Die Groot Karoo is ’n omgewing van uiterstes ─ ’n dorre landskap deurvleg met fonteine, snikhete somers en snerpende winters, angswekkende afsondering en hartlike gasvryheid. En glo dit of nie, volgens die argeoloë was hierdie halfwoestyn miljoene jare gelede diep onder die water.

Dis veral die stilte, verlatenheid en oopte van dié landskap wat uitstaan. Anders as die stad is hier geen geboue wat ’n mens se uitsig op die horison belemmer nie, geen verkeer, geen gedruis, en geen besoedeling nie. Dis asof die Groot Karoo spesiaal ontwerp is vir stadsjapies wat smag na sielerus! LekkeSlaap het 7 bekoorlike kothuise buite Graaff-Reinet ontdek waar rus en vrede gewaarborg is. Ons weet ook van 7 opwindende doendinge vir besoekers wat hierdie oerlandskap wil verken …

Vreedsame Verblyf

Blaauwater Farm Guest house

Dié pragtige skaapplaas aan die voet van die Lootsberge is al vir generasies in die Kingwill-familie se besit. Verken die pragtige vlaktes te voet of bring jou bergfiets en ry die ou Lootsbergpas vir ’n uitsig uit die boeke!

Afstand vanaf Graaff-Reinet: 59 km
Slaapplek: 4 in woonstel en 8 in huis
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Braaiplek
Doendinge: Voetslaan en bergfietsry

Wat sê die ander LekkeSlapers?

“Baie netjies en ons het heerlik uitgerus! Dankie vir al julle gasvryheid Liezl.” – Elmarie M

Waterval Farm-Stay

Kom uit onder die radar op hierdie skilderagtige plaas. So skaars soos wat selfoonsein op dié plaas is, so volop is die sterre saans. Die 4 kothuisie op die plaas is gemáák vir natuurliefhebbers wat smag na ’n wegbreek ver van die stad se gedruis!

Afstand vanaf Graaff-Reinet: 35 km
Slaapplek: 2 – 5 per kothuis
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Kaggel in herdershuisie
Doendinge: Voetslaan

Wat sê die ander LekkeSlapers?

“Regte plaaskuier in rustige en afgesonderde omgewing.” – Elmarie A

Karoo Eco Reserve

Karoo Eco Reserve is hoog in die Sneeuberge geleë en spog met ’n asemrowende uitsig op Kompasberg. Al die kothuise maak uitsluitlik van sonkrag en gas gebruik. Bring jou stapstewels of jou bergfiets en verken die omgewing, of bespreek ’n wildrit in die reservaat!

Afstand vanaf Graaff-Reinet: 46 km
Slaapplek: 5 per kothuis
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Braaiplek
Doendinge: Wildritte, voetslaan, bergfietsry

Wat sê die ander LekkeSlapers?

“’n Plek om jouself te vind. Mens moet meer as een aand daar deurbring om die omgewing ten volle te ervaar en te geniet.” – Piet P

Langfontein Guest Farm

Langfontein se skilderagtige kliphuisies dateer uit 1860. Die huisies is gerestoureer op ’n manier wat die atmosfeer van ’n vervloë era vasvang sonder om luuksheid in te boet. Sit rustig op die stoep met ’n beker boeretroos of bring jou bergfiets en pak die uitstekende roetes aan.

Afstand vanaf Graaff-Reinet: 50 km
Slaapplek: 2 – 12 per kothuis
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Kaggel, Victoriaanse bad
Doendinge: Voetslaan

Wat sê die ander LekkeSlapers?

“Pragtige ligging, gasvrye mense en baie lekker verblyf! Ons was al 2 keer daar!” – Anna-lize P

Mount Camdeboo Private Game Reseve

Elke gas wat by hierdie Kaaps-Hollandse huis aan die voet van die Sneeuberge aanklop, word bederf met ’n persoonlike safari in ’n streek wat ryk is aan geskiedenis en kultuur. Mount Camdeboo is ook bekend vir heerlike, tradisionele Karoo-kookkuns en die jagluiperds, witrenosters, Kaapse buffels, kameelperde, bergsebras, wildekatte, swartwitpense, en roofvoëls wat in dié reservaat gewaar kan word.

Afstand vanaf Graaff-Reinet: 59 km
Slaapplek: 2 – 6 per eenheid
Tipe: Alles ingesluit
Spesiale geriewe: Spa
Doendinge: Safari’s

Wat sê die ander LekkeSlapers?

“’n Mens moet ver soek om so ’n wonderlike plek te vind! Absolute professionele en aandagtige personeel. Ons het twee fantastiese dae hier geniet en sal definitief terugkeer.” – Dino R

Osfontein Gastehuis

By Osfontein het jy ’n hele plaas vir net jouself! Sonder elektrisiteit en selfoonsein sal jy nie anders kan as om jouself oor te gee aan die rus en vrede van die Groot Karoo nie. Saans kan jy snoesig voor die kaggel ontspan en bedags kan jy die eindelose vlaktes verken.

Afstand vanaf Graaff-Reinet: 40 km
Slaapplek: 10
Tipe: Selfsorg met yskas en braaiplek
Spesiale geriewe: Braaiplek
Doendinge: Voetslaan 

Wat sê die ander LekkeSlapers?

“Ons kies altyd interessante plekkies en Osfontein was net dit. Ek sal sommer self daai huis koop met sy outydse argitektuur. Net een opmerking – met dié dat daar nie krag was nie, is die kerse bietjie van ‘n risiko vir klein kindertjies. Gas- of olielampe sal dalk ‘n goeie idee wees. Daar was wel batteryflitse, maar dit hou nie, en as jy nie in dorp toe ry om te gaan koop nie het jy nogal ‘n probleem. Andersins was dit perfek. Andoret was altyd gewillig om te help. Die kinders kon heerlik rondhardloop op die omheinde plaaswerf sonder dat ons ons hoef te bekommer het.” – Christopher F

Pienaarsbaken Farm Cottages

Pienaarsbaken is aan die voet van die Lootsberg in die Bergsebra-Kamdebo Bewarea. Die skaduryke plaaswerf spog met ’n swembad en jou vierpotige vriend is ook welkom, mits dit vooraf gereël word. Die puik binnenshuise braaiplekke is gemáák vir ’n skaaptjoppie!

Afstand vanaf Graaff-Reinet: 56 km
Slaapplek: 4 per eenheid
Tipe: Selfsorg met kombuisgeriewe
Spesiale geriewe: Swembad
Doendinge: Voetslaan, wildkyk

Wat sê die ander LekkeSlapers?

“Baie dankie vir ‘n lekker plaaskuier. Die stap in die veld en mak elande wat ons gevolg het was ‘n bonus.” – Andrea P

Doendinge

Eetplekke

 

Graaff-Reinet is ’n lushof vir smulpape. Benewens die befaamde Karoo-lam wat sy heerlike geur aan die Karoobossies te danke het, is dié kontrei ook bekend vir melktert, koeksisters, gemmerbier, beskuit en wildsvleis. Moenie die pad huis toe vat voor jy ’n fillet-trio, bestaande uit springbok, bees en volstruis, beproef het nie. Klop gerus aan by:

De Camdebo Restaurant@Drostdy Hotel vir stewige lamsgeregte wat met net die beste plaaslike bestanddele voorberei word. | ☎ 049 892 2162

Muller House vir heerlike pork belly en crème brûlée. | ☎ 072 420 5473

The Coldstream Restaurant vir heerlike Karoolam, volstruis-steak, en boerewors. | ☎ 049 891 1181

Polka Restaurant, Coffee Shop, Bakery & Deli vir watertand lamskenkel en bobotie, en kyk uit vir tuisgemaakte konfyt en fudge in die deli. | ☎ 087 550 1363

The Blue Magnolia Coffee Shop & Nursery vir varsgebakte koeke en Illy-koffie. | ☎ 049 891 0792

Our Yard Roastery & Cultural Shop vir puik wyn, boetiekbier, en fênsie jenewer. | ☎ 071 870 5081

Kuns

Wat kuns aanbetref het Graaff-Reinet iets vir almal: Van pragtige skilderye en beeldhouwerk tot rotskuns wat ’n mens wegvoer na duisende jare gelede. Dis onmoontlik om hierdie dorpie te verlaat sonder om ’n stukkie kuns of ’n handwerkartikel huis toe te neem. Bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars se werk is by die Hester Rupert Museum van Kontemporêre Kuns en die Jan Rupert Kunssentrum te siene. Die dorp se pragtige argitektuur en sonderlinge natuurtonele is natuurlik ook ideaal vir fotograwe wat sélf ’n stukkie skoonheid wil vasvang.

Paleontologie

In 1822 het die bekende paleontoloog Andrew Geddes Bain ’n reuse-kakebeen met tande hier ontdek. Die “Blinkwater Monster” en al die ander fossiele wat hier ontdek is, vertel van ’n ononderbroke fossielrekord tussen 240 en 190 miljoen jaar gelede toe hierdie omgewing ’n massiewe binnelandse see was. Gaan maak gerus ’n draai by die Ou Biblioteek Museum, Graaff-Reinet se Toerismeburo, Kitching Fossielsentrum in Nieu-Bethesda, en Wellwood Plaas om hierdie gediertes se beendere van nader te aanskou.

Doendinge vir die jongspan

Bederf die jongspan met ’n uitstappie na die Reinethuis. Die eerste Suid-Afrikaanse Popversameling en wapens uit die Suid-Afrikaanse Oorlog word hier uitgestal. Heelparty gasteplase in die omgewing stel kinders bloot aan die daaglikse aktiwiteite op ’n tipiese Karooplaas en uitstappies in die veld lewer gereeld fossiele of dinosaurusvoetspore op!

Erfenis

Graaff-Reinet is in 1786 gestig en is vernoem na Jacob van de Graaf en sy vrou Cornelia Reynet. Te danke aan Die Groot Trek, politieke opwellings, grensoorloë, en talle bekende figure wie se lewensverhale nou verbind was met hierdie omgewing, loop dié dorp oor van erfenis en geskiedenis. Lord Somerset, Robert Sobukwe, Beyers Naudé, Dr. Anton Rupert, en Anna Neethling Pohl het diep spore in dié dorp getrap.

Sit ’n uur opsy om die erfenisroete te verken. Dit begin by die Drostdy Hotel in Parsonagestraat en loop verby John Rupert Little Teater, Urquhart Huis, en Te Water Huis tot by die Hester Rupert Kunsmuseum. Hou langs die pad jou oë oop vir die unieke argitektoniese eienskappe van die huisies op die dorp ─ die deure is reg in die middel met ewe veel vensters aan altwee kante, die vensters is klein en baie naby die buitekant van die mure ingemessel om breë vensterbanke te vorm, die dakvensters sorg vir lig in die gang, en die vensterluike is ontwerp om die Karoo-hitte buite te hou.

Vallei van Verlatenheid

Dié vallei is 14 km vanaf Graaff-Reinet op die R63 na Murraysburg. Pierneef het hierdie skouspelagtige vallei in ’n skildery verewig en dit is in 1935 as nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Ruim genoeg tyd in om ’n hele rukkie hier te vertoef ─ tuur in die verte en voel hoe die beklemming van die stad uit jou syfer.

Sit ’n bietjie afstand tussen jou en die stad. Bederf jouself met ’n paar dae se rus en vrede in die Groot Karoo!

 

Hooffoto: Blaauwater Farm Guest House. Al die ander foto’s is van LekkeSlaap-instansieprofiele tensy anders vermeld.