Het jy dalk nog altyd gedink skubaduik is een van daai uitdagende sportsoorte wat jy nooit sal kan baasraak nie, of iets wat nét by plekke soos die Groot Barrière-rif beoefen kan word? Dink weer! Te danke aan PADI Discover Scuba en instellings soos DiveInn Cape Town kan enige iemand leer skubaduik met behulp van opgeleide duikinstrukteurs. Sodra jy mediese goedkeuring kry, kan jy met jou swembroek en jou handdoek by die duiksentrum opdaag waar al die nodige toerusting die eerste keer voorsien word. Jy word van kop tot tone uitgerus om jou duikervaring so aangenaam en gemaklik as moontlik te maak. Skubaduik is ook nie net ʼn somersport nie ─ verskeie duikers duik graag in die winter ook, veral in die Kaap.

Ek is een koue oggend genooi om by die Pisces Divers-duiksentrum in Simonstad ʼn skubakursus te volg saam met Carel van der Colff van DiveInn Cape Town waar ons sommer by Long Beach geduik het. Alhoewel dit in die middel van die winter was, het ek gou besef dit maak nie saak nie. Na ʼn leersame inleidingsvideo wat jou ʼn paar dinge oor skubaduik wysmaak, antwoord jy ʼn paar kernvrae oor skubaduiktoerusting, reëls en konsepte wat Carel dan na die tyd saam met jou kontroleer.

Pisces in Simonstad se duiksentrum van buite. Foto: Pieter Wolhüter.

Dis tóé dat ek besef wat volgende voorlê … die ysige swembadduik! Kyk, teen dié tyd het my broek al behoorlik gebewe, maar ek het myself braaf gehou en al sukkelend in ʼn duikpak ingewikkel. Toe die duikpak eers aan is en Carel dit goedkeur, sien ek die hoop toerusting wat ek blykbaar toe nou nog saam met dié gewaad moes aantrek. Ek was effens oorweldig, maar Carel en duikmeester, Stephen Bardwell, het my geduldig gehelp, en siedaar! Toe lyk ek byna soos ʼn gesoute duiker.

Só lyk die duiktoerusting. Foto: Ankia Wolf.
Skrikkerig, maar gereed vir die swembad! Foto: Carel van der Colff.

swemEk is gewoonlik skrikkerig vir koue water, maar te danke aan die duikpak kon die koue my nie keer nie! Die swembad-duik behels basies ʼn 30-45 minuut lange oefensessie waar die duikinstrukteur die belangrikste seine en truuks vir jou wys. Dit kom handig te pas as daar water in jou duikbril kom, jou reguleerder wegdryf, of as jy eenvoudig paniekerig raak. Hier oriënteer jy ook jouself met al die swaar toerusting en lang vinne wat jou aan die begin effens lomp laat voel.

Gedurende die swembadduik oefen jy om jou toerusting korrek te gebruik. Foto: Pieter Wolhüter.
Sjoe! Ek het die swembadduik oorleef! Foto: Pieter Wolhüter.
Koud, maar lekker! Ek skep gou asem voor ons strand toe beweeg vir die see-duik. Foto: Pieter Wolhüter.

seeDis skaars ʼn uur later toe Carel my met ʼn breë glimlag vra of ek gereed is vir die groot see-duik. Ons stap toe sommer af na Long Beach in Simonstad waar Carel gereeld duik. Na ʼn kort inligtingsessie word ons toe weer van voor af uitgerus en voorberei vir ons duiksessie van 7 m diep onder die 15 ºC-water.

ʼn Vinnige geselsie om die spanning te verlig voor die see-duik! Foto: Pieter Wolhüter.
Carel verduidelik stap-vir-stap hoe die see-duik gaan verloop. Foto: Pieter Wolhüter.
Carel van der Colff. Foto: Pieter Wolhüter.
Hier raak ek toe effens op my senuwees… Foto: Pieter Wolhüter.
Laaste verstellings voor ons die water aandurf. Foto: Pieter Wolhüter.
En daar gaa’t ons! Foto: Pieter Wolhüter.
Stadig maar seker stap ons die see in … Foto: Pieter Wolhüter.
ʼn Senuweeagtige glimlag en waai vir die kamera voor ons onder die water verdwyn! Foto: Pieter Wolhüter.

Stephen het my mooi in die water gehelp om die laaste goedjies reg te stel. Ons glimlag toe senuweeagtig vir ʼn laaste foto voor ek skrikkerig my kop onder die water druk … en skielik was ek in ʼn ander wêreld! Om gewoond te raak daaraan om onder die water asem te haal, jou toerusting te balanseer en nog rond te kyk na die fassinerende seelewe, is nogal ʼn uitdaging. Maar sodra jy ontspan, is dit ʼn ongelooflike ervaring! Stephen was heeltyd aan my sy om my te help as ek op my senuwees raak en Carel het ons kort-kort nader gewink om een seedier na die ander uit te wys.

… en skielik is jy in ʼn ander wêreld! Foto: Carel van der Colff.

Voor ek my oë kon uitvee was 38 minute verby en was ons terug op die strand! Terwyl ek drip-drip op die strand gestaan het en die hele ervaring laat insink, het ek sommer klaar begin droom van my volgende duiksessie saam met DiveInn Cape Town.

watNatuurlik wissel die seelewe aan ons land se diverse kus, maar van die spesies wat ons gedurende die duik in Simonstad raakgesien het, was die volgende: sandtongvis, sandslak, seester, slipperslak, streephaai, sandgarnaal, platwurm, blaasoppie, seekat, inkvis, perlemoen, klipvis en veerster (Tropiometra carinata).

Platwurm (carpet flat worm). Foto: Carel van der Colff.
Pypvis. Foto: Carel van der Colff.
Inkvis. Foto: Carel van der Colff.

toerustingDie belangrikste skubaduiktoerusting sluit die volgende in: ʼn duikpak, vinne, ʼn masker, ʼn gewigsbelt, ʼn suurstoftenk, ʼn onderwaterdrukmeter, ʼn reguleerder, ʼn alternatiewe lugbron en ʼn dryfvermoë-beheertoestel. Gelukkig voorsien DiveInn Cape Town jou van als wat jy nodig het as jy die eerste keer duik.

Vinne. Foto: Pieter Wolhüter.
Onderwaterdrukmeter. Foto: Pieter Wolhüter.
Masker. Foto: Pieter Wolhüter.
Boei. Foto: Pieter Wolhüter.
Gewigsbelt. Foto: Pieter Wolhüter.

noodseine

geheime

  • Haal diep asem. Dit klink dalk voor die hand liggend, maar glo my, dit maak ʼn reuse verskil.
  • Hou ʼn ogie op die instrukteur. As jy enigsins senuweeagtig of angstig voel, sal hy jou bystaan.
  • Kyk rond terwyl jy onder die water is. Mettertyd sal jy ophou stres oor jou toerusting en eerder die seelewe bewonder.
  • Hou jou arms stil. Moenie jou arms gebruik om vaartbelyn te bly nie, gebruik eerder jou vinne.
  • Ontspan! Dis die beste manier om al die bogenoemde reg te kry.
Dankie DiveInn Cape Town!

Weereens dankie aan Carel en Stephen van DiveInn Cape Town wat my deurgaans geduldig bygestaan het. Selfs na die duiksessie het hulle gereed gestaan met my gunsteling-jellielekkers en vrugte vir die senuwees en leë maag wat algemeen is na ʼn eerste duikervaring. Klink dit na iets wat jy graag by jou emmerskoplysie wil voeg? Kontak Carel gerus om meer uit te vind en begin sommer nóú jou duikloopbaan!

padi-logo

navrae Carel van der Colff
PADI MSDT 651921
carel@diveinn.co.za
www.diveinn.co.za
084 448 1601

Hooffoto’s: Pieter Wolhüter