“Dié wat nie die verlede onthou nie, is bestem om dit te herhaal,” het George Santayana eens gesê.
 

Gelukkig is daar min lande wat so deurdrenk is met geskiedenis soos Suid-Afrika. As jy meer oor ons land se ingewikkelde geskiedenis wil leer, het LekkeSlaap vir jou ‘n paar bestemmings vir ‘n reis terug in tyd gekies.

1. Casteel de Goede Hoop

Begin jou reis by die oudste gebou in Suid-Afrika. Die Kasteel (of “Casteel” soos dit destyd in Nederlands gespel is) is ‘n sterfort in Kaapstad wat sedert sy oprigting in 1666-1679 die hart van die Moederstad is. Die Kasteel is oorspronklik as ‘n fort gebou om die belange van die VOC aan die Kaap te beskerm en interessant genoeg, dui die Kasteel se ligging die oorspronklike kuslyn aan. Dit is verbasend om te dink die branders het eens teen die Kasteel se deure gespoel! ‘n Besoek aan die kasteel bied ‘n blik op die lewe in daardie dae en dit is definitief die moeite werd.

Kliek hier vir akkommodasie naby aan die Kasteel.

2. Driekops Eiland

Driekops Eiland is ‘n rotsgraveringsterrein naby aan Plooysburg in die Noord-Kaap. Hier kan jy duisende geometriese patrone wat in die rivierbed ingekerf is, besigtig. Wat hierdie plek so besonders maak is die unieke aard van die kuns – die mees prominente patrone is sonstrale, sirkels, ruitenette en kruis-en-dwars lyne. Die gesamentlike effek van die patrone is iets besonders. Hierdie rotskuns is oor ‘n lang tyd uitgekerf. Die eerste kerfwerk is ongeveer 2500 jaar terug aangebring en daar is 100 jaar later uitgebrei tot ‘n versameling van 3500 graverings wat die rivierbedding versier. Dit is beter om vroegoggend of laatmiddag die graverings te gaan besoek, want dit raak snikheet daar en boonop vertoon die kuns beter in sagte lig.

Kliek hier vir akkommodasie naby Driekops Eiland.

3. Okiep

Meeste dorpe in Suid-Afrika het rondom ‘n kerk ontwikkel, maar Okiep se oorsprong lê in ‘n kopermynskag. In 1681 het die Namas van hierdie area Kaap toe gegaan om handel te dryf en dis toe dat Simon van der Stel die suiwer koper aan hulle gesien het, en onderneem het om dié metaal te ontgin. Drie skagte is in 1685 al gesink, maar Okiep se afgeleë ligging het gemaak dat die koper eers teen 1852 effektief gemyn is.  In die 1870’s is Okiep as die ryskte kopermyn in die wêreld geag. Die dorpie is ‘n “kopermyn” van geskiedkundige besienswaardighede met die enigste werkende hefboompomp in die suidelike halfrond. Die hefboompomp is in 1885 in Cornwall, Engeland aanmekaargesit en per skip na Port Nolloth se hawe vervoer. Vandaar is dit met die meultrein deur muile na Okiep gebring en weer daar aanmekaargesit. Hierdie pomp kan tot vandag toe nog in Okiep besigtig word.

Kliek hier vir die enigste akkommodasie in Okiep.

4. Kleinplasie

Die Kleinplasie Lewende Opelug-Museum is in 1981 oopgemaak om die leefwyse van die landbougemeenskap van 1690 tot 1900 ten toon te stel. Elke gebou is gewy aan ‘n landbousektor van die Wes-Kaap en hier kan mens sien hoe die boere in daardie jare tabak gerol het, kerse gemaak het, brood gebak het in die buite-oond, seep gekook het en witblits gestook het! Verder kan seisoenale aktiwiteite ook hier beleef word; by Kleinplasie word daar skape geskeer in September en druiwe geoes in Maart. Al die landboupraktyke wat hier ten toon gestel word, word met dieselfde toerusting en metodes uitgerig as wat die eerste boere gebruik het. Die personeel dra ook historiese drag, so Kleinplasie voel regtig soos ‘n tydkapsule waar jy maklik die hele dag lank kan vertoef.

5. Die Voortrekkermonument

Die Voortrekkermonument is ontwerp deur Gerard Moerdijk en is opgerig om hulde te bring aan die Voortrekkers wat die Kaapse Kolonie tussen 1835 en 1854 verlaat het. Die hoeksteen van hierdie prominente granietstruktuur is op 16 Desember 1938 deur drie afstammelinge van die Voortrekkerleiers gelê. Die monument is 40 m hoog, 40 m lank en 40 m breed. Dit is ‘n indrukwekkende landmerk en veral die historiese frieswerk en die senotaaf aan die binnekant is vreeslik interessant. Hoekom bly jy nie by die nabygeleë Oxwagon Lodge om die Voortrekker-ervaring mooi af te rond nie?

6. Malgas Pont

Malgas is ‘n dorpie aan die regteroewer van die Breederivier in die Overberg-streek van die Wes-Kaap. Die dorpie is 25 km noord-wes van die Breederiviermonding by Witsand geleë en 30 km suid-wes van Swellendam. Malgas het voorheen as Malagas bekend gestaan, maar die naam is verander weens die feit dat die dorpie se pos gedurig in Malaga, Spanje opgeëindig het. Hierdie dorpie spog met die laaste handgedrewe pont in Suid-Afrika. Die pont is al sedert 1860 in werking en dit kan ‘n maksimum van 3 karre of ‘n 10 ton-vrag oor die Breederivier neem.

Wil jy ook die rivier op hierdie wyse oorsteek? Kliek hier vir nabygeleë akkommodasie.

7. Sterkfonteingrotte

Die Sterkfonteingrotte is een van die bekendste paleo-antropologiese terreine in die wêreld. Talle merkwaardige ontdekkings is al hier gemaak, onder andere Mev. Ples, die eerste volledige Australopithecus africanus skedel, en “Little Foot”, ‘n aapmanskelet wat 4,17 miljoen jaar oud is. Hierdie plek staan nie verniet as die Wiegie van die Mensdom bekend nie en dit is verseker ‘n moet-sien-bestemming!

Vir akkommodasie naby die Sterkfonteingrotte, kliek hier.

8. Coedmore Kasteel

Coedmore Kasteel is in 1882 deur Dering Lee Warner Stainbank gebou as familiewoning. Dering Stainbank is in 1841 in Engeland, gebore, maar het op 21 April 1857 die 3 maande lange skeepstog na Durban aangedurf. Hy het later getrou met ‘n Suid-Afrikaner en hierdie kasteel staan steeds as hul nalatenskap. Besoek die kasteel wat in Yellowwood Park geleë is en sien selfs hoe wilde sebras naby die kasteel wei.

Kliek hier vir akkommodasie naby aan die kasteel.

9. Die Vrouemonument

Hierdie monument in Bloemfontein is ‘n monument wat hulde bring aan die 27 000 boerevroue en -kinders se lyding in Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog. Die monument is deur Frans Soff ontwerp en die beeldhouwerk is deur Anton van Wouw uitegerig. Die monument bestaan uit ‘n obelisk, omtrent 35 m hoog, en semi-sirkel mure weerskante daarvan. Verder is daar bronsbeelde wat Emily Hobhouse se ervaring van 15 Mei 1901 uitbeeld – die ellendige toneel van twee treurende vroue en ‘n sterwende kind.

Om akkommodasie in Bloemfontein te bespreek, kliek hier.

10. Vredefort-koepel

Ongeveer 2 biljoen jaar gelede het ‘n meteoriet groter as Tafelberg, met ‘n deursnee van omtrent 10 km, die aarde getref. Gevolglik is die grootste impakkrater op aarde, die Vredefort-koepel, gevorm. Hierdie enorme meteoriet se impak het ‘n krater van omtrent 350 km deursnee gelaat daar waar die dorp Vredefort in die Vrystaat vandag is. Die binnekring van hierdie oeroue krater is vandag nog sigbaar en kan in die golwende heuwels van Parys en Vredefort gesien word.

As jy ook die Vredefort-koepel wil besoek, kliek gerus hier.

Hoeveel van hierdie plekke het jy al besoek? Is daar van hierdie interessante besienswaardighede wat jy nog wil sien?