In die jare toet was elke Suid-Afrikaner ’n pendelaar en treine was so volop soos steenkool in ’n stoomtrein. Carike Keuzenkamp, Sonja Herholdt, Gert Vlok Nel en kie het goue treffers oor treine gesing. Deesdae sing Richard van der Westhuizen: “Ek wonder wat van jou geword het, jy wat nog so by my spook,” en wanneer hy “Tussen treine, tussen stasies, lê daar basies net die leë spore” sing, sien ek die verlate treinstasie voor my geestesoog. Ek weet nie van jou nie, maar soms kry nostalgie die oorhand as dié deuntjie in my ore weerklink en wil ek net vir ’n dag in die verlede leef. Gelukkig, met LekkeSlaap se hulp en ’n bietjie verbeelding, is dit heeltemal moontlik. 

Suid-Afrika se eerste spoorweg is tussen Durban en Harbour Point gebou en is maar ’n skrale 3,2 km lank. Teen dié tyd was bouwerk tussen Kaapstad en Wellington reeds aan die gang, maar ’n vertraging in die bouwerk tussen Kaapstad en Eersterivier het verhoed dat dit die eerste operasionele spoorweg in Suid-Afrika word. Kort na dié spoorlyn amptelik oopgestel is, het spoorweë regoor die land begin vertak en treine was vir baie jare die hoofvervoermiddel. Deesdae word treine steeds daagliks gebruik as pendeldiens stad toe en terug, maar baie spore op die platteland het al in onbruik verval.

Pak jou koffer en reis saam met LekkeSlaap …

By die Outeniekwa-vervoermuseum kan jy jou vergaap aan die outentieke lokomotiewe, die eetgerei wat hulle in toeka se dae op die treine gebruik het en die verouderde koerantuitknipsels wat soos skimme teen die mure dwaal. 

Toeriste kon tot relatief onlangs nog met die Outeniekwa Tjoe-Tjoe tussen George en Knysna ry. Hierdie plesier-rit was 52 km lank en het asemrowende uitsigte gebied. Dié unieke spoorweg moes ongelukkig in 2006 permanent toemaak weens onherstelbare reënskade.

Stappers geniet dit deesdae om al met die treinspoor langs te stap. Begin by die Knysna-strandmeer, stap bo-oor die Kaaimansrivier en slaan kamp op by Victoriabaai. Op dié roete kan jy die asemrowende uitsigte oor die see geniet en kyk hoe die Kaaimansrivier in die see uitmond. 

Is jy op soek na blyplek wanneer jy die Outeniekwa-vervoermuseum besoek? Vul jou ervaring aan en gaan slaap op die Santos Express in Mosselbaai. Dié eiesoortige en eksentrieke verblyf bied slaapplek in kompartemente wat oor die see uitkyk.

Is jy dalk bietjie platsak? Of is jy ’n besige sakepersoon wat net ’n kort tydjie op ’n Sondagmiddag kan afknyp? Die Kalkbaai Express is die ideale plek om stoom af te blaas na ’n lang week. Dis ideaal vir koffie, delikatesse en gebak.

Wie sou ’n wyle terug kon raai dat Millie sommer haar stoomkoperketel óp die trein kan gebruik om haar gaste te bedien? Treine hoef nie tot Nasionale Erfenis verklaar te word nie, Suid-Afrikaners bewaar dit sommer self deur ’n leë dop te omskep in ’n outentieke restaurant of blyplek.  As jy weer op jou voorstoep sit en huis toe verlang en dink aan Gert Vlok Nel se, “treine wat shant, treine wat bly, treine wat altyd hier in kringe ry,” gryp jou koffer, koop ’n kaartjie en soek ’n lêplekkie wat jy net by LekkeSlaap sal kry!

Hooffoto: Samestelling van foto's deur Hein Gericke, 
met uitsondering van die Spoorwegteken in die regterkantste hoek deur Oxyman (Wikimedia Commons).