Die jaar is oor die hond se stert, en dit het uiteindelik tyd geword om ‘n Desember-wegbreek te beplan. Ongelukkig is dit ook ‘n stresvolle tyd van die jaar, want by die werk is dit bedrywig, met die geldsake gaan dit beroerd en dit voel meteens, seker omdat jy moeg is, of jy vir alles en almal om jou moet dink. Om in so ‘n staat nog te beplan wie jou goudvissies gaan voer, wie saam met die honde gaan stap, of wie met die papegaai kan praat, is genoeg om jou teen die mure uit te dryf.

Ons ken die gevoel alte goed, en daarom wil ons ‘n bietjie van jou stres verlig. Hierdie jaar kan jy lekke vinnig en lekke maklik troeteldiervriendelike verblyf op LekkeSlaap soek deur die filter aan die linkerkant van die webbladsy te kliek. ‘n Hele vakansie vir ‘n hele gesin kan met ‘n paar klieke bespreek word. Hierdie vakansie hoef nie jy of Woef ‘n hondelewe te lei nie.

Hondeklipbaai

Die LekkeSlaap-span fokus vandeesweek op twee troeteldiervriendelike wegbreekplekke in Hondeklipbaai, ‘n pragtige klein kusdorpie in die Noord-Kaap. Dis ‘n lekke dorp met lekke weer. Hondeklipbaai is langs die koue Atlantiese oseaan, maar ook langs die warm Namakwaland. Wanneer dit regtig warm raak, is die koue seebriesie ‘n natuurlike lugversorger. Pak maar jou swembroek in, want dis ‘n gematigde tot warm dorp, maar moenie vergeet van jou baadjie nie, want die dag se somer koel af tot ‘n koue winteraand.

In hierdie onpretensieuse plattelandse paradys hoef jy nie stil te sit en die ure om te slaap nie. Gaan stap tot by die Hondeklipbaai-lighuis, verken 14 km van die ongerepte Weskus-kuslyn, duik kreef (as jy ‘n permit het), koop pragtige kunswerke van plaaslike kunstenaars, tuur na die sonsondergang by Spatklip, of geniet die luilekker dae saam met jou gesin, vriende of vierpotiges by die baai of langs die braai.

Honnehok Chalets

chalets

Ons is versot op die Honnehok Chalets wat al deur verskeie tydskrifte en televisieprogramme benoem is as die vriendelikste vakansiebestemming aan die Namakwalandse Weskus. Daar is agt bekostigbare en skoon eenhede wat altesaam 37 gaste kan huisves. Elke eenheid is geskik vir twee tot ses gaste. Elke chalet het sy eie braai-area, en daar is een swembad (die enigste swembad in die omgewing) vir almal wat wil afkoel sonder om die koue see te trotseer.

Honne-Hemel

Honne-Hemel

Vir onpretensieuse verblyf weg van die stad se lawaai, is Honne-Hemel ideaal. Hierdie huis het drie slaapkamers vir ses volwassenes, ‘n badkamer en ‘n kombuis wat goed toegerus is om vinnige vakansiemaaltye op te dis. Daar is ook ‘n beskutte braai-area buite met ‘n skulpievloer vir kuieraande en bekoorlike Instagram-foto’s. 

 

Hooffoto:  mikebaird (flickr)