De Aar is ʼn rare dorp wat sy bestaan te danke het aan die belangrike spoorwegaansluiting wat hier geleë is (anders as die meeste Karoodorpe wat om ʼn kerk tot stand gekom het). Daar is meer as 100 km se spoorweë in en om De Aar, maar die treinverkeer het baie afgeneem. Hoewel die dae van stoomlokomotiewe vervloë is en die lokomotiefwerwe en werkswinkels nou stil is, is dié dorp in die Sentrale Karoo steeds ʼn gerieflike oornagplek op die lang reis tussen Gauteng en die Kaap.

De Aar kry sy naam by die sterk wateraar onder die plaas wat deur die spoorwegadministrasie aangekoop is en waaraan die dorp eintlik sy bestaan te danke het. Al die water in die dorp word deur boorgate voorsien en die dorp is bekend vir die windpompe om elke hoek en draai. De Aar is ʼn plek van uiterstes: water onder die grond, droogte bo die grond. Die klimaat weerspieël ook hierdie kontras, want in De Aar is dit óf bitter warm, óf bitter koud. Besoekers wonder gewoonlik hoe mense oorleef in hierdie dorre woestyn. Eintlik wonder hulle hoe mense kan kies om hier te oorleef. Maar as hulle eers ʼn paar dae hier deurgebring het en die Karoo se grootse naghemel beleef het, wonder hulle nie sommer weer nie.

De Aar is in vele opsigte ook die Karoo se hoofslagaar. Die dorp se sentrale ligging het gemaak dat die oorspronklike plaas baie vinnig ontwikkel het tot die derde grootste dorp in die Noord-Kaap. Die uitstekende spoorwegnetwerk sorg dat ʼn groot deel van die Karoo se verspreiding hier plaasvind. Daar word ook beweer dat De Aar een van die grootste slagpale in die Suidelike Halfrond het waar ikoniese Karoo-lam en -skaapvleis verwerk word en die land in gestuur word. Buiten die vleis is die skaapplase om De Aar ook belangrike wolprodusente. Die jaarlikse Sentrale Karoo Skou, wat in 2016 op 26 en 27 Februarie plaasvind, is ʼn moet-sien vir almal wat in dié bedryf belangstel.

De Aar se ligging maak dit die ideale oornagplek op die lang reis tussen Gauteng en die Kaap. Maar as jy in dié dutjiesdorp wil oornag, kan jy gerus ʼn bietjie vroeër ry en sommer ʼn klein vakansie daarvan maak.

Die plase in en om De Aar is ʼn lafenis vir enige stadsjapie. Hier kan jy jag, perdry, sterrekyk en behoorlik jou batterye herlaai. So gepraat van batterye … Een van Suid-Afrika se eerste sonkragplase is net 6 km buite De Aar. De Aar Solar strek oor 100 hektaar en bestaan uit 167 580 sonpanele wat genoeg elektrisiteit genereer om meer as 19 000 huise van krag te voorsien. Gaan besoek dit gerus!

Op plase soos Nooitgedacht, Brandfontein en Damfontein sal rotstekeninge en -graverings sorg vir ʼn onvergeetlike kulturele ervaring. Vir nog ʼn brokkie kultuur kan jy Olive Schreiner, die bekende Suid-Afrikaanse skrywer, se huis by Grundlinghstraat 9 in De Aar gaan besoek. Haar huis is omskep in ʼn interessante museum en restaurant, so jy kan lekker kos én kennis inneem. 

Maar as jy meer van die natuur as van kultuur hou, is die Karoo-Gariep-bewarea minder as ʼn uur weg. Dis ʼn malaria-vrye bewarea waar jy buffels, witrenosters, bakoorjakkalse, en swerms van tot 300 bloukraanvoëls kan sien. Die bewarea lê aan die droë kant van die Garieprivier en dis die enigste plek in die Karoo waar jy seekoeie sal sien! In De Aar self sal jy ook die natuur kan beleef. In die somer is De Aar ʼn mekka vir duisende rooivalke. Elke aand kan jy kyk hoe die rooivalke in die lug sweef en op die groot bome by die hospitaal neerstryk.

Reg, so nou weet jy waar om kultuur en natuur in De Aar te kry. Maar wat van avontuur? De Aar is ʼn uiters gewilde plek onder valskermswewers ─ entoesiaste kom van heinde en verre om nuwe wêreldrekords honderde kilometers oor hierdie sonderlinge landskap op te stel. Meer as die helfte van die wêreld se langafstand-rekords is in De Aar opgestel. As dit iets is waarin jy sou belangstel is Potties Gastehuis net die plek vir jou ─ beide eienaars beoefen dié sport al sedert 1995 en doen baie om die sport in De Aar te bevorder.

De Aar is beslis nie so saai soos wat jy gedink het nie, nè? Onthou net, dié dorp is nie luuks en vol truuks nie. De Aar is nie ʼn plek waar jy in die mall ronddwaal nie. De Aar is ʼn plek waar jy kom afsaal en jouself vind deur te verdwaal.