Kyk, ons het beslis nie ʼn tekort aan unieke eet- en drinkplekke in die Kaap nie. Maar só ʼn groot verskeidenheid kos- en drankproe-ervarings op een perseel is skaars, selfs vir die Kaap! Spice Route self is die Paarl se kos- en drank-mekka. Dit is nie net ʼn wonderlike gesinsuitstappie nie, daar is letterlik iets wat in elke smulpaap se smaak sal val. Of jy nou ʼn soettand of ʼn voorliefde vir craft-bier het, jy sal liries raak by dié plek. Sluit by my aan vir ʼn stap-vir-stap-toer deur die hele Spice Route!

10

Kosliefhebber Brenda de Jager het haar liefde en passie vir kos in 2007 omskep in ʼn uiters suksesvolle besigheid toe sy met konfyt begin eksperimenteer het – deesdae spog sy met ʼn verskeidenheid konfiture en unieke speserye wat jou smaakknoppies behoorlik sal prikkel!

Die beste deel van ʼn kuiertjie by Brenda’s is dat jy self jou eie speserye kan meng. Jy kies ʼn paar van jou gunsteling-speserye, voeg dit bymekaar soos jy goed dink, en sit dit dan in jou persoonlike speserymaler met jou naam op om huis toe te vat.

Untitled design

2 (2)The Barn Artist’s Studio & Gallery het in Desember 2013 oopgemaak en dien as ʼn werk- en uitstallingsruimte vir die plaaslike kunstenaars Diane Back and Jake Watson. Diane se portrette en landskappe is beeldskoon en Jake se seetonele sal jou absoluut meevoer. Loer gerus in om hulle kunswerke te aanskou, of kyk hoe die nuutste meesterstukke vorder. Die kunswerke is ook te koop op die perseel!

Untitled design

5

DV Artisan Chocolate word deur die De Villiers-familie bestuur en is een van ʼn handjie vol sogenaamde ‘Bean to Bar’-sjokolademakers in die land. Hulle sjokolade word in kleinmaat met die hand vervaardig op Spice Route se perseel.

Die sjokolade bevat slegs die oorspronklike kakao-geure en geen bykomende kleursel of geursel, plantvet, soja of vanielje (al die bestanddele van “gewone” sjokolade) word bygevoeg nie. Maar moenie dat dit jou afskrik nie! Bone van verskillende streke het verskillende geure en DV Artisan Chocolate maak die sjokolade op ʼn manier wat die unieke geure van elke streek pragtig na vore bring.

Ons beveel beslis die Single Origin Chocolate Experience teen R25 per persoon aan: Kom vind uit waar sjokolade nou eintlik vandaan kom, proe ʼn geroosterde kakao-boon, voel die tekstuur van egte kakao-botter en laat een van DV se kenners jou help om te onderskei tussen al die geure.

Langs die proelokaal is daar ʼn spesiale winkeltjie wat nét DV-sjokolade in allerhande vorms, geure en groottes verkoop! As jy ʼn sjokoholis is, sou ek jou beslis aanraai om maar ʼn geldjie oor te hou om jou proviand vir die langpad hier aan te vul …

Kliek hier vir ʼn virtuele toer deur DV Artisan Chocolate!

Untitled design

4 (2)

Cape Brewing Company (CBC) spog met amper 10 verskillende craft-biere. Net die beste bestanddele en net die beste toerusting is goed genoeg vir Wolfgang Koedel, die gesoute broumeester.

Besoekers kan 7 van dié verfrissende biere proe en aansluit by ʼn toer deur die brouery. Kom kyk gerus hoe die proses werk en proe daarna die heerlike resultate!

Berei jouself voor om ʼn rukkie by die proetoonbank te staan en kuier en moenie die eerste paar biere te vinnig afsluk nie – onthou, daar’s nog ʼn hele paar wat kom!

Wolfgang het ons bederf met ʼn persoonlike toer en ons selfs die “Red Weiss”, ʼn nuwe bier met karamel-, bitter sjokolade- en vanieljegeure, laat proe. Al het ons teen dié tyd al 7 ander biere geproe, was dié een beslis spesiaal! Vra bietjie uit oor dié bier as jy ʼn draai by CBC gaan maak.

Nou ja, ek dink die feit dat daar laasjaar meer as 45 000 besoekers by die brouery was, behoort jou ook te oortuig dat ʼn kuiertjie hier die moeite werd is! Kyk uit vir Oktoberfest 2015 wat op die 19de, 20ste, 26ste en 27ste September en 3de en 4de Oktober hier gehou word.

Kliek hier vir ʼn virtuele toer deur CBC!

Untitled design

1 (2)

Die volgende stopplek op die Spice Route-avontuur is Barley & Biltong ‒ ʼn biertuin met ʼn Suid-Afrikaanse kinkel. Wat is dan nou lekkerder as jou gunsteling-bier, ʼn keuse tussen bees-, koedoe-, eland- en springbokbiltong en ʼn uitsig oor die wynlande en Tafelberg in die verte? Na jou biltong-voorgereg smaak die gourmet-burgers en die gewilde aartappelskyfies selfs nóg lekkerder!

Ná ons jolige bierproesessie was nie een van ons vreeslik honger nie, maar toe dié oorbelaaide houtborde en blikbakke voor ons verskyn, was die bekommernisse oor bierpensies onmiddellik iets van die verlede. Jy kan eenvoudig nie anders as om na hartelus te smul nie!

Kliek hier vir ʼn virtuele toer deur Barley & Biltong!

Untitled design

8

Maar selfs na ʼn biltong-en-burger-feesmaal by Barley & Biltong is daar nie tyd vir magie vol, ogies toe nie. Veral as jy nog nie ʼn koue vleis-en-wynparing beleef het nie. Richard Bosman se koue vleise word gesout en gedroog soos wat die Italianers en Spanjaarde dit al donkiejare doen en word daarna vir 2 – 12 maande gehang en behandel.

Dié vleise is met behulp van fynproewerskennis saam met Spice Route-wyne gepaar om ʼn unieke ervaring aan kos- en wynliefhebbers te bied.

Die Charcuterie Journey kos R75 per persoon en dit sluit die kenmerkende Chakalaka-versnitwyn en Malabar in, ʼn vlagskipwyn wat 4 jaar lank verouder word voor jy dit hier by Spice Route proe!

Op ʼn koue dag kan jy heerlik in die gesellige, ondergrondse proelokaal of voor die kaggel sit, en op ʼn somersdag kan jy buite onder die sambrele of op die stoep sit en kuier.

Kliek hier vir ʼn virtuele toer deur die wynproelokaal.

Untitled design

9

As jy, net soos ek, lief is vir mooigoed en snuisterywinkeltjies, is dit nou ʼn goeie tyd om jou medereisigers te waarsku dat jy moontlik ʼn hele rukkie by die volgende bestemming gaan vertoef. Net soos die meeste van die ander Spice Route-produkte spog The Trading Company met unieke artikels wat deur plaaslike kunstenaars met die hand gemaak is.

Abigail Bisogno het ʼn passie vir mooigoed en handwerk wat sy graag met haar klante deel. Sy het ons met trots vertel hoe sy plaaslike kunstenaars help om hul produkte hier te bemark en verkoop.

Hier kan jy jou verlustig in ʼn eklektiese versameling van huisgoed, eksotiese meubels, juwele, bykomstighede en skryfbehoeftes wat meestal van natuurlike en roumateriale gemaak is. Kom ondersteun plaaslike kunstenaars, koop ʼn geskenkie vir ʼn vriendin, of bederf jouself met ʼn nuwe vertoonstuk vir jou sit- of slaapkamer!

Untitled design

7

As jy eers weer moeg geëet is, is ʼn besoek aan Red Hot Glass se ateljee en werkswinkel nóg ʼn interessante en leersame manier om jou tyd by Spice Route te bestee. Dis een van net ʼn paar Venesiese glasblaas-ateljees in Suid-Afrika. Hier word eiesoortige glasprodukte gemaak, van parfuumbottels tot beeldjies en kershouers, wat in hotelle en galerye reg oor die wêreld uitgestal word.

Die ateljee en winkel is oopplan met die werkswinkel waar die glasblaser demonstreer hoe hy binne minute die roumateriale in meesterstukke omskep! Jou mond sal oophang terwyl jy kyk hoe die gesmelte glas skielik in ʼn elegante dekorstuk verander.

Kliek hier vir ʼn virtuele toer deur die ateljee!

Untitled design

6

Nog ʼn lekker uitstappie by Spice Route is middag- of aandete by La Grapperia waar jy pizza, flammkuchen en tapas saam met ʼn glasie wyn (of grappa) kan geniet. Hier kan jy heel middag of aand rustig sit en kuier, onder die eikebome, of voor die kaggel. Ek sou beslis ook ʼn flat white aanbeveel as jy koffie wil bestel. Dit was heerlik en tog te oulik voorgesit.

Die restaurant is reg langs die grappa-distilleerdery geleë waar Helmut Wilderer en sy span die nuutste Duitse toerusting gebruik om nét die beste grappa en eau de vie te produseer.

Wilderer is ʼn legende in die bedryf en het Suid-Afrika se eerste privaat distilleerdery in 1994 gestig. Kom kyk hoe lyk ʼn oorspronklike distilleringsmasjien en waag dit om jou mond te sit aan dié drankie met skop!

Kliek hier vir ʼn virtuele toer deur La Grapperia!

Untitled design

3 (2)

Kyk, ek gaan nou eerlik wees en sê ʼn besoek aan Bertus Basson Restaurant is dalk iets wat nie so lekker by ʼn enkele daguitstappie na Spice Route gaan inpas nie. Bloot omdat jy nie kan toelaat dat enige ander kos en drank jou aptyt demp voor ʼn maaltyd by dié restaurant nie. Beplan maar jou dag so dat jou maag gereed is vir die feesmaal wat híér op jou wag!

Dis nou wel ʼn fynproewersrestaurant, maar van klein porsies en pretensieuse disse is daar geen sprake nie! Wat Bertus Basson uniek maak is die heilsame, tradisionele Suid-Afrikaanse disse wat met ʼn moderne kinkel voorgesit word. Waar anders sal jy familieresepte soos ‘Ouma Jossie se gebakte tong met slaphakskeentjies’ en ‘Tannie Hetta se appeltert’ kan beproef?

Die sjef het ons aan byna als op die spyskaart laat proe en dit is regtig moeilik om net een gunsteling-dis uit te sonder. Kyk maar na ons foto’s hieronder en lees die beskrywings om uit te vind watter gereg jou mond die meeste laat water!

Vir voorgereg kan jy kies tussen geroosterde mosbolletjie met hoenderlewer-parfait, ʼn ‘boereslaai’ met biltong, ansjovis, grissini en parmesaan en ʼn gerookte vispasteitjie met Maleise mayonnaise, radyse, gepekelde komkommer en ciabatta. Ek moet sê, die mosbolletjie was vir my veral ʼn wenner.

Elke hoofgereg was heerlik, perfek gaargemaak en voorberei met die ideale balans van speserye en geure. Die gebraaide vark word met CBC-bier gesmoor en voorgesit met soetwortels, die gesoteerde gnocchi met blomkool word gegeur met amandels, parmesaan en kappertjiesaad en die lamsbobotie is besonder heilsaam. My gunsteling-gereg was die gebraaide vark en die lekkerste bygereg wat ek nóg geproe het, was die aartappelskyfies met braaisout en parmesaan!

Moenie vergeet om ʼn plekkie te hou vir nagereg nie, want op dié spyskaart is daar ook ʼn hele paar opsies. As jy nie ʼn vreeslike soettand het nie, is Fairview se bokkaas-crottin met waatlemoenkonfyt, okkerneute en dadelpuree nogal ʼn lekker opsie. As jy lief is vir tert, sou ek enige van die ander nageregte aanbeveel: Tannie Hetta se appeltert, suurlemoentert met meringue, ʼn vanielje-krummellaag en versuikerde suurlemoenskil, of pampoentert met neute, kaneel en donkersjokoladeroomys.

Sjoe, ek weet nie van jou nie, maar ek is beslis nou van voor af honger. Bespreek sommer nou jou familie-ete of verjaarsdag-middagete by Bertus Basson ‒ jy sal nie spyt wees nie!

Untitled design

ʼn Besoek aan Spice Route is omtrént ʼn belewenis en ʼn sensoriese ervaring wat jy nêrens anders op een plaas kan ervaar nie. Jy kan wraggieswaar jou hele vakansie in die Paarl om dié plek beplan. Dankie aan Hatch Communication wat ons uitgenooi het om Spice Route in sy volle glorie te ontdek!

My verblyf-voorstel vir ʼn wegbreek in die Paarl, veral as jy Spice Route wil besoek, is die pragtige Diamant Estate wat skaars ʼn kilometer van die plaas af en ook op die Suider-Paarl-pad geleë is. Kliek hier om meer te lees.

Baie dankie aan Pieter Wolhüter en Expressions Photography vir die foto’s.