Die winter is nou uiteindelik verby, so dit is tyd om jou piekniekmandjie en -kombers uit die kas te haal en bietjie af te stof. Ons Suid-Afrikaners is so geseën met die pragtige natuurskoon wat ons land vol lê ─ so dit is nou die tyd om bietjie uit die huis uit te kom. Ek het ondersoek ingestel en op net ’n paar van die wonderlike piekniekplekke in ons mooie land afgekom.

Gauteng

Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuine

Die pragtige tuine in Roodepoort is in 1982 eers as ’n botaniese tuin gestig, maar is al van die 1800’s ’n gunsteling-uitspanplek onder Suid-Afrikaners weens die wonderlike natuurskoon. Die botaniese tuin is rolstoelvriendelik en spog met meer as 600 natuurlike plantspesies en 220 voëlspesies. Hier is ook ’n arend-paartjie wat op die kranse langs die waterval nesskop. Toegang is net R35 vir volwassenes en R12 vir kinders (0 – 6-jariges kan gratis toegang kry). Die tuin is van 08:00 tot 17:00 oop. Kliek hier om meer uit te vind.

Budmarsch Lodge

Dié piekniekplek in Magaliesburg wemel van die voëllewe – van die reuse visarende tot klein visvangers. Die sjef sal vir jou ’n heerlike piekniekmandjie pak teen net R300 vir twee mense (jy kan ongelukkig nie jou eie mandjie bring nie). Kom geniet die uitsonderlike natuurskoon en jy kan selfs ’n staproete deur die natuur geniet om die kalorieë af te werk. Budmarsch Lodge is op LekkeSlaap se boeke; bespreek nou ’n lêplekkie waar jy sommer piekniek ook kan hou.

KwaZulu-Natal

Japanese Tuine

Die tradisionele, Japanese-styl tuin met weelderige plantegroei en ’n verskeidenheid dammetjies en oorkoepelende brûe is 7 dae van die week oop. Die dammetjies lok ’n groot verskeidenheid watervoëls. Daar is ook ’n speelpark, waar die kinders lekker kan baljaar terwyl jy hier in Durban Noord op jou piekniekkombersie ontspan.

Mitchell Park en dieretuin

 

Pak jou eie piekniekmandjie en hou piekniek saam met Admiral, die oudste inwoner in dié dieretuin in Morningside, Durban. Admiral is ’n reuse Aldabra-skilpad wat in 1915, gedurende die eerste Wêreldoorlog, by die dieretuin kom woon het saam met twee ander outjies wat dit ongelukkig nie tot vandag gemaak het nie. Toe was hy maar net 6 jaar oud. Ou skillie is vandag 105 jaar oud, ’n erelid van die Durban se vlootbasis en baie gewild onder die besoekers. Jy kan hier kom piekniek hou tussen 08:00 en 16:00 elke dag. Volwassenes betaal slegs R10, R7 vir kinders en net R4 vir pensionarisse. Daar is speelplek vir jou kinders om hulle energie uit te woed terwyl jy rustig die besienswaardighede bewonder.

Mpumalanga

Laeveld Botaniese Tuine

Die tuine is in Nelspruit en dra by tot die bewaring van verskeie bedreigde plantspesies. Vyebome en Kremetartbome toring hoog bo die hele tuin uit. Die Krokodilrivier en Nelsrivier sny deur die tuin en daar waar hulle bymekaar kom, is ’n sprokiesagtige waterval. Toegang vir volwassenes is R25 en vir kinders R12 (0-6 kry gratis toegang).

Wes-Kaap

Kirstenbosch Botaniese Tuine

Hierdie reuse tuin is in Nuweland aan die oostelike hange van Tafelberg geleë. Fynbos en verskeie ander inheemse plante staan die tuin vol. Daar is baie grasperke waar jy jou piekniekkombers kan oopgooi. Kies ’n koelteplekkie naby aan ’n stroompie of sit op ’n oop stukkie gras en laat die berg in die agtergrond jou betower. Daar is baie staproetes in Kirstenbosch – te veel om op een besoek te voltooi. Die nuutste toevoeging is die “Boomslang”, ’n brug wat jou bo oor die boomtoppe vat sodat jy ’n luisterryke uitsig oor die tuine en die Moederstad in die verte kan geniet. Lees ook hier van ’n paar interessante feite oor die “Boomslang”. Toegang beloop R55 vir volwassenes, R30 vir studente (met kaarte), R15 vir kinders tussen  6 -17 jaar oud en kinders onder die ouderdom van 6 kan gratis inkom.

Tokai woud

Die ou grotes troon bo-oor die piekniekplekkies waar jy ook kan braai in aangewese braai-areas. Dit is asof die wêreld daar buite stil staan as jy so tussen dié groot dennebome kuier. Buiten vir ’n heerlike piekniek kan jy deur verskeie roetes kom wandel of fietsry. Bring jou piekniekmandjie en ontsnap uit die wêreld se gedruis. Die uitstappie sal jou net R10 vir volwassenes, R5 vir kinders en R35 per kar uit die sak jaag.

Noordwes

Mafikeng Wildreservaat

Kom ervaar ’n ware Afrika-piekniek in die wildreservaat, waar jy kameelperde, bokkies, vlakvarke, volstruise en wit renosters kan kom soek. Daar is ook baie voëlspesies om te aanskou omdat die piekniekplek in ’n wildreservaat van 4600 ha langs die Cookes-meer geleë is. Toegang tot die reservaat: R35 per volwassene, R20 per kind en pensionaris en R26 per motor.

Vrystaat

Vrystaat Botaniese Tuin

Die koppie is hierdie omgewing het ’n rooi skynsel te danke aan die alwyne wat die wêreld vol staan. Die tuin beslaan 70 ha veld, waarvan 5 ha spesifiek uitgesit is om die inheemse flora van die Vrystaat hier naby Bloemfontein te bewaar. Daar is braai-areas en lekker plekkies om aan die lekkernye in jou piekniekmandjie te smul. R20 per volwassene en R14 per kind/pensionaris sal verseker dat jy jou piekniek kan geniet.

Oos-Kaap

Nahoon strand

Dié pragtige, afgesonderde strand vorm deel van die Buffelstad-kus en is perfek vir diegene wat in die golwe wil baljaar en in die son se strale wil bak. Gooi jou piekniekkombers onder jou sambreel oop en kyk hoe die mense branderplankry en visvang. Jy kan selfs ’n wandelpaadjie of twee verken. Die strand het boonop geen toegangsfooie nie. Dit klink vir my soos somer!

Noord-Kaap

Skilpad-veldblomreservaat

Wie het al daai blomme geplant, al die blomme in Namaqualand? Herontdek die blommekind in jou binneste terwyl jy piekniek hou tussen die veldblomme. Die reservaat is in Garies en is oop tydens die blommeseisoen (vroeg Augustus tot einde September) tussen 08:00 en 17:00. Volwassenes betaal  R32 en kinders R16.

Limpopo

Debegeni Watervalle

’n Lieflike plek vir piekniek hou – in die hartjie van ’n inheemse woud langs ’n sprokiesagtige waterval in Magoebaskloof. Daar is skitterende rotspoele waarin jy kan afkoel as die somerson te warm begin bak. Die piekniekplek het ook ’n kort staproete. Toegang is net R10 per persoon.

So, as jy bietjie uit die huis uit wil kom en terugkeer na die natuur, gaan hou ’n prettige pieniek by een van die duisende piekniekplekkies in onse Suid-Afrika.

Laat weet ons watter piekniekplekke jy en jou gesin graag besoek.