In ons geliefde land word ons oorweldig met keuses as dit by bestemmings vir ʼn prettige somervakansie kom. Jy hoor dalk gereeld dat vriende of kennisse jaarliks in dieselfde dorpie somervakansie gaan hou, maar jy’s onseker oor wat dit is wat hulle elke keer laat terugkeer. Ons het ʼn nuttige lysie van ons kliënte se gunsteling-somervakansiedorpies saamgestel, en die kollig op enkele van die minder bekende bestemmings geskyn om uit te vind waarom hulle so gewild is ‒ van die eksotiese Natalse kus tot die skilderagtige wynlande!

Natalse Suid- en Noordkus

Port Edward is ʼn klein oorddorpie aan die Hibiscus-kus wat die mees suidelike punt van die KwaZulu-Natalse Suidkus vorm. Die dorpie spog met idilliese, lieflike en veilige strande, welige woude en ʼn reeks opwindende aktiwiteite, veral gedurende die somermaande. Tussen vroeg-Desember en middel-Januarie wemel dit van vakansiegangers wat graag deel in al die opwinding wat die dorpie dié tyd van die jaar bied. Ons lig maar enkele van dié lekke doendinge uit.

Doendinge:
1. Wakeboard in ʼn warm subtropiese klimaat regdeur die jaar by Umtamvuna-rivier.
2. Gly op Suid-Afrika se langste waterglybaan.
3. Stap op die beeldskone Inhungumbane-roete in Umtamvuna-natuurreservaat.
4. Geniet ‘n diepseehengelsessie saam met Pannevis Charters, die oudste en mees ervare vissersbote aan die Suidkus.
5. Verken die Red Desert-bewaringsgebied in die wêreld se kleinste woestyn (200 m²).
6. Proe koffie by Beaver Creek Koffielandgoed ‒ ideaal vir koffiesnobs.
7. Besoek Wild Waves Waterpark vir allerhande waterkaskenades soos die Boomeranga, Aqua Loop, SuperBowl en Lazy River.
8. Vir duik-entoesiaste is daar ʼn geheime skeepswrak 300 m van die strand af wat bekend staan as St John (San Joao).

Ligging:
Jy en jou gesin kan dit ook oorweeg om vir ʼn daguitstappie een van die ander gewilde vakansiebestemmings in die omgewing te besoek:
Durban (120 km weg)
Margate (30 km weg)
Port Stepstone (44 km weg)

Soek hier vir lekke lêplekkies in Port Edward.

Tuinroete

Danabaai se spogstrande is wel nie geskik vir swemmers nie, maar ideaal vir hengelaars, flink stappers en dié van julle wat graag in die son lê en verbruin. Buiten dié aktiwiteite is daar net buite Danabaai verskeie ander besienswaardighede en doendinge met dié dat dit feitlik in Mosselbaai geleë is. Dit is voorwaar ʼn lekke rustige plek om die Tuinroete ʼn slag vanuit ʼn ander bestemming te verken.

Doendinge:
1. Besoek die geskiedkundige Poskantoorboom waar pos eens in ʼn skoen of ysterpot gelos is.
2. Verken die insiggewende Dias Mariene Museum waar jy selfs op ʼn namaaksel van Dias se skip kan rondloop.
3. Speel ʼn potjie gholf by die luukse Pinnacle Point Gholfbaan.
4. Dobbel of bederf jouself by die Garden Route Casino & Spa.
5. Baljaar in die branders, speel mini-gholf of gly op die glybane by Diaz strand.
6. Ry vierwielmotorfiets, speel paintball, klim rots, ry bergfiets en nog veel meer by Mossel Bay Adventures.

Ligging:
Die Tuinroete stel nooit teleur gedurende die somervakansie nie, en Danabaai is taamlik naby aan baie van die ander gewildste bestemmings in dié streek:
Hartenbos (15 km weg)
Knysna (111 km weg)
Wilderness (65 km weg)

Soek hier vir lekke lêplekkies in Danabaai.

Wildekus

Port St Johns, die juweel van die Wildekus, is ʼn klein, maar spoggerige dorpie by die mond van die Umzimvubu-rivier. Skilderagtige bergpieke en natuurskoon sorg dat toeriste gereeld na die dorpie terugkeer en daarmee saam bied die diverse natuurverwante doendinge ure se pret. Dis geen wonder dat dié dorpie ook bekend staan as die toerismekern van die Wildekus nie!

Doendinge:
1. Probeer diepsee- of kushengel by een van die gewildste visvangplekkies op die Transkei-kuslyn.
2. Pak eko-vriendelike en avontuurlustige staproetes soos Bulolo of Bird’s Nest aan.
3. Besoek die Wildekus-museum en leer meer oor die geskiedenis van die Pondo-stam, ʼn Xhosa-sprekende stam.
4. Kyk uit vir dolfyne, walvisse en voëls (meer as 250 spesies is al geïdentifiseer!).
5. Gaan vir ʼn wildrit/staptog of kyk voëls by Silake Wildreservaat.
6. Stap na The Gap and Blowhole, ʼn adrenalienbelaaide avontuur wat beeldskone uitsigte oor die seelewe bied.
7. Baljaar by die Insinuka Modder- en Swaelpoele, ʼn tradisionele reinigingsterrein vir die Pondo-mense.
8. Teug aan ʼn skemerkelkie op Mount Ethesinger terwyl jy die sonsondergang bewonder.

Ligging:
Dié mooi plekkie is ook nie té ver van ander gewilde bestemmings aan die Wildekus nie:
Oos-Londen (220 km weg)
Mthatha (70 km)

Soek hier vir lekke lêplekkies in Port St Johns.

Weskus

Yzerfontein, ʼn hawedorpie aan die Weskus, se 16-myl-strand maak dit reeds ʼn besondere bestemming. In dié dutjiesdorpie sal jy verbaas wees oor die lang lys lekke aktiwiteite wat die omgewing en natuurskoon jou bied. Hoewel die hawe klein is, word 60% van die lynvis wat op die Weskus gevang word, hier ingebring ‒ ʼn vissersparadys! Buiten visvang sal die ander doendinge jou ook heeldag kan besig hou.

Doendinge:
1. Gaan stap, hou piekniek en ry fiets in die Weskus Nasionale Park.
2. Kajak al langs Dasseneiland se kuslyn terwyl pikkewyne, dolfyne, walvisse, voëls en asemrowende uitsigte jou omring.
3. Herleef jou kinderdae met kleiduifskiet.
4. Ry bergfiets op een van Yzerfontein se verskeie bergfietsroetes.
5. Saal ʼn perd op en ry op die strand of op bergpaadjies rond.
6. Besoek Evita se Perron (21,49 km weg) waar jy Tannie Evita en ander geliefde ikone van ons land kan ontmoet.
7. Ry branderplank al langs die 16-myl-strand.
8. Pak ʼn paar 4×4-roetes aan en stop halfpad vir ʼn piekniek saam met jou gesin.

Ligging:
Yzerfontein is nie net naby aan ander oulike dorpies en besienswaardighede nie, maar ook aan ʼn paar ander gunsteling-somervakansiedorpies aan die Weskus:
Melkbos (60 km weg)
Langebaan (50 km weg)

Soek hier vir lekke lêplekkies in Yzerfontein.

Overberg

Pringlebaai, ʼn klein kusdorpie in die Kogelberg-biosfeerreservaat, is ʼn versteekte juweel op die mooiste pad in die land, Clarence Rylaan. Die dorpie se ongerepte en netjiese strande is ongetwyfeld deel van die sjarme wat dit uitstraal. Dit word boonop komplementeer deur die ongelooflike sonsondergange wat jaarliks die inwoners, sowel as besoekers bekoor. Kinders kan veral ook baljaar in die strandmeer se helder en warm water waar die Buffelsrivier by die see uitloop.

Doendinge:
1. Kies ʼn staproete en verken die Harold Porter Botaniese tuin in Bettiesbaai wat veral spog met pragtige fynbos.
2. Gaan kuier by die brilpikkewyne van die Stony Point Pikkewynkolonie.
3. Gryp ʼn ou boks of plank en ry sandplank teen Bettiesbaai se duine.
4. Gaan stap in die Kogelberg Natuurreservaat, óf in die berge óf al langs die strand.
5. Probeer ʼn nuwe watersport en ‘blob’ saam met SA Forest Adventures in Kleinmond (Lees hier verder oor ‘blobbing’).
6. Witwatervlotvaart (white river raft), kayak of swem in die kronkelagtige Palmietrivier tussen die berge van die Kogelberg Natuurreservaat.
7. Kyk uit vir walvisse waarna die welbekende Walvis-roete vernoem is.

Ligging:
Buiten dié doendinge kan jy vir die dag ry na een van die ander gewilde dorpies in die Overberg wat jaarliks honderde vakansiegangers lok, om byvoorbeeld walvisse te kyk:
Bettiesbaai (10 km weg)
Onrus (53 km weg)
Hermanus (60 km weg)

Soek hier vir lekke lêplekkies in Pringlebaai.

Kaap en Kaapomgewing

Simonstad, die Kaap se skilderagtige vlootdorpie, is soveel meer as ʼn stil geskiedkundige dorpie iewers tussen Kalkbaai en Kaappunt wat dien as ʼn vlootbasis en huisvesting van pikkewyne. Hy spog met 24 eiesoortige restaurante, deli’s en kafee’tjies en die oulikste snuisterywinkeltjies. Besoek Simonstad as jy lief is vir geskiedenis of sit heeldag op ʼn gastehuis se stoep en tuur oor Valsbaai soos koddige seilbootjies oor die baai seil as jy eerder lekker wil ontspan.

Doendinge:
1. Aanskou die honderde brilpikkewyne of eet ontbyt by Boulders-strand.
2. Skerp jou geskiedeniskennis op by die dorp se kenmerkende vlootmuseums.
3. Verken die hawe of Valsbaai op een van  verskeie bootritte wat die Simon’s Town Boat Company daagliks aanbied.
4. Eet ʼn roomys of ‘n stewige bord seekos by die waterfront.
5. Verken die hoofstraat se talle kafeetjies en snuisterywinkeltjies.
6. Neem ʼn foto saam met Just Nuisance, die eerste en enigste hond wat ooit as amptelike lid van die vloot geregistreer is.
7. Besoek Roman Rock-lighuis, die enigste lighuis in Suid-Afrika wat net op een enkele rots gebou is.
8. Bewonder die uitsig van die Kaapse Skiereiland vanaf die ikoniese Kaappunt.

Ligging:
Simonstad is ook lekker naby die Kaap se bekendste besienswaardighede, soos Kaappunt, Clifton se spogstrande en natuurlik ons geliefde Tafelberg. Besoek sommer die volgende gunsteling-bestemmings ook:
Die middestad (42 km weg)
Clifton (40 km weg)
Houtbaai (27 km weg)

Soek hier vir lekke lêplekkies in Simonstad.

Wynlande

Ceres, die wynlande se vrugteparadys, bied diverse aktiwiteite vir enige tipe besoeker, van kosfoendi’s tot avontuurlustiges. Proe vrugte by die verskeie vrugteplase, ry rond in die wild- en natuurreservate of ontspan net lekker by een van die sielverkwikkende akkommodasie-opsies wat ons op LekkeSlaap aanbied!

Doendinge:
1. Bewonder die bonsai-boompies by die Ceres Bonsai Centre.
2. Pluk en proe stroopsoet kersies by Klondyke Cherry Farm.
3. Benut die geleentheid en proe ‘n paar nuwe geure van Ceres se welbekende vrugtesap.
4. Daag jou vriende of gesin uit by Ceres Paintball.
5. Verken die omgewing op een van die langste ziplines (altesaam 1,4 km) in Afrika saam met Ceres Zipline Avonture.
6. Klim op jou bergfiets of trek jou stapskoene aan en pak ‘n paar van Ceres se toproetes aan.
7. Vang vis of kunsvlieghengel op een van die plase of in ‘n natuurreservaat in die omliggende omgewing.
8. Bring die dag in een van die wild- of natuurreservate deur waar jy die fauna en flora kan bewonder of piekniek kan hou.
9. Pak jou verkyker en kamera in vir ongelooflike voëlkykervarings.

Ligging:
Ceres is ook nie ver van die wynlande se ander spogbestemmings af nie. Reël ʼn daguitstappie en besoek die volgende gunsteling-dorpies:
Tulbagh (31 km weg)
Stellenbosch (97 km weg)
Rawsonville (50 km weg)

Soek hier vir lekke lêplekkies in Ceres.

Daarsy! As jou somervakansieplanne nog in die lug hang kan jy darem dié blog in gedagte hou wanneer jy begin beplan, veral as jy ʼn slag ʼn nuwe bestemming wil probeer die somervakansie. Soek gerus op die skakels hierbo rond vir sakpas-akkommodasie vir ʼn onfeilbare blaaskans in die somerson!

Bronne vir hooffoto van links na regs:
www.hibuscuscoast.files.wordpress.com
www.sa-venues.com
www.divingwithsharks.co.za
www.harcourts.co.za
www.roomsforafrica.com
www.cape-town-villas.com
www.roomsforafrica.com
www.showme.co.za