukkies — my ma is kwaad!
Die volgende padmerker, Otjiwarongo, wat ‘mooi plek’ in Otjiherero beteken, is presies wat die naam sê. Die dorp is ’n kombinasie van lekker winkels en lekker mense. En ja, jy het reg geraai – ’n lekker Wimpy! Die Spar op die dorp is ’n bekende stopplek vir Namibiërs waar jy warm kos en koue koeldrank kan koop. Die Cheetah Conservation Fund, Waterberg Nasionale Park en die Mahango Game Reserve is ook gewilde stopplekke in die dorp en ons stel voor jy neem ’n blaaskans hier.
Otavi is die volgende dorp en is ook ’n bekende stopplek op pad na Etosha Nasionale Park. Otavi het ’n bevolking van 4000 mense, 2 winkels en 2 vulstasies. Dis hiér waar jy begin voel jy is in die Noorde van Namibië — ’n verlore Afrika-kind in stof, reën, grond en bos.
Grootfontein is nog net 90 kilometer vanaf Otavi en dié dorp steek uiteindelik sy hand uit en verwelkom ons! Ons het dit gemaak! Daar is 2 bekende besienswaardighede in dié omgewing: Die Hoba-meteoriet van 60 ton (hoeveel hoenderboutjies ons geëet het) en Die Kremetartboom wat ’n omtrek van 30 meter het (hoe ons lyk na al die Wimpy-stoppe).
En nou kan ons Kersfees vier, almal is hier!
Erkenning:
Alle foto’s deur Lisa Slippers, tensy anders vermeld.