In Tamil is dit kari, in Engels rym dit met hurry en volgens baie Boere móét dit by ʼn kerkbasaar saam met Tastic-rys bedien en met gemmerbier afgesluk word. Maar as ʼn mens bietjie in die verlede gaan delf of bereid is om ʼn entjie te ry, besef ʼn mens gou kerrie kom al ʼn ver pad en het meer gesigte as ʼn gladdebek-verkoopsman.

Charles Haynes (flickr)

Die Indiërs het eeue gelede al ontdek dat die beste driemanskap in enige sous uit koljander, komyn en borrie bestaan. Hoewel ʼn mens hierdie speserye baie doeltreffend op hul eie kan gebruik, lê die smaakgeheim in hul samewerking en die meeste kerriepoeiers bevat ʼn kombinasie van hierdie drie speserye. Enige iemand kan ʼn pakkie Rajah by Shoprite gaan koop en oor ʼn pruttende bredie gooi, maar die eintlike toorkuns lê opgesluit in die wyse waarop gemmer, brandrissies, kardemomsade, neutmuskaat en kaneel gebruik word om die geur aan te vul en uit te brei. Hierdie “tweede linie” dra ekstra vuurkrag en smaak by en as jy dié speserye lank genoeg in ʼn pot los om dinge uit te spook, is die eindresultaat ʼn lus vir ál jou sintuie.

Die Maleiers se kerrie het ʼn bietjie minder vuur as die Indiërs s’n. Die basis van ʼn tipiese Maleisiese kerrie sluit borrie, salotuie, gemmer, brandrissies en knoffel in, maar die meeste Suid-Afrikaners ken die Kaapse weergawe waarskynlik beter. Dié warm Kapenaar is ʼn fees van kleurryke groente, vleis of vis en hope vrugtegeure – die smaak-ekwivalent van die helderkleurige huisies in die Bo-Kaap. As ʼn mens eers eenmaal ʼn behoorlike Kaap-Maleise kerrie geproe het, is dit baie moeilik om nie aan basaarkerrie te dink as ʼn baie valer sussie uit dieselfde familie nie.

Teen dié tyd is jou mond seker al aan die water van die foto’s, tog is dit tydsaam om self te probeer kook en die eindresultaat lyk nie áltyd soos die foto’s in Jamie’s Dinners nie. So, maak eerder ʼn draai by een van die volgende sakpas-kerrieplekke en stook hierdie winter ʼn Indiese vuur aan jou binnekant om die koue buite te hou!

Johannesburg:

Greenside: Spiceburg; Gleneagles Weg 10; 011 4862255

Linden: Banjaara; Op die hoek van 4de Laan en 7de Straat; 079 520 4426

Ferndale: The Curry Palace; Op die hoek van die hoofpad en Oxfordstraat; 011 781 6750/1

Pretoria:

Brooklyn: Little Durban Food and Spices; Bronkhorst Straat; 012 460 8838

Arcadia: Oriental Palace; Schoemanstraat 410; 012 322 2195

Bloemfontein:

Westdene: The Raj; Henrystraat 105; 051 430 1527

Durban:

Tongaat: Sea Belle; South Beach Road; 032 941 5551

Springfield: Goundens; Eatonstraat 39; 031 205 536

Middestad: Capsicum Restaurant; Umgenistraat 1299; 031 303 2266

Port Elizabeth:

Humewood: Raasoie; Winkel no. 9; Dolphins Leap Complex; Beach Road; 041 582 3981

Summerstrand: Hungry Peter; Winkel no. 11; The Boardwalk Hotel and Casino; Beach Road

Kaapstad:

MiddestadIndia Food Inn; Langstraat 156; 021 422 5060

Middestad: Eastern Food Bazaar; Darlingstraat 96; 021 461 2458

Bo-Kaap: Bo-Kaap Kombuis; August Straat 7; 021 422 5446

 Eet kerrie soos ‘n kenner:

  •  Bestuur die temperatuur – bestel die Butter Chicken as jy hou van Jurie Els se musiek en vra vir Lamb Vindaloo as jy soggens op die maat van Fokofpolisiekar werk toe ry. Vra vir die kelner hoeveel vuur in die ander disse skuil.
  • Wees wys, bestel naan in plaas van van rys (naan is geurige platbrood met ʼn digte tekstuur wat in die sous gedoop word).
  • Bestel ʼn lassi as die rook by jou mond en ore begin uitborrel (lassi is ʼn heerlike jogurt-melkskommel en dis die beste lafenis vir ʼn brandbek).

Waar eet jy graag kerrie? Laat weet ons!

Bronne: WEG! (1 Mei 2011)