Vra vir enige Kapenaar waarheen mens moet gaan om ‘n sneeuman te bou en hy of sy sal sonder om te dink sê: “Ceres!” As die Kapenaar waarmee jy sneeupraatjies staan en maak ook lang hare en ‘n sonbril op het wat hom soos ‘n bidsprinkaan laat lyk, sal hy jou ook waarskynlik vertel van die keer toe hy, snowboard in die lug, met sy boude by Matroosberg afgegly het. Almal weet van Ceres en sy sneeu, maar heeltemal te min mense het al kennis gemaak met die betowerende dorpie tussen die wingerde net ‘n entjie verder noord-oos in die Witzenbergvallei. LekkeSlaap is genooi om kennis te maak met Tulbagh se bekroonde wyne en heerlike kos.

Saronsberg Wynplaas is bekend vir sy uitstekende wyne (die Shiraz skop gereeld stof in die oë van duurder mededingers) en luisterryke natuurskoon. LekkeSlaap het die pad gevat na Saronsberg met die weervoorspellers se beloftes van sneeu en heimlike fantasieë van fluweelsagte rooiwyn en kaggelvure. Na minder as 2 ure se ry deur die golwende neongroen platteland, en ‘n kort detour agter ‘n malkop-GPS aan, het ‘n reuse standbeeld van ‘n vrou, vooroorgebuk intens asof luisterend, langs ‘n spieëlgalddde dam ons by Saronsberg begroet.

Saronsberg Vineyard Cottages staan netjies gespasieer in ‘n landelike toneel wat reguit uit ‘n storieboek kom. Die ontsagwekkende berge wat ons in die foto’s gesien het was op daardie stadium nog onder ‘n dik laag watte wat die sneeugeheim vir eers verbloem het. Met die intrapslag besef mens dat die groot kaggel die fokuspunt van die gestroopte interieur vorm. Elke kothuis het ‘n kuier- en kombuis-area en 2 slaapkamers met en suite-badkamers. Die kombuis is goed toegerus met ‘n draagbare tweeplaatstoof/oond, yskas, mikrogolf, broodrooster, dompelkoffiepot en ‘n en ‘n tee- en filterkoffiemandjie. LekkeSlaap het die koue effens onderskat, so ons was baie bly om die dik duvets en ekstra komberse op die beddens te sien. Verwarmers in die kamers en effens warmer storte sou die behaaglike aand voor die knetterende kaggel met wyn en 30 Seconds perfek afgerond het.

Nadat ons seker gemaak het die kaggel werk en die wyne is so sag en vrugtig soos wat die resensies sê, het ons die kort entjie terug Tulbagh toe gery vir ons afspraak by Reader’s Restaurant and Curious Cat Café. Laasgenoemde is ‘n lushof vir katliefhebbers en, in die woorde van een van ons mede-bloggers, “aspirant katmalles”: LekkeSlaap het nie geweet daar bestaan soveel katsnuisterye, katboeke en kat-aanhalings nie! Ons was nog besig om hierdie sonderlinge versameling te staan en bewonder toe Carol ons nader wink om haar gourmet kookkuns te beproef. Soos ‘n wafferse kookgodin het sy ons na ‘n lang tafel gelei om ons by kerslig te trakteer op gereg na gereg wat van haar vindingryke kookvernuf getuig: diepgebraaide uie gesalf met soetrissiesous, hemelse patat- en mosselsop, sublieme steak met sjokoladesous en tuisgemaakte roomys met ongewone geure. Die span kon nie vir ‘n beter bekendstelling tot Tulbagh se kulinêre juwele gevra het nie!

Dit was bitter moeilik om onsself los te wikkel uit die warm omhelsing van die duvets om die bibberkoue buitelug te betree, maar ons afspraak met Ceres Zipline Adventures en my behoefte om vas te stel of daai Kaapse bidsprinkaan die waarheid gepraat het, het ons met geen ander keuse gelaat nie. Ons was beslis nie spyt dat ons die buitelug aangedurf het nie! Die dik watte het deur die loop van die nag gelig en ons het verstom gestaan voor die toneel wat op ons gewag het: ‘n helder plaastoneel met perde wat groot-oog smul aan die welige gras en Lord of the Rings-berge in die agtergrond!

 

Tulbagh is die ideale wegbreekdorpie vir Kapenaars wat smag na die rus en vrede van die platteland, maar nie kans sien vir die langpad nie. ‘n Besoek aan Tulbagh Hotel en Things I Love het ons ook oortuig dat Carol nie die enigste plaaslike kok is wat met die sjefshoed gebore is nie.

Die kersie-seisoen is op hande! Kliek hier om lekke te slaap in Tulbagh en gaan baljaar ‘n bietjie tussen die kersieboorde!

Hooffoto: Lauren Morling