Praat jy ook sagter as jy Pniël moet sê? Studeer jou kind op Stellenbosch of Stellenbos? Bly PE maar vir jou PE oor jy elke keer ’n sweetjie uitslaan voor jy Gqeberha moet sê?
Suid-Afrika is ’n groot, diverse plek met ’n skynbaar ontelbare versameling dorpe, nedersettings en gehuggies, sommige met name wat maar vreemd op die tong val. Tog wil ’n mens nie jou naam met ’n plank slaan as jy met vakansie die naambordjies langs die pad lees nie. LekkeSlaap het ’n rits plekname wat ons weet Afrikaanssprekendes soms windskeef uitspreek. Spreek jy hulle reg uit? Lees ’n bietjie verder om seker te maak.
Malalane
Sê: Mal-le-laan
Los maar die laaste “eh” uit, jong ─ hy’s oorbodig. Só bevestig Elsa van Niekerk, die eienaar van die plaaslike gastehuis, Die Kothuis vir ons.
Malalane (voorheen Malelane) in Mpumalanga vorm een van die poorte na die Krugerwildtuin en is ’n perfekte stoppunt tussen Pretoria en Maputo ─ daarom is dit propvol blyplekkies en winkels vir toeriste. Die dorp, wat sy brood hoofsaaklik uit toerisme en die boer van subtropiese vrugte verdien, kry sy naam van die uitdrukking “eMlalani” wat “plek van die (lala) palms” beteken en gee jou ’n goeie idee van die subtropiese landskap en die rustige slaap-onder-die-palmbome-leefstyl wat hier seëvier. Buiten die voor die hand liggende besoek aan die Krugerwildtuin, kan jy hier ’n potjie gholf by die Leopard Creek Country Estate and Golf Club speel of ’n entjie na Letubi Quad Biking toe uitry vir ’n vierwielmotorfiets-avontuur.
Nieuwoudtville
Sê: Nieut-wil
Jy’t reg gelees: kap die “woud” uit hierdie dorpsnaam, dan weet jy jy praat hom reg. Min mense buiten die streek se locals weet dit, maar as jy hier kuier en van Nieut-wil praat, pleks van Nie-woud-wil, sal jy ’n plaaslike inwoner se hart bly maak.
Dié dorpie in die Namakwaland kan deur die jaar stil wees, maar as die blomseisoen aanbreek, bars sy strate, nes die velde rondom die dorp, uit sy nate. Nieuwoudtville het ’n merkwaardige lang blomseisoen danksy sy besonderse ligging op die Bokkeveldplato waar die Kaapse Fynbos, Hantam-Karoo, Knersvlakte en Boesmanland ontmoet. Hierom is Nieuwoudtville die bolplant-hoofstad van die wêreld. Wanneer jy hier draai, gaan kyk na die pragtige sandsteengeboue (ook die indrukwekkende NG-kerk), ry na die Oorlogskloof Reservaat, Nieuwoudtville Veldblomreservaat, die Hantam Botaniese Tuin en die Nieuwoudtville Waterval, besoek plaaslike kwekerye om besonderse plante te koop, reël ’n rotskunstoer en besoek die gletservloer. Die nabygeleë kokerboomwoud hoort ook op jou lysie, maar dit is veral besonders tussen Maart en Mei wanneer kandelaarblomme (ná die regte reënval, natuurlik) uit die aardkors beur en trots tussen die kokerbome staan. Onthou, die dorp is eina-klein, so koop maar jou groot voorrade elders, en as jy wil uiteet, maar seker jy bel vooraf en bespreek.
Graafwater
Sê: Gra’water
Niemand het tyd om die “f” uit te spreek nie, ook nie die locals nie, so gooi hom maar weg.
Bevind jy jou in Graafwater voel jy miskien jy’s in die middel van nêrens, maar in werklikheid is jy op die perfekte plek, halfpad tussen Clanwilliam in die skouspelagtige Sederberg en lekker Lambertsbaai aan die Weskus waar die snoek lóóp. Dié kleindorpie se naam kom van waar jy kan dink, want hier is dit droog, die veld is sanderig en die mense moes maar “grawe vir water.” Te danke aan sy ligging kan jy laat-Julie tot September hier veldblomme sien, maar jy kan ook reg deur die jaar hierdie dorpie as ’n basis gebruik vir voëlkyk en voetslaan en daguitstappies na die strande, berge en wynkelders in die area onderneem. Die dorpshotel is al meer as ’n eeu aan die gang en bied netjiese, skoon verblyf en Weskus-gasvryheid op sy beste, en die dorpie self het ’n rits winkeltjies waar jy kan gaan rondsnuffel.
Clocolan
Sê: Klo-koe-laan
Ons het vir Laurika Rauch en haar liedjie Kyk hoe glinster die maan te danke dat enigiemand weet hoe om Clocolan te sê.
Clocolan se oorsprong het egter niks met klokke uit te waai nie. Hier het eens op ’n tyd ’n bakleiery tussen die Bakwena- en die Baphuthi Zoeloe-stam uitgebreek en die woorde “Hlohla-o-loane” of “staan op en baklei” ─ later verspreek as Clocolan ─ het toe as plekaanduier vasgehaak. Dié dorpie op die pragtige Malotiroete in die Vrystaat is net twintig kilometer van Lesotho se grens af. Terwyl jy hier is, kan jy die Deemsters Aspersie-fabriek besoek om die geskiedenis van dié plaaslike gewas te leer. Nebo, Die Hoek en die Tandjiesberg-klipskuiling bied merkwaardige San- en Boesman-rotskuns ─ daar is tot een van ’n olifant met ’n mens wat op sy slurp ry! As jy iets uniek wil koop, kan jy die Lethoteng Weavers-gemeenskapsprojek ondersteun, waar plaaslike vroue pragtige matte en kledingstukke uit angorakonynwol, sybokhaar en skaapwol weef. Geskiedenisfoendi’s sal die klip- en Anglo-Boere-fort buite die dorp interessant vind en kan by die ou monnikeklooster op die Evening Star Plaas gaan draai, en as jy lief is vir motorolie en ’n gebroem moet jy jou oë oophou vir die volgende Vintage Trekker en Enjin-skou.
Gqeberha
Sê: (Harde kliek wat eindig op ê)-beh-ga
Dat hierdie hawestad, die hoofstad van die Oos-Kaap, heelparty Suid-Afrikaners se tonge laat knoop, is geen geheim. Ons almal onthou nog toe Port Elizabeth vroeër vanjaar skynbaar oornag na Gqeberha verander het. Onthou maar net, hy begin met ’n kliek en jy kan die “rha” maar as “ga” uitspreek.
Of dit nou Port Elizabeth, PE of Gqeberha is, die Vriendelike Stad is ’n gepaste vakansiebestemming vir enige reisiger. Met sy warm oseaan en klimaat spog Gqeberha met heerlike weer regdeur die jaar en ’n hele paar Blouvlagstrande waar jy die mooi weer kan gaan geniet. Maar die voormalige PE is ook bekend as ’n stad vol kultuur en natuur: Roete 67 is ’n staproete met 67 kunswerke wat Nelson Mandela se pad tot vryheid uitbeeld, daar is die Nelson Mandela Metropolitan Kunsmseum, die Boardwalk Waterfrontkompleks en aan die natuurkant is Gqeberha die poort tot uitmuntende Groot Vyf-safari’s soos dié by Addo-olifantpark en marinesafari’s wat langs die kus af gereël kan word.
Hotazel
Sê: Hôt-az-hêl
Hierdie Kalahari-nedersetting se naam is ’n humoristiese speling op die uitdrukking “hot as hell” en dit is ook daarom dat dit baie eenders uitgespreek word, net met ’n “z” pleks van ’n “s”. Só bevestig Zanne Kruger van die nabygeleë Stokkies Draai Gastehuis in Kathu vir ons.
Dié dorpie is opgerig om as nedersetting vir die mangaanmyne te dien en hoewel dit, kenmerkend van die Noord-Kaap, bloedig warm kan raak, is Hotazel ironies genoeg nie só warm soos sekere ander dele van die Kalahari nie, veral dié dele wat meer noord in die woestyn geleë is. Kortom, moenie dat die naam jou afskrik nie! Hotazel self is maar klein, maar is “naby” dorpe soos Kuruman met sy fontein of “oog” en die Moffat Sendingstasie wat deur die bekende Londense sendeling, Robert Moffat, op die been gebring is.
Pniël
Sê: Pi-niel OF pien-jel (soos die locals dit sê)
Ons het almal al hierdie pragtige dorpie tussen Stellenbosch en Franschhoek se naam saggies gesê uit vrees dat ons dit verkeerd uitspreek. Wel, nou kan jy gerus wees, want ons het by Dwarsriviertoerimse bevestig: mense van buite praat gewoonlik van Pi-niel, maar die Pniëlers sê gewoonlik pien-jel.
Pniël is eintlik ’n Hebreeuse woord wat ‘aangesig van God’ (Pni-El) beteken en as ’n mens deur die blinkskoon, lowerryke dorpie ry, met die berge aan albei kante, kan ’n mens verstaan waarom dit só ’n naam verdien. Buiten die oulike geskenkwinkeltjies wat onlangs hier oopgemaak het en blommeverkopers langs die pad, kan reisigers ook net buite die dorp ’n piekniek, wynproe, of tuinstappie by die gewilde Boschendal-wynlandgoed geniet. Aan die anderkant lê verskeie wynlandgoedere soos Zorgvliet Wines op die skouspelagtige Helshoogte-pas, en vir ’n besonderse lekker sny koek of middagete, kan jy ook na Hillcrest Berry Farm toe opdraai, waar allerhande konfyte en produkte te koop is. Weens sy breë pad en pragtige uitsig op die Helderberg en Stellenboschberge aan weerskante, is Pniël ook ’n gewilde deurgang vir fietsryers en daar is ’n hele paar staproetes in die berge in die omgewing.
(Terwyl ons in Pniël draai, die gewilde leefstylplaas Languedoc net buite dié dorp spreek ’n mens “Lyntjie-dok” uit en het uitgebreide tuine met ou, gevestigde bome en paadjies na die Blaauwklippenrivier waarlangs gaste met ’n piekniekmandjie kan wandel. Net indien jy gewonder het.)
Nababeep
Sê: Na-BA-beep
Hier gaan dit nie soveel oor die uitspraak soos oor die klem nie. Mense is geneig om die eerste keer Nabba-BEEP te sê, maar hierdie dorpie noordwes van Springbok het die lekker harde “ba” van ’n skaap in die middel en dís waar die naam se klem lê.
Nababeep val onder die Namakwa-distrik en was tussen 1860, toe die Okiep Copper Company se bedrywighede hier begin het, tot en met 2004 ’n kopermyndorpie. Die naam, Nababeep, is ’n Khoi-khoi-woord wat “renoster se plek” beteken, selfs nou dat renosters nie hier gesien word nie. Vandag, sewentien jaar ná die myn gesluit het en talle plaaslike inwoners hul brood en botter kwyt is, kom Nababeep nog tot verhaal, maar die dorpie ervaar tóg ’n jaarlikse toeloop besoekers wanneer die rotsagtige heuwels rondom dié dorp vol pragtige spatsels veldblomme is. Moenie uitmis op ’n toer van die Nababeep Mynmuseum wanneer jy hier bly of deurry nie en daar is ook pragtige verblyf in die area.
Yzerfontein
Sê: asseblief nie Ysterfontein nie, maar Yzerfontein
Ja-ja, die meeste mense spreek hierdie dorpie se naam reg uit, maar ons kon nie die kans laat verbygaan om te keer dat ons weer ’n nie-ironiese “Ysterfontein” langs die braaivleisvuur hoor nie.
Yzerfontein is ’n silwerskoon hawedorpie sowat negentig kilometer noord van Kaapstad aan die Weskus, en alhoewel die dorp se hoofbron van inkomste toerisme, vissery en mynwese (daarmee saam yster) is, is die naam liefs Yzerfontein met ’n “z”. Hier kan jy vir sowat 26 kilometer op die Sestien Myl-strand tussen die hoofstrand en die Weskus Nasionale Park se grens stap. As jy ’n bietjie meer woema soek, besoek die uiters leersame !Khwa ttu San Cultural Centre om van die San-mense se ongelooflike erfenis en leefwyse te leer, maak ’n draai by die Dasseneiland Natuurreservaat of ry die paar kilometer na die naburige Darling toe om by Evita se Perron te gaan kuier, toffies by Darling Sweet te koop of ’n orgidee of twee by Duckitt Nurseries aan te skaf (let wel dat dit net sekere tye van die jaar vir die publiek oop is). Jy het egter nie regtig nodig om die dorp te verlaat vir vermaak nie: met sy ligging aan die Weskus sal Yzerfontein ook in die blomseisoen vir helder blomgesiggies sorg en die dorp is ryk aan restaurante, winkeltjies, koffiewinkels en ’n hawe wat veral tydens die kreef- en die snoekseisoen besig is en ’n hengelaar se droom is.
Elgin
Sê: El-ghin (nié “gin” soos die drankie nie)
Jy mag dalk effe omgekrap wees deur hierdie ene (ons was ook), maar ons verseker jou, ná ons met twee jarelange plaaslike inwoners en die toerismebestuurder gepraat het: Dit is El-ghin. Skink maar vir jou ’n gin en tonic vir die skok …
Anderkant die Hottentots-Hollandsberge tref jy die lowerryke Elginvallei aan. Hierdie landbougemeenskap wat Grabouw as dorpie insluit, is vir die produksie van sowat 60% van Suid-Afrika se appels verantwoordelik en dit is daarom nie verbasend dat Elgin ’n appelmuseum het of dat die internasionaal bekende handelsmerk, Appletiser, hier ontstaan het nie. Ry jy hier verby, sou jy definitief al by die uiters gewilde Houw Hoek Padstal of Peregrine Padstal stilgehou het, maar deesdae is Elgin met sy koel klimaat ook op reisigers se radar weens die wyne wat in die streek geproduseer word en die Elgin Railway Market, ’n kos-en-kunsvlyt-markie in ’n opgeknapte steampunk-treinstasie wat baie voete (en honger mae) lok. Moenie op ’n Cape Canopy-ziplyntoer uitmis wanneer jy hier kuier nie, en as jy lief is vir die buitelug is daar ook verskeie staproetes en fietsroetes om van te kies ─ daar is selfs spesialiteitsverblyf vir fietsryers by die Trails End-fietshotel! Na oorlewering het Elgin sy naam gekry toe Elgine Herold, ’n plaaslike dogtertjie by die Palmietrivier deur ’n slang doodgebyt is. Naderhand het die laaste “e” weggeval en lyk die naam nou meer soos die Gaeliese oorsprong van die woord “Elgin” wat “klein Ierland” beteken ─ ook ’n gepaste naam vir ’n streek met sulke groen, golwende heuwels.
Caledon
Sê: Kallie-don, nie Keh-leh-din nie
As jy lus het, kan jy in Engels nog Keh-leh-din ê, maar in Afrikaans is dit Kallie-don, glo ons.
Hierdie dorpie, sowat honderd kilometer oos van Kaapstad, skuil in ’n vrugbare vallei met mineraalryke waterbronne ─ een koud en ses warm ─ wat al jare gelede deur die Khoi-khoi ontdek en gebruik is en later op groter skaal ontgin is toe Europese setlaars hier kom vestig het. Vandag is die Caledon Spa en Kasino ’n groot trekpleister op die dorp, maar hier is ook ’n veldblomtuin by die ingang na die Vensterskloof Reservaat, ’n rits winkeltjies om te besoek en kanolalande met die pragtige Swartberg in die agtergrond wat jou na hierdie Overbergse dorpie sal lok.
Karatara
Sê: Ki-RA-ti-RA
Met ’n naam wat amper soos ’n spotwoord klink, kan ’n mense nie diegene blameer wie se tonge knoop as hulle hierdie dorpie se naam uitspreek nie, maar nou weet jy dis die “ra’s” wat die hardste uitstaan in hierdie rympie van ’n pleknaam.
As jy al op Thomas Bain se Sewepassepad tussen Knysna en George in die voorheuwels van die Outeniekwaberge gery het, sou jy miskien naamborde vir dié nedersetting aan die een kant van die pad gesien het met die Karatararivier wat daar naby verbykabbel. Karatara is in ’n streng roosterpatroon uitgelê wat vreemd lyk vir hierdie pragtige, lowerryke berggebied en die meeste van die huisies hier lyk ook eenders. Die rede hiervoor is dat die dorp tussen 1874 en 1961 deur die regering as ’n tipe welsynsdorp vir plaaslike inwoners wat geen heenkome gehad het nie, opgerig is: onder andere gouddelwers wat nie hul fortuin gemaak het nie, plantasiewerkers wie se werk nie vrug gedra het nie en houtkappers wat uit die Knysnawoud gehaal is. Alhoewel Karatara maar van die begin af uit ’n gemeenskap ontstaan het wat op sy knieë hierheen verplaas is en steeds sukkel om van sy knieë af op te staan, is die groter omgewing waarin dié nedersetting geleë is pragtig en by verre die rit werd. Die Sewepassepad sluit ook by die Homtini-pas en die Phantom-pas aan en ’n mens kan ’n behoorlike daguitstappie van die landskapsrit maak.
Stellenbosch
Sê: Stellenbos (in Afrikaans) nié Stellen-bosj nie
In Engels kan jy die “sj” met liefde uitspreek, maar in Afrikaans is dit onnodig.
Stellenbosch het nie veel van ’n bekendstelling nodig nie: Koos Kombuis het dit reeds vir ons in sy treffer “Lente in die Boland” gedoen. Hier in die Eikestad kan jy op netjiese fietspaadjies deur die dorp en al die pad tot by die Jonkershoekberge trap. Daar kan jy ’n stewige staptog na die natuurreservaat se watervalpoele onderneem en by elkeen afkoel. As jy ’n plantliefhebber is, is die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin en die Jan Marais Natuurreservaat vir jou beskore. Spys-en-drank-foendi’s sal elke dag van die week by verskeie wynlandgoedere en restaurante in en óm die dorp ’n draai kon maak. Liefhebbers van die kunste word met ’n dosyn ongelooflike galerye, teaters, musiekkonserte, boekbekendstellings, die Stellenbosch Koor se uitvoerings by die Konservatorium én die jaarlikse Woordfees bederf. As jy ’n koopgees het, sal die middedorp se aanbod unieke winkeltjies en die interessanthede by die markies rondom die dorp daardie lus kan blus ─ of ten minste probeer. In Stellenbosch hoef dit nie eens altyd lente te wees nie, want dit is áltyd lekker.
Daar het jy dit. Nou sal jy nie volgende keer wat jy op die pad is jou tong knoop nie!
Is daar ander plekname wat jy nie weet hoe om uit te spreek nie? Miskien ken jy ’n paar ander plekname wat Suid-Afrikaners soms verkeerd uitspreek. Laat weet ons in die kommentaarboksie hieronder.
Hooffoto: Nababeep op Bigstock