Soweto township in Johannesburg, Gauteng is een van die gewildste en bekendste toeriste-aantreklikhede in Suid-Afrika. Hierdie township lyk dalk nie na veel van buite af nie, maar die sterk gemeenskapsgevoel en bekoring maak op vir die gebrek aan geld en infrastruktuur.

Die township het tot stand gekom toe die regering swart-, bruin- en Maleiersburgers hervestig het. Die hervestigings het gelei tot die Soweto Opstande op 16 Junie 1976. Die eertydse regering se onderwysbeleid, wat Afrikaans afgedwing het op swart leerlinge, het gelei tot verdere opstande. Verskeie kinders is dood en die internasionale gemeenskap was woedend. Sedertdien word 16 Junie wêreldwyd gehuldig as Internasionale Dag van die Afrika-kind. In Suid-Afrika staan dit as Jeugdag bekend.

Soweto se inklusiewe gemeenskapsgevoel is egter nie van stryk gebring deur sy ontstuimige verlede nie. Besoekers word soos familie ontvang en word genooi om meer oor Soweto se geskiedenis te leer en deel te neem aan daaglikse gemeenskapsaktiwiteite. Hier is ‘n paar van ons Soweto-gunstelinge:

Geskiedenis, Geskiedenis, Geskiedenis

Soweto is deurdrenk met geskiedenis, orals waar jy gaan word jy aan hierdie feit herinner. Hier is ‘n paar plekke waar jy meer van Soweto se geskiedenis kan leer:

  • Hector Pieterson Museum en Gedenkteken – waar die 12-jarige seun wat dood is gedurende die Soweto Opstande gedenk word.
  • Mandela Huis – een van die gewildste bestemmings wat die geskiedenis, erfenis en nalatenskap van die Mandela-familie tentoonstel.
  • Regina Mundi Kerk – staan bekend as die “kerk van die mense” en was bekend as ‘n toevlugsoord vir anti-apartheidgroepe gedurende die opstande. Koeëlgate kan vandag nog hier gesien word.
  • Kliptown Open Air Museum – hierdie museum is toegewy aan Walter Sisulu en vertel die storie van die “Freedom Charter” deur middel van foto’s, kuns, musiek, koerantuitknipsels en verhale.

Kultuur en Avontuur

  • Oppenheimer Gardens – hierdie tuin voel meer soos ‘n woud en was ‘n toevlugsoord vir studente gedurende die opstande. Vandag is dit ‘n toevlugsoord vir voëls en beeldhouwerke wat Afrika-kuns en kultuur versinnebeeld.
  • Soweto-toere – verskeie toere in lugverkoelde voertuie na die vernaamste besienswaardighede, dit sluit CitySightseeing, Themba Day Tours, en Imbizo Tours in.
  • Vilakazi Straat – een van die bekendste strate in Soweto, waar Nelson Mandela en Desmond Tutu op ‘n stadium gebly het. Vandag is hier ‘n groot verskeidenheid restaurante wat plaaslike kookkuns bedien. Soweto TV is ook hier gesetel – ‘n gemeenskapstelevisiestasie wat uitsaai vanuit ‘n klaskamer in die plaaslike laerskool.
  • Credo Mutwa Cultural Village – daar word vertel dat die voorvadergeeste hier tuisgaan. Credo Mutwa, ‘n sangoma-kunstenaar, geneesheer, digter en geestelike leier, se werke word hier uitsgestal. Daar is ‘n tuin met beeldhouwerke van Zulu-krygers, tokkelossies, hoofmanne en vreemdelinge, omring deur bome wat gebruik word in Afrika-medisyne.
  • Orlando Koeltorings – hierdie kleurvolle, historiese landmerke is nie net ornamente nie: besoekers kan hier reksprong, “rap jump”, rotsklim en hulself verlustig in die uitmuntende uitsig oor Soweto.

Kos en Vermaak

  • Choc’s Restaurant and Bar – is Soweto se byderwetse restaurant. Plaaslike geregte soos pap, mogodu en hoendervlerkies word hier bedien. Bestel ook gerus ‘n bier, cider of mengeldrankie by die kroeg.
  • Jazz Maniacs Restaurant – kontemporêre jazz-klanke weerklink deurentyd in hierdie eetplekkie by die Soweto Hotel. ‘n Groot verskeidenheid townshipkos is op die spyskaart: soetpatat cappucino-sop, pangebraaide Karoo-lamribbetjie met pap, rys pilaf of tjips.
  • Chaf Pozi – ‘n shebeen en restaurant waar sportentoesiaste lafenis soek voor en na wedstryde by die FNB Stadion. Die restaurant bedien Shisa Nyma-geregte: skaap, bees, hoender en vark wat op ‘n oop vlam gaargemaak is.
  • Mandela’s Family Restaurant – word besit deur Madiba se eertydse vrou Winnie. Kom klop hier aan vir die beste bunny chow in Soweto!

Pret-feite oor Soweto. Het jy geweet?

  • Die naam “Soweto” kom van “Southern Western Townships”
  • Die film District 9 is geskiet in Soweto
  • Soweto het sy eie koerant – The Sowetan
  • Soweto is een van die plekke waar Kwaito en Kasi Rap ontstaan het
  • Soweto het 2 sokkerspanne Kaizer Chiefs en Moroka Swallows
  • Twee wenners van die Nobel Vredesprys is hier gebore: Nelson Mandela en Desmond Tutu (wat nog steeds hier woon)

Moenie hierdie geleenthede in Soweto misloop nie:

  • Die Soweto Open is ‘n tennistoernooi wat jaarliks in Soweto aangebied word
  • Die jaarlikse Soweto Marathon is 42,2 kilometer en vleg deur Soweto se strate
  • Die Soweto Wine Festival is ‘n 3-nag fees wat elke jaar in September deur die Universiteit van Johannesburg se Soweto-kampus aangebied word

Waar om te bly

LekkeSlaap het Soweto-akkommodasie vir besoekers wat ‘n tydjie hier wil vertoef – geniet die hele ervaring deur te oornag in een van ons instansies!

Flossie’s B&B

Flossie’s B&B bied ‘n Soweto-leefstylervaring stapafstand van Maponya Winkelsentrum, 3 km van Walter Sisulu Square, en 45 km van OR Tambo Internasionale Lughawe af.

Pimville Guest House

Pimville Guest House skuur skouers met Soweto se gholfbaan en is naby Kliptown waar Walter Sisulu Square geleë is.

Dithakong Bed & Breakfast

Dithakong Bed & Breakfast is in Pimville geleë, stapafstand van Walter Sisulu Square, Pimville se gholfbaan en net 5 minute se ry van Maponya Winkelsentrum af.

Het jy al ooit Soweto besoek? Hoe het jy dit ervaar? Vertel ons in die kommentaargleuf hieronder.

Hooffoto: hom26 (Flickr)
Hierdie inskrywing is deur Lauren Morling geskryf en deur Herman Botha vertaal en aangepas.