Ek dink regtig ons land kan pryse wen vir die vreemdste, dog interessantste plekname. Ek het bietjie gaan uitvind waarom die volgende dorpies met sulke komiese of ongewone name gedoop is!

Klein Mier Nommer Een (1)

Dié plekkie is net-net meer as ʼn klein kolletjie op ʼn padkaart. Snaaks genoeg is die eerste resultate wat Google uitgooi óf verwant aan die weervoorspelling óf aan die dorp se pasmaatdiens. Die naaste stad aan dié koddige dorpie is Windhoek wat 550 km verder is! G’n wonder my langdurige soektog na ʼn kiekie van die plekkie het geen vrugte afgewerp nie. Ek neem toe maar ʼn skermskoot van Google Maps se resultate.

2

Dié dorpie tussen Upington en Springbok se bekendste kenmerk is dat hy basies die middel van nêrens verteenwoordig: ons eie klein Timboektoe. Die naam Pofadder verwys nie net na een van SA se gevaarlikste slangspesies nie, maar is ook afkomstig van ʼn Koranna-stamhoof genaamd Klaas Pofadder wat in 1875 in ʼn skermutseling met die boere dood is. Setlaars het hulself sedertdien in die omgewing gevestig weens ʼn skaars en standhoudende waterbron. Tans spog die dorpie met verskeie pragtige ou geboue en skaapboerderye.

3

Net duskant die skilderagtige dorpie Paternoster aan die Weskus is ʼn plek met die naam Tietiesbaai. Dit bestaan hoofsaaklik uit ʼn kampeerterrein, karavaanpark en ongerepte strand bespikkel met ronde en gladde rotse … Die feit dat daar verskeie verklarings vir dié pleknaam is, is geen wonder nie. Ten spyte van die liggaamlike konnotasies wat die naam oproep, is die werklike oorsprong van die naam eintlik te vinde in die naam van die Franse koloniale handelaar, Jacques Titius, wat aan die Weskus handel gedryf het.

4

Darling‘ is die ideale naam vir ʼn bekoorlike, plattelandse dorpie soos dié een. Dit is ongeveer 75 km vanaf Kaapstad in die Weskus se binneland tussen koringlande, wingerde en weivelde geleë. Dit is ook die tuiste van Tannie Evita, Suid-Afrika se gunsteling-tannie, wat by ʼn kabaret-venue en restaurant in die dorp, Evita se Perron, te vinde is. Buiten die plattelandse bekoring wat kenmerkend is aan dié dorpie en in die naam weerspieël word, is die naam ook afkomstig van Sir Charles Henry Darling wat in 1851 as Luitenant-Goewerneur na die Kaap toe gekom het.

5

Die Voortrekkers het ʼn gewoonte gehad om die Suid-Afrikaanse landskap te vernoem na hul ervarings gedurende die Groot Trek. Só het hierdie dorpie, ongeveer 200 km wes van Pretoria en 20 km oos van Lichtenburg, sy naam gekry. Lees hier verder oor dié dorpie se naam.

6

Alhoewel die dorpie ʼn tipiese Karoodorpie is, verseker sy ligging langs die N1 dat dit ook ʼn gewilde oornagplek vir vakansiegangers en moeë vragmotorbestuurders is. Die naam van die dorpie hou egter verband met die feit dat die Leeurivier en Gamkarivier hier inmekaarvloei. Die Khoisan-woord ‘gamka’ beteken ‘leeu’. Leeu-Gamka was destyds ook langs die ossewaroete en besoekers is gedurig teen die leeus in die omgewing gewaarsku. Die laaste Kaapse Leeu, ʼn uitgestorwe spesie, is ook hier doodgeskiet.

7

Dié dorpie in Mpumalanga, wat nie veel meer as ʼn ou steenkoolmynvesting is nie, se oulike naam hou direk verband met die plaas Ogiesfontein waarop dit in 1928 ontstaan het. Daar is glo verskeie klein, natuurlike fonteintjies in die omgewing wat die ‘ogies’ in die plaas se naam verteenwoordig. Ogies is 29 km suidwes van Witbank en 70 km noordoos van Springs.

8

Hekpoort in Noordwes is hoofsaaklik ʼn boerdery-omgewing en is teen die hange van die Magaliesberge geleë. Dit is net om die draai van Hartbeespoortdam af en is toeganklik vanaf die suide via ʼn pas deur Daspoortrand. Vandaar die naam Hekpoort. Die plaas is in 1845 in die Mootvallei gevestig deur Gert Kruger, president Paul Kruger se broer. Gedurende die Boereoorlog is verskeie voorposte in die omgewing gevestig en die een aan die voet van die Hekpoortpas word vandag steeds as nasionale monument bewaar.

9

Dit is geleë op die R48, 140 km suidwes van Bloemfontein. Die dorp se naam is vermoedelik afkomstig van transportryers wat gedurende hul reise oormatig baie koffie gemaak en gedrink het by ʼn fontein wat hier geleë is. Dié fontein was veral ʼn gunsteling-uitspanplek vir togryers in die 19de eeu waar hulle hul eie koffiebone fyngemaal het en met water van die natuurlike bronne in die omgewing gemeng het. Sedert die ontdekking van diamante naby dié bronne in 1870 het die dorpie vinnig uitgebrei. Ter herdenking van die togryers en hul koffie is daar tans ‘n fontein in die dorp wat ‘n skinkende koffiepot voorstel.

10

Verskeie bewerings oor die naam van dié plek is te vinde as jy bietjie op die web gaan rondsnuffel. Dit is wel bekend as een van ʼn reeks Britse seinposte wat tussen Ladysmith en Newcastle gebou is gedurende die Onafhanklikheidsoorlog van Transvaalse Afrikaners (1880-1881). Van die stories oor die oorsprong van Fort Mistake se  geheimsinnige naam sluit die volgende in:

– Die dwase Britte (sonder behoorlike padkaarte) was in 1879 op soek na Zululand en het toe die fort op die verkeerde pad gebou.
– Dit is eers Fort Carey genoem en ʼn jaloerse buurman, wat nie van die Carey’s gehou het nie, het gevoel dis ʼn fout.
– Die dwase Britte het (weer) die fort gebou waar daar geen water was nie.

Fort Mistake bestaan tans as ʼn trotse simbool van die uitbundige, veglustige dae van die vorige eeu.

11

Die naam “Kok” is sinoniem met die Griekwas en die gemeenskap wat die dorp gestig het. Dit was Adam Kok III, die eerste sendeling in die area en seun van ʼn Griekwastamhoof van Phillipolis in Transorania, wat eerste ʼn klein groepie mense van gemengde rasse oor die Oranjerivier gelei het na die nuwe grond rondom die geskiedkundige dorpies Griekwastad/Klaarwater. Kokstad is geleë in die Umzimhlava-rivierkom tussen Mount Currie en die Ngele-berge, 256 km vanaf Durban, 195 km vanaf Pietermaritzburg en 130 km vanaf Port Shepstone.

12

Badplaas se mees kenmerkende eienskap is sy gewilde warmbron wat ook bekend staan as Emanzana (“genesende hande”). Dié waterbron is reeds in die 1800’s eers deur Swazi-stamhoofde en later deur uitgeputte goudsoekers as ʼn wegbreekplek benut, en in 1893 het die regering dit as ʼn amptelike gesondheidsoord verklaar. Nou is dit onder die bestuur van die Forever Resorts-groep. Die herkoms van dié plek se naam is dus vanselfsprekend. Dis 48 km oos van Carolina op pad na Barberton.

13

Alice is ʼn 9,85 km²-dorpie aan die oewer van die Tyumerivier en is 120 km noordwes van Oos-Londen. In 1847 het Goewerneur Peregrine Maitland dié dorp vernoem na Prinses Alice, die tweede dogter van Koningin Victoria. Die dorp spog met ʼn groot distrikshospitaal, Victoria Hospitaal, en ook die Universiteit van Fort Hare, voormalige president Nelson Mandela se alma mater.

14

Dít is ʼn Vrystaatse dorpie in die Lejweleputswa-streek, 39 km vanaf Brandfort, met ʼn bevolking van 151! Hierdie naam is waarskynlik afgelei van die stroompie in die dorp wat in ʼn westelike rigting en nie in die gewone oostelike rigting vloei nie. Hier sit ons nou weer met ʼn geval waar die web byna geen resultate oplewer as jy op soek is na ʼn foto’tjie van dié plekkie nie.

15

Hotazel is 147 km noord van Postmaburg en 46 km noordwes van Kuruman geleë. Die naam is natuurlik ʼn lekke informele woordspeling, want dit was “hot as hell” op die plaas waarop die dorpie destyds ontstaan het. Snaaks genoeg is dit nié die warmste plek in die land nie. Die hoogste temperatuur wat tot dusver gemeet is, was 37 ºC  en die laagste 3 ºC ‒ dit kom nie naby die 45 ºC waaronder ander Karoodorpies dikwels gebuk gaan nie. Tog sou ons jou nog steeds aanraai om sommer met jou aankoms eers die gholfklub se swembad te gaan besoek … 

Sjoe, dis nou vir jou ʼn mondvol!