Die stories oor Paternoster se naam waai oor die eeue heen oor die wit strand en, soos dit maar met die geskiedenis gaan, kan ’n mens nie die mond wat die storie vertel, skei van die storie self nie. Vissermanne vertel verhale van Strandlopers wat elke dag by ’n seekos-buffet aangesit het met krale genaamd “Paternosters” om hul sonbruin nekke, as jy rondblaai in die seebodem se boek is daar stories van Katolieke Portugese skipbreukelinge wat die “Onse Vader” prewel voor die swart see hul insluk, en op Pierre Mortier se ou kaart is dié dorpie opgeteken as “St. Martins Paternoster”. Waar hierdie plek ook al sy naam gekry het, as jy op die mooiste strand aan die Weskus staan en jou oë laat speel oor die ronde rotse en die afgewitte vissershuisies teen die soliede blou hemel, voel jy iets in jou siel roer en prewel jy óók ’n paar heilige woorde.

 Vinnige Paternoster-feite:

* Die eerste Portugese seevaarders het heerlik geëet aan die volop kreef en teen 1902 is hierdie lekkernye op groot skaal hier verwerk en uitgevoer, veral na Frankryk.

* Die eerste Redro-vissmeerfabriek is in 1930 hier opgerig deur die Stephan-familie wat gedink het dit is hoogtyd dat Peck’s Anchovette van Brittanje ’n bietjie kompetisie kry.

* Plaaslike inwoners vang en verkoop haring en mossels, sardientjies word hier ingemaak, en die seegroen “ploeglande” in dié geweste wemel van die oesters en die perlemoen.

* Bokkoms (visbiltong) dien al eeue lank as ’n goedkoop bron van proteïen vir die plaaslike bevolking. Deesdae word hierdie souterige peuselhappie wat ’n mens se kiewe so laat saamtrek ook uitgevoer.

* Dié wêreld is droog en winderig, en die reën val in die winter, maar in die lente is die veld oortrek van die veldblomme.

Doendinge:

* Gaan kyk in die lente na die veldblomme in die Columbine Natuurreservaat.

* Besoek Pieter Pieterse se geliefde Tietiesbaai.

* Neem ’n foto van Cape Columbine se vuurtoring.

* Besoek die Lisboa-wrak wat op 23 Oktober 1920 hier gesink het.

* Gooi ’n snoek op die kole en braai kreef met suurlemoenbotter!

Waar jy kan LekkeSlaap:

Bokkoms Guest Flat

Nieuview Cottage 1

Soli deo Gloria Unit 1

Soli deo Gloria Unit 1

Bespreek sommer nou ’n lekke lêplekkie op Paternoster, stap na die strand, staan ’n rukkie stil, en luister na die wind se eindelose fluistering.

Hooffoto: Fishing boats on the beach of Paternoster, Western Cape, South Africa in November 2009, Mike Lomax, Wikimedia Commons

Eerste collage: Bigstock

Tweede collage: Nieuview Cottage 2; Hannah

Tensy anders aangedui, is al die foto’s gekry op die betrokke instansies se profiele op LekkeSlaap.co.za.