Moenie van jou gesonde leefstylgewoontes vergeet as jy die langpad aanpak nie. Ongesonde voedselkeuses sal jou uitgeput, moeg en opgeblaas laat voel nog voordat jy die ontbyttafel bygekom het. Hier is vier gesondheidswenke vir die langpad wat jou jeans losser sal laat sit sonder dat dit jou sak ruk:

1. Stop by die plekke met gesonde peuselhappies

As jy nét by kitskosrestaurante stop, gaan jy nét kitskos aangebied word. Stop eerder by ‘n padstalletjie wat gewoonlik vrugte, droëvrugte, neute en biltong aanbied. Vrugte is ‘n uitstekende vitamienbom en het ‘n hoë waterinhoud, ideaal voor ‘n pretbelaaide vakansie waar jy gesond en gehidreerd wil voel. Droëvrugte is ook lekker vitamienryk, maar het meer kilojoules, ‘n laer waterinhoud en baie vesel wat jou gereeld hou. Dis daarom wys om nie te veel op een slag te eet nie. Alhoewel neute se hoë proteïninhoud jou meer versadig sal laat voel, is dit wys om ook net ‘n handjievol daarvan per dag te geniet. Neute is hoog in kilojoules. Biltong is ‘n uitstekende peuselhappie wat nes neute ook hoog in proteïene is, maar baie minder kilojoules bevat. Onthou net om ‘n waterbottel byderhand te hou, want biltong is hoog in sout (wat jou bietjie droog kan laat voel).

Langpad Stretching. By AlecSchueler (flickr)

2. Stop gereeld en strek ‘n bietjie

As jou lyf op knoppe begin trek, moes jy alreeds gestrek het. Stop elke uur by ‘n veilige area, klim uit en doen ‘n paar strekoefeninge. Dit hoef nie ‘n gedoente te word of soos joga te lyk nie. Rek jou arms bo, voor en dan agter jou lyf uit. Haal ‘n paar keer diep asem sodat jy die vars lug (en die positiewe energie wat daarmee saamgaan) joune kan maak. Na twee minute behoort jy weer gereed te voel vir die volgende uur.

Langpad Popcorn. By cyclonebill (flickr)

3. Pak lekke padkos in

Maak mikrogolf-springmielies en gooi ‘n sakkie versoeter of bietjie sout daaroor. Verpak dit in klein sakkies sodat elke vakansieganger sy eie pakkie kan kry. Springmielies is hoog in vesel en het ‘n lae GI (wat beteken dat jy vir lank daarna nog versadig sal voel). ‘n Klein pakkie springmielies bevat minder as 540 kilojoules (of 200 kalorieë). As jy nie van springmielies hou nie, is sakkies met wortel- en komkommerstokkies, ryskoekie-toebroodjies met grondboontjiebotter of vars vrugte ook wenners!

Langpad Water. By Steven Depolo (flickr)

4. Drink baie water

Hierdie wenk geld nie net vir die vakansie nie. Water is goed vir elke deel van jou liggaam. Dit reinig jou liggaam deur gifstowwe af te spoel. Dit help ook met reissiekte, simptome van oormatige blootstelling aan die son en knaende kitkos-hunkerings. Water is ‘n wonderdoepa waarvan jy daagliks ten minste ses glase moet drink.

Komaan, pak hierdie vakansie van die begin af gesond aan!

 
 
 
Hooffoto: EverJean (flickr)
Foto 1: AlecSchueler (flickr)
Foto 2: cyclonebill (flickr)
Foto 3: Steven Depolo (flickr)