As jy van salaris-tot-salaris leef is dit moeilik om te glo dat ’n lekker wegbreek jou beskore is. Jan Tuisbly se karretjie is altyd die gewildste opsie as die huurgeld, elektrisiteitsrekening, selfoonkontrak, kruideniersware, mediese onkostes en allerhande ditjies en datjies jou bankbalans laat kreun. Maar is dit noodwendig die moeite werd om jou vakansie tuis deur te bring?

’n Mens voel dikwels ná ’n tuisblyvakansie selfs moeër as vóór die vakansie! Dis waarskynlik omdat die week se wasgoed, die inkopielys teen die yskas en die verantwoordelikhede by die werk heeltyd by jou spook. Jy kan nie regtig ontspan nie, want jy’t jou gewone werk vir ’n ander een verruil ─ as skoonmaker, regpakker, inpakker, uitpakker, nutsman, sjef, loodgieter en elektrisiën …

As jy dié deuntjie te goed ken, is dit hoogtyd om jou volgende vakansie te beplan en ons gaan jou wys hoe om te verseker dat dit jou nie ’n fortuin kos nie!

Hier is LekkeSlaap se topwenke om jou vakansierande te rek!

Besoek jou vakansiebestemming tydens die stiller seisoeneBuiteseisoentariewe is grotendeels baie laer as hoogseisoenpryse.

Bonus: Buite seisoen is daar gewoonlik minder mense by die blyplekke en kan jy ook meer persoonlike aandag verwag!

Bespreek ’n selfsorgvakansie, want dis nét so lekker en gewoonlik meer bekostigbaar.

Bonus: Dit sal jou noop om ’n plaaslike koffiewinkel of restaurant te besoek!

Speel self sjef. Uiteet is lekker, maar restaurantkos is beslis duurder as huiskos en wie wil nou beperk word deur ’n spyskaart of beursie wanneer dit by smul kom? Beplan vooraf hoeveel keer julle die vakansie wil gaan uiteet en geniet die res van die tyd julle eie skeppings.

Bonus: Jy kan jou eie kos op enige plek eet en dit kan hope pret wees vir die gesin om saam in die kombuis te werskaf. Hoe klink ’n piekniek in die tuin, ’n braai by die swembad of ’n romantiese aansitete vir twee?

Bly op minder plekke tydens jou vakansie. Besluit eerder op een verblyfopsie vir jou vakansie in plaas daarvan om byvoorbeeld by vyf verskillende blyplekke aan te klop. Dit verminder die brandstofkostes en die fooitjies vir tasdra en parkeerplek. Baie blyplekke bied ook langtermyn-afslag as jy langer aanbly.

Bonus: Minder inpak, tas dra en uitpak!

Besoek ongewone plekkies op plattelandse dorpies. As rus op jou agenda is, is nagklubs en winkelsentrums waarskynlik nie noodsaaklik nie. Gaan verkyk jou eerder aan die sterre in die Karoo! Plattelandse bestemmings is gewoonlik ook goedkoper as bestemmings in die stad naby besienswaardighede.

Bonus: As jy van stories, goeie geselskap en hartlike gasvryheid hou, is die platteland nét vir jou!

Moenie jou hele vakansiebegroting op petrol spandeer nie. Spaar jou sente deur ’n lekker rusplekkie naby die huis te kies.

Bonus: Jou vakansie begin vroeër!

Teken in op LekkeSlaap se nuusbrief. Ons nuusbrief is elke week propvol spesiale aanbiedings waar ons tot 50%-afslag bied! Besoek LekkeSlaap en skryf sommer nóú onderaan ons tuisblad in om die nuusbrief te ontvang.

Bonus: Die nuusbrief is gratis!

Het jy enige ander spaarwenke om te deel? Lewer gerus hieronder kommentaar en praat saam!